Moenie ‘n sentimeter aan vrees toegee nie

2019-03-30
Psalm 118:6 NLV

Jy sal altyd vrees in een of ander vorm moet hanteer. Jou vrese sal ook verskil in jou verskillende lewenseisoene. Sodra jy dit aanvaar, kan jy vooruitgang maak. Julius Ceasar het byvoorbeeld die wêreld oorwin, maar hy was bang vir donderweer. Petrus die Grote van Rusland, het soos ‘n kind gehuil wanneer hy brûe moes oorsteek. Die gevierde Britse skrywer, dr Samuel Johnson, moes met sy linkervoet ‘n kamer binnegaan. As hy per ongeluk sy regtervoet gebruik het, het hy uitgegaan en weer met sy linkervoet binne gekom. (Praat van jou beste voetjie voorsit!). As jy toelaat dat vrees jou beheer, sal vrees jou daarvan weerhou om jou lewe ten volle uit te leef. Vrees teel onaktiwiteit, onaktiwiteit teel gebrek aan ervaring, gebrek aan ervaring teel onkunde en onkunde teel vrees. As jy in hierdie siklus vasgevang is, is hier ‘n paar Skrifgedeeltes wat jou kan help: 1) ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV). 2) ‘Ek laat vir julle my vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). 3) ‘As die Here gelukkig is met die manier waarop iemand lewe, sal Hy selfs sy vyande in vrede met hom laat lewe’ (Spreuke 16:7 NLV). 4) ‘…in God is my vertroue; ek sal nie vrees nie. Wat kan mense aan my doen?’ (Psalm 56:5 NLV). 5) ‘Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Verpersoonlik hierdie Skrifgedeeltes in gebed, steun op hulle en moenie ‘n sentimeter aan vrees toegee nie.

Sielskos: Lev 5-7; Luk 20:27-33; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6

Besoek deur ‘n engel

2019-02-18
Hebreërs 13:2 NLV

Eendag was Debby Gass besig om deur Nevada te ry, toe haar sportmotor sonder petrol gaan staan het. ‘n Jong vrou, alleen in ‘n klein karretjie, op ‘n hoofweg in die woestyn sonder enigiemand in die omtrek – dit het al die elemente van ‘n riller gehad. Kort daarna het daar toe ‘n groot vragmotor by haar gestop en die drywer het gevra, ‘Kan ek jou help, dame?’ Toe sy haar verknorsing aan hom verduidelik, het hy gesê dat sy haar kar moet sluit en saam met hom na ‘n petrolstasie ‘n paar kilometer verder moes ry. Die stem van God binne-in Debby, ‘n stem wat sy geleer het om te vertrou, het gefluister, ‘Gaan saam met hom.’ Soos hulle saam weggery het, het die man haar vertel dat hy in die tronk was, vir Christus ontmoet het en dat sy lewe radikaal verander het. Hy het haar foto’s van sy vrou en familie gewys. Toe hulle weer by haar kar kom, het hy ‘n kan petrol in haar tenk gegooi, haar gegroet en weer gery. Toe het dit gebeur! Net toe Debby haar kar omdraai om te ry – op ‘n hoofweg met ‘n duidelike uitsig kilometers ver in beide rigtings – was sy vragmotor skoonveld. In ‘n oogwink het ‘n veertig-ton drywer en sy bestuurder net so verdwyn! Die Bybel sê: ‘…Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef het, selfs engele tuis ontvang!’ Debby is oortuig dat God vir haar ‘n engel gestuur het om haar daardie dag te help. Wat dink jy? Baie van ons het soortgelyke verhale, maar ons deel hulle nie met ander mense nie. Miskien is dit die vrees vir kritiek. Of miskien is dit omdat ons nie tot heelwat later besef dat ons inderwaardheid deur ‘n engel besoek is nie!

Sielskos: Gen 42-43; Luk 10:25-37; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14

Rig jou gedagtes (3)

2019-02-08
Romeine 8:6 NLV

Sodra jy tot ‘stink gedagtes’ ingee, versuur jou bui, verloor jy energie, voel God ver, voel gebed nutteloos, lyk sonde aanloklik en word jou lewensuitkyk somber. Wanneer dit gebeur, word jy so gefokus op hoe jy voel, dat jy nie besef dat dit jou denke is wat veroorsaak dat jy so voel nie. Kyk na Elia die profeet. Die hoogtepunt van sy loopbaan was toe hy vuur uit die hemel laat afkom het en die profete van Baäl verslaan het. Dit was ‘n yslike oorwinning! Toe het koningin Isebel ‘n boodskap na Elia toe gestuur: ‘Jy het my profete doodgemaak. Raai wat? Ek gaan jou nou doodmaak’ (sien 1 Konings 19). Elia het toe kop eerste in vrees ingeduik. Hy het waardeloos gevoel: ‘…ek is niks beter as my voorouers nie’ (vers 4 NLV). Hopeloos: ‘Elia… het gevlug’ (vers 3 NLV). Geïsoleerd: ‘…Net ek alleen het oorgebly…’ Nie in staat om dit te hanteer nie: ‘…Ek het nou genoeg gehad…’ (vers 4 NLV). Hy wou doodgaan: ‘…Neem nou maar my lewe…’ (vers 4 NLV). Hoe het God op Elia gereageer? Op vier eenvoudige maniere: 1) Hy het hom gehelp om ordentlik te eet en genoeg rus te kry. 2) Hy het met Elia in ‘n ‘sagte fluistering’ (vers 12 NLV) gepraat om hom gerus te stel en hom moed te gee. 3) Hy het Elia verseker dat hy nie alleen is nie: ‘Nogtans sal Ek 7 000 in Israel laat oorbly, hulle wat nie voor Baäl gebuig en hom vereer het nie’ (vers 18 NLV). 4) Hy het vir hom nog ‘n opdrag gegee om te vervul. Daar sal altyd ‘n ‘Isebel’ wees wat dreig om jou beste pogings ongedaan te maak en jou af te breek. Die sleutel is om jou gedagtes te beheer!

