Verstaan jou kind
2018-11-14Psalm 139:15 DB
Die Psalmdigter het geskryf: ‘Daar is nie ‘n been in my wat uit sy plek is nie. U ken my totaal. Alles is soos U dit wil hê. U het my gemaak. Toe ek grootgeword het, het U vir my gesorg. U beheer ook my hele lewe. Nog voordat ek mens geword het, het U my al beplan. U het my lewe toe al in u hand gehou. En U het besluit wat met my sou gebeur’ (verse 15-16 DB). God het reeds jou kind se potensiaal bepaal, dit is nou jou werk om hom of haar te help om dit te ontdek en te ontwikkel. Jy sal dit in hulle temperament, hulle gawes en hulle belangstellings sien. Weerstaan die versoeking om al jou kinders op dieselfde manier te behandel; hulle verskil van mekaar! Kaïn was ‘n boer en Abel was ‘n skaapwagter. Jakob en Esau was ‘n tweeling, maar hulle kon nie meer verskillend gewees het nie. Jy moet elkeen van jou kinders onvoorwaardelik liefhê, maar hulle individueel ontwikkel. Wie is hulle? Waarvan hou hulle? Waarin behaal hulle sukses? Hoe hanteer hulle verandering? Hoe tree hulle op wanneer hulle alleen is? Begin om te luister na dit wat jou kinders kosbaar vind, dit wat hulle vrees en dit wat hulle benodig. Maak seker dat hulle geestelik in God se Woord geanker is. Moet hulle nie op die pad forseer wat jy gewens het hulle moet stap nie. As dit beteken dat jy vir ‘n tydperk jou eie drome op ys moet sit, doen dit. Jy sal nooit daaroor spyt wees nie. Die bome wat ons vandag plant produseer die vrugte wat ons môre sal eet. Bid dus en vra vir God om jou te help om jou kind te verstaan.
Sielskos: Rom 7:1-9:16; Joh 10:11-21; Ps 83:1-8; Spr 29:19-22