Jabes (2)

2018-05-02
1 Kronieke 4:10 NLV

Jabes het gebid dat God hom op drie spesifieke maniere moet seën: 1) ‘…vergroot my grond…’ Hy het ‘n droom gehad om meer grond te besit en hy het vir God gevra om daardie droom te seën. Wanneer jy ophou droom, verloor jy rigting. Wanneer jy ophou om doelwitte vir jouself te stel, hou jy op groei. Jy moet iets hê waarna jy reik. Solank as wat jou horison vergroot, sal jy geestelik en emosioneel gesond wees. 2) ‘…Wees asseblief met my in alles wat ek doen…’ Jabes het besef dat hy meer verantwoordelikheid sou hê as sy grond vergroot word. Hy sou meer druk en meer eise ervaar en hy sou God se hulp in sy lewe nodig hê. Dus het hy vir God gevra om by hom te wees. Wanneer jy vir God se teenwoordigheid in jou lewe vra, kan jy seker wees dat Hy sal antwoord. 3) ‘…bewaar my van moeilikheid en pyn…’ Jabes het vir God vir beskerming gevra. Hoekom? In daardie dae was jy ‘n groter teiken hoe meer grond jy besit het, hoe meer invloed jy gehad het en hoe bekender jy was. Dis nog steeds so vandag. Hoe suksesvoller jy is, hoe meer kritiek sal jy kry. Hoe meer grond jy besit, hoe meer sal vyande jou aanval. Hoe nader jy aan God groei en hoe sterker jy as Christen word, hoe meer sal die duiwel jou teister, omdat hy nie wil hê dat jy moet groei nie. Jy kan egter seker wees, soos Jabes was, dat jy met God se beskerming niemand of niks hoef te vrees nie. Wil jy bo middelmatigheid uitstyg? Bid dan die gebed wat Jabes gebid het.

Sielskos: Deut 1-2; Mark 6:1-6; Ps 35; Spr 11:19-21