Sielskos: Gen 24:1-25:18; Luk 9:1-17; Ps 134; Spr 4:5-13

Gee jou kinders selfvertroue

2019-02-05
Spreuke 22:6 DB

Die joernalis William Hodding Carter het geskryf: ‘Daar is net twee blywende erflatings wat ons kan hoop om vir ons kinders te gee. Een is wortels; die ander een is vlerke.’ Kinders wat weet dat hulle ouers hulle onvoorwaardelik liefhet, het wortels. Gevolglik is hulle dus in staat om teen enigiets wat die lewe hulle mee gooi, op te staan. Op dieselfde manier, wanneer jy in jou kinders selfvertroue aanwakker en hulle aanmoedig om te droom, gee jy vir hulle vlerke. Enige tyd wanneer kinders die wil om te wen gegee word, is hulle al klaar halfpad op die pad na sukses. As jy hulle egter daarsonder laat grootword, is hulle reeds halfpad op pad na mislukking. Dit beteken dat jy as ouer geloof in jou kind moet demonstreer, sodat hulle kan leer om geloof in hulself te hê. Elke kind het binne-in hom ‘n God-gegewe saadjie vir grootheid en wanneer jy hom of haar laat weet dat jy in hulle glo, gee jy daardie saadjie die geleentheid om te groei. Het jy al agtergekom hoe mense in ooreenstemming met jou verwagtinge presteer of misluk? Wanneer jy aanhoudend jou kinders kritiseer, sal hulle negatief en vol vrees grootword en aan hulself twyfel. As jy egter in hulle glo en aanneem dat hulle goed sal doen, sal hulle die ekstra pad stap om aan jou verwagtinge te voldoen. Dis jou geloof in hulle wat die omgewing skep waarin hulle leer om te vlieg! As jy vir hulle geld gee, sal hulle dit spandeer. As jy vir hulle hulpbronne gee, sal hulle dit mors. As jy egter vir hulle geloof in God en hulself gee, is die kans goed dat hulle in die lewe sal uitblink.

Sielskos: Gen 13-16; Luk 8:16-25; Ps 120; Spr 3:33-35

Hy stuur jou nie; Hy neem jou

2019-01-06
Deuteronomium 31:6 NLV

Daar is ‘n verhaal van ‘n klein seuntjie wat vir die donker bang was. Een aand het sy ma hom gevra om die mop op die agterstoep te gaan haal. Sy het gesê: ‘Het ek nie nog altyd vir jou gesê dat daar niks in die donker is om voor bang te wees nie?’ Hy het gesê: ‘Ja, Mamma, maar moet my asb nie stuur om die mop te gaan haal nie.’ Sy het geantwoord: ‘Seun, weet jy nie dat Jesus altyd by jou sal wees nie? Weet jy nie dat daar niks is waarvoor jy hoef bang te wees nie?’ Hy het geantwoord: ‘Ja, Mamma.’ Dus het sy gesê: ‘Nou goed, gaan gou buitentoe en gaan haal vir my die mop.’ Hy het die agterdeur op ‘n skrefie oopgemaak, sy hand uitgesteek en gefluister: ‘Jesus, sal U asseblief vir my daardie mop aangee?’ Dis normaal om bang te voel wanneer jy probeer om iets te doen wat jy nog nooit vantevore gedoen het nie. Wanneer jy gevra word om ‘n werk te doen waarvoor jy ongekwalifiseerd voel, of wanneer jy iets aanpak waarin jy vroeër misluk het, is dit normaal om bang te voel. Dis egter wanneer jy die ding doen wat jy vrees, dat jy groei en dat jou vertroue in God groei. Vandag sê God vir jou: ‘Wees sterk en hou moed! Moenie vir hulle bang wees nie! Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.’ God bly by jou, waar jy ook al gaan. Dit behoort jou te motiveer om enige plek te gaan waarheen Hy jou stuur. Die waarheid is dat wanneer God jou sê om te gaan, stuur Hy jou nie êrens heen nie, Hy neem jou soontoe.

Sielskos: 2 Kro 7:12-16; Matt 6:5-15; Luk 18:1-8