Lag meer!

2020-10-17
Psalm 126:2 NLV

God het elke menslike emosie wat jy voel, geskep. Hy het jou ontwerp om te huil wanneer jy hartseer is en te lag wanneer jy gelukkig is: ‘Daar is ‘n vaste tyd vir alles… ‘n Tyd om te huil en ‘n tyd om te lag…” (Prediker 3:1,4 NLV). Jesus het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (Johannes 15:11 NLV).

Vraag: Hoe gereeld lag jy? Dokters sê dat lag ‘n wonderlike genesende effek op jou liggaam het. Dit het ook wonderlike genesende effekte op jou gedagtes en siel. Stop en dink aan die dae wat jy gelag het, selfs al het jy nie regtig iets gehad om oor te lag nie. Jy was ver van God af en deur jou sondige gewoontes gebonde, maar Hy het jou vrygemaak, nie waar nie?

In die Ou Testament lees ons: ‘Toe die Here die bannelinge teruggebring het na Sion toe, was dit soos ‘n droom. Ons het gelag en van vreugde gesing. Die ander nasies het gesê: ‘Die Here het groot dinge vir hierdie mense gedoen.’ Die Here het groot dinge vir ons gedoen en ons is vol vreugde!’ (Psalm 126:1-3 NLV).

As God jou vrygemaak het, het jy waarlik iets om oor te lag. Hou op om so hard op jouself te wees – omdat jy nie perfek is nie, jou stadige groei in God, jou gebedslewe wat aandag kort, dat jy nie meer Skrifgedeeltes kan memoriseer nie, jou vrees om jou geloof met ander te deel, ens. Ons dra sulke swaar laste rond. Dis maklik om baie dinge te vind om oor bekommerd te wees, maar jy moet soms ‘n bietjie daaraan werk om gelukkig te wees. Die woord vir jou vandag is dus – lag meer!

Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 4:27-38; Ps 87; Spr 24:1-4

Klim uit jou boot uit

2020-06-30
Matteus 14:29 ABA

Matteus skryf: ‘…Petrus het uit die boot geklim, en toe het hy op die water geloop na Jesus toe.’ Vra jouself vandag drie vrae af: 1) Wat is my boot? Dit is dit wat jou jou grootste sin van sekuriteit gee. Dis waarop jy jou vertroue wil plaas wanneer die lewe stormagtig raak. Om uit te vind wat jou boot is, vra jouself af: ‘Wat is dit wat die meeste vrees in my veroorsaak, veral wanneer ek daaraan dink om dit agter te laat en in geloof uit te tree? 2) Wat weerhou my daarvan om uit my boot te klim? Vrees. Vrees vir mense, vrees vir mislukking, vrees vir kritiek, vrees vir te min. Om te groei, moet jy nuwe gebiede binnegaan en elke keer wanneer jy dit doen, sal jy vrees ervaar. Dit gaan nooit weg nie. Elke keer wat jy egter uit jou boot uitklim, word jy meer in staat om dit volgende keer weer te doen en begin jy besef dat dit nie die mag het om jou te vernietig nie. As Jesus dus vir jou sê: ‘Kom,’ begin loop. Hy sal nie toelaat dat jy verdrink nie. 3) Wat sal ek prysgee as ek in my boot bly? Jou lotsbestemming. Om te bereik wat jy nog nie bereik het nie, moet jy probeer wat jy nog nie probeer het nie. Sal daar risiko’s wees? Ja. Bofbal se beste kolwers misluk twee uit drie keer. Hulle weet egter dat indien hulle nie op die veld is nie, sal hulle nooit die vreugde ervaar om ‘n tuislopie te slaan nie. As jy in jou boot bly, sal jy uiteindelik daarin sterf; en wonder wat jou lewe kon gewees het as jy maar net gewillig was om uit jou boot te klim.

