‘Here, wat moet ek doen?’ (1)

2017-12-03
Psalm 119:105 NLV

Wanneer jy bid, ‘Here, wat moet ek doen?’ kan Hy op verskeie maniere reageer. Kom ons kyk oor die volgende paar dae na ‘n paar daarvan. Hy sal jou deur sy Skrif antwoord. In plaas van om enigeen in die omtrek vir leiding te vra, gaan na God toe. Maak sy Woord jou eerste opsie, eerder as jou laaste uitweg. Die Psalmdigter het geskryf, ‘U woorde is ‘n lamp vir my voete en ‘n lig op my pad.’ Sonder ‘n gereelde daaglikse inname van God se Woord, sal jy in die duister bly oor wat die beste vir jou is en die rigting wat jy moet inslaan. ‘…Wat Ek sê, gebeur altyd. Dit sal nie verder uitgestel word nie…’ (Esegiël 12:25 NLV). As God dit in sy Woord sê, kan jy daarop staatmaak. Daar is bevele in die Skrif, maar God het ons hoofsaaklik beginsels daarin gegee waarvolgens om te lewe. Hierdie beginsels benodig wysheid en oordeelkundigheid. Die Psalmdigter het gesê, ‘Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op u gebooie’ (Psalm 119:66 NLV). Dit beteken nie dat jy ‘n spesifieke vers vir elke besluit en aksie wat jy maak, moet hê nie. Die meeste kere wat jy God vir leiding vra, sal Hy vir jou ‘goeie oordeel en kennis’ gee, wat genoeg is om jou in die regte rigting te stuur. Sal jy soms vrees ervaar? Ja, maar dis dan wanneer jy jou geloof moet gebruik! Jou grootste oomblikke van helderheid rakende God se wil, gebeur dikwels wanneer jy terugkyk, nie vorentoe kyk nie. Dis wanneer jy terugkyk na hoe God jou gelei het, wat jy kan sê, ‘…Nie een woord van al die goeie beloftes wat Hy… gegee het, het onvervuld gebly nie’ (1 Konings 8:56 NLV).

Sielskos: 1 Kon 17:1-7; 1 Kon 18:41-46; Mark 4:35-41

Wanneer God jou roep

2017-07-26
Jesaja 48:15 NLV

God het vir Jeremia gesê, ‘…Voor jou geboorte al het ek jou gekies en aangestel…’ (Jeremia 1:5 NLV). Wanneer God besluit om jou te gebruik, gebeur vyf dinge: Eerstens is daar ‘n oproep. God roep gewone mense om ongewone dinge te doen, soos Petrus wat uit die boot geklim en op die water geloop het. Tweedens, is daar vrees. Toe God vir Moses geroep het om na Farao te gaan, het Moses geprotesteer deur te sê dat hy nie ‘n goeie spreker is nie. Derdens, is daar gerusstelling. Josua se broek moes omtrent gebewe het toe hy daaraan gedink het dat hy Moses se plek moes inneem, dus het God vir hom gesê. ‘…Soos wat Ek by Moses was, so sal Ek ook saam met jou wees…’ (Josua 1:5 NLV). Vierdens, is daar ‘n besluit. Soms sê ons ja vir God en soms nee. Wanneer ons ja sê lewe ons met vreugde; wanneer ons nee sê verbeur ons daardie vreugde. Daar is egter altyd ‘n keuse. Vyfdens, is daar ‘n veranderde lewe. Diegene wat vir God ja sê, se optrede is nie perfek nie. Omdat hulle egter ja sê, leer hulle en groei selfs uit hulle mislukkings. Diegene wat vir God nee sê verander ook; hulle word ‘n bietjie harder, ‘n bietjie weerstandig teen God se roeping en sê makliker die volgende keer nee. Roep God jou? Miskien het dit te doen met jou werk, jou verhoudings, jou geld of jou grootste vrees. God se roep sal tot die kern van wie jy is en wat jy doen, spreek. Om ja vir Hom te sê, is die beste besluit wat jy ooit sal maak.

Sielskos: Sef 1-3; Mat 27:45-56; Ps 46; Spr 19:18-20

Moenie dat vrees jou keer nie

2017-07-02
2 Timoteus 1:6 NLV

Moenie dat vrees jou jou talente en vaardighede laat wegsteek nie. ‘n Christelike skrywer het gesê: ‘God verwag van ons om die meeste te maak van dit wat Hy ons gee… om ons harte aan die brand te hou, ons karakter en persoonlikheid te laat groei en ons ervaringe te verbreed sodat ons meer effektief sal wees. Paulus het aan die mense in Filippi gesê, ‘Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word deurdat julle ‘n al beter begrip en ‘n fyn aanvoeling ontwikkel’ (Filippense 1:9 NLV). Hy het ook vir Timoteus gesê, ‘Moenie die geestelike gawe verwaarloos wat jy ontvang het [nie]… Werp jouself in jou werksaamhede…’ (1 Timoteus 4:14-15 NLV). Blaas jou geestelike gawe soos ‘n vuur aan. Wanneer jy nie jou spiere oefen nie, verswak en kwyn hulle weg. Wanneer jy nie die vaardighede wat God jou gegee het gebruik nie, gebeur dieselfde. Met verwysing na die slaaf wat as gevolg van sy vrees sy muntstuk begrawe het, het Jesus gesê, ‘…Vat die muntstuk by hom en gee dit vir die een wat tien muntstukke het’ (Matteus 25:28 NLV). Moenie bang wees nie. Wanneer jy jou gawes en vaardighede aan die werk sit, word hulle deur oefening ontwikkel. Deur studie, terugvoer en oefening, kan ‘n goeie onderwyser ‘n beter onderwyser, en met tyd selfs ‘n puik onderwyser word. Daag jouself uit. Leer soveel as wat jy kan. ‘Werk hard sodat God jou kan goedkeur…’ (2 Timoteus 2:15 NLV). Gryp elke geleentheid aan om jou vaardighede te ontwikkel en op te skerp. Onthou, in die hemel gaan ons God vir ewig dien en ons berei onsself daarvoor voor deur hier op aarde te oefen. Soos atlete wat vir die Olimpiese Spele voorberei, oefen ons vir die groot dag.’

Sielskos: Eks 34:29-35; Mark 9:2-27; 2 Kor 3:7-18