Moenie ‘n sentimeter aan vrees toegee nie

2019-03-30
Psalm 118:6 NLV

Jy sal altyd vrees in een of ander vorm moet hanteer. Jou vrese sal ook verskil in jou verskillende lewenseisoene. Sodra jy dit aanvaar, kan jy vooruitgang maak. Julius Ceasar het byvoorbeeld die wêreld oorwin, maar hy was bang vir donderweer. Petrus die Grote van Rusland, het soos ‘n kind gehuil wanneer hy brûe moes oorsteek. Die gevierde Britse skrywer, dr Samuel Johnson, moes met sy linkervoet ‘n kamer binnegaan. As hy per ongeluk sy regtervoet gebruik het, het hy uitgegaan en weer met sy linkervoet binne gekom. (Praat van jou beste voetjie voorsit!). As jy toelaat dat vrees jou beheer, sal vrees jou daarvan weerhou om jou lewe ten volle uit te leef. Vrees teel onaktiwiteit, onaktiwiteit teel gebrek aan ervaring, gebrek aan ervaring teel onkunde en onkunde teel vrees. As jy in hierdie siklus vasgevang is, is hier ‘n paar Skrifgedeeltes wat jou kan help: 1) ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV). 2) ‘Ek laat vir julle my vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). 3) ‘As die Here gelukkig is met die manier waarop iemand lewe, sal Hy selfs sy vyande in vrede met hom laat lewe’ (Spreuke 16:7 NLV). 4) ‘…in God is my vertroue; ek sal nie vrees nie. Wat kan mense aan my doen?’ (Psalm 56:5 NLV). 5) ‘Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Verpersoonlik hierdie Skrifgedeeltes in gebed, steun op hulle en moenie ‘n sentimeter aan vrees toegee nie.

Sielskos: Lev 5-7; Luk 20:27-33; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6