Sielskos: Jer 10-13; Luk 3:21-38; Ps 95; Spr 14:29-33

Wanneer jou kind buite beheer is

2020-06-08
Jesaja 54:13 AFR53

Min dinge kan jou hart so breek soos ‘n kind wat op dwelms is, of met die verkeerde vriende meng en by aktiwiteite wat hulle lewens kan vernietig, betrokke raak. Wat moet jy as ouer doen? Eerstens, moet jy vir hulle bid en God se beloftes oor hulle uitspreek. Jy mag dalk nie in staat wees om hulle te verander nie, maar God kan. Sy Woord sê: ‘En al jou kinders sal deur die Here geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.’ Wat as jou kind buite beheer is, maar nog in die ouerhuis bly? Dan het jy ‘n groot uitdaging wat God se hulp benodig. Soms is jou ‘probleemkind,’ ‘n kind met ‘n groot roeping en toekoms en Satan weet dit. God het ‘n roeping op hulle lewe geplaas en dis waaroor die stryd gaan! Jy het as ouer God se wysheid nodig wanneer dit by die volgende kom: 1) Om duidelike grense te stel met gepaste en konsekwente nagevolge. Die Bybel sê: ‘Tug is nodig! As ‘n kind toegelaat word om te doen net wat hy wil, loop dinge verkeerd. Dissipline verdryf stoutighede’ (Spreuke 22:15 DB). 2) Om die vrees te oorkom dat jou kind jou sal verwerp wanneer jy ‘n onpopulêre, maar wyse besluit maak. Satan sal jou probeer oortuig dat jy hulle sal verloor wanneer jy hulle dissiplineer. Die waarheid is dat jy hulle sal verloor indien jy hulle nie dissiplineer nie! Onthou: ‘Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Twee van die grootste wapens wat jy kan gebruik om Satan oor jou kind se toekoms te beveg, is gebed en deur vas op God se Woord te staan. As jy getrou aan God bly – sal jy wen.

Sielskos: Op 5-9; Mark 14:53-65; Ps 48; Spr 13:2-3

Wees vandag gereed

2020-04-20
Filippense 4:13 NLV

Die Bybel sê: ‘Moenie te veel praat oor wat môre kan gebeur nie. Jy weet glad nie wat môre gaan oplewer nie’ (Spreuke 27:1 NLV). Die waarheid is dat jy elke oggend wanneer jy wakker word, geen idee het wat daardie dag met jou gaan gebeur nie. Jy hoop vir ‘n dag sonder moeilikhede waar al jou verwagtinge en wense vervul sal word – maar jy weet uit ervaring dat dit nie altyd die geval is nie. Ons lewe in ‘n regte wêreld met regte probleme. Jou vyand, die Duiwel, bestaan regtig en hy werk op elke moontlike manier om ontmoediging, vrees en mislukking mee te bring. Met hierdie kennis het die Psalmdigter geskryf: “As die Here jou toevlug is… sal geen kwaad jou tref, en geen ramp naby jou tent kom nie. Want Hy sal sy engele beveel om jou te beskerm oral waar jy gaan… ‘Omdat hy My liefhet, sal Ek hom verlos; omdat hy my Naam ken, sal Ek hom beskerm. Hy sal roep, en Ek sal antwoord; in nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel. Ek sal hom ‘n lang lewe gee, en hy sal my verlossing sien'” (Psalm 91:9-16 NLV). Maak nie saak wat oor jou pad kom nie, jy moet vertrou dat wanneer dit arriveer, God jou die genade sal gee om dit te kan hanteer. Onthou, Satan is lief daarvoor om diegene wat in lyn vir God se seën is, aan te val. Dis hoekom Paulus geskryf het: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee.’ Innerlike krag is beter as uiterlike krag. Solank as wat jy innerlik sterk bly, kan jy enigiets wat uiterlik teen jou is hanteer en aanhou vorentoe beweeg. Wees dus vandag gereed.

Sielskos: Lev 26-27; Mark 2:13-22; Ps 103:1-12; Spr 10:13

Hoe om die lewe se gevegte te wen (1)

2020-02-17
2 Kronieke 20:12 NLV

Met God se hulp, het koning Josafat nie net een leërmag oorwin nie, maar drie! Sy oorwinning leer ons hoe ons die lewe se gevegte kan wen. Eerstens, identifiseer die vyand. Baie van ons het nie die vaagste benul wie die ware vyand is nie. Ons dink dis die persoon wat ons werk, ons eggenoot of ons geld wil wegneem. Baie keer is die vyand egter ons eie houding! Dis nie soseer dit wat gebeur wat ons onderkry nie, maar ons reaksie op die situasie. Voor jy op ‘n persoonlike vlak kan wen, moet jy eers die vyand identifiseer. Let op hoe Josafat gereageer het toe hy gehoor het dat ‘n groot leërmag teen hom opgetrek het. Hy was ‘baie ontsteld’ (verse 2-3 NLV). Dis ‘n tipiese menslike reaksie. Ons sien ‘n groot probleem en raak paniekerig en vreesbevange oor wat met ons gaan gebeur. Vrees is inderwaarheid nie net sleg nie, tensy ons dit op die verkeerde manier hanteer. Ons kan dit gebruik om ons te motiveer om die probleem te oorwin en ons nader aan God te bring. Dis wanneer ons moedeloos raak, tou opgooi, kwaad word en begin vra: ‘Hoekom ek, Here?’ wat vrees ons verslaan. As jy vandag in ‘n situasie is wat jou met vrees en angs vul, onthou – God reageer nie op behoefte nie; Hy reageer op geloof. Plaas dus vandag jou geloof in sy onwrikbare Woord en staan op sy belofte: ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV). Onwrikbare vertroue in God se Woord is wat sy hulp meebring.

Sielskos: Rom 9:17-11:36; Matt 14:22-36; Ps 149; Spr 4:25-27