Hanteer vrees (2)

2021-03-16
Genesis 3:10 NLV

Ons dink dat suksesvolle mense van vrees gevrywaar is. Niks kan egter verder van die waarheid af wees nie. Elke generasie in die geskiedenis het vrees ervaar. Die eerste mens wat God geskep het, was Adam en die eerste aangetekende woorde van Adam is as volg: ‘…Ek het U hoor aankom en kruip nou weg. Ek was bang omdat ek sonder klere is.’

Vrees is geneties; dis deel van die menslike natuur. Studies bevestig dat ons sewe grootste areas van vrees die volgende is: 1) finansies, 2) gesondheid, 3) kommer oor ons loopbane, 4) ouerskap, 5) familieverhoudings, 6) die bereiking van persoonlike doelwitte, en 7) die dood. Is jy in enige van hierdie areas angstig of vol vrees? Vrees kan ‘n vernietigende krag in jou lewe wees.

Een van die ou Engelse woorde vir vrees beteken ‘skielike aanval.’ Dit stem ooreen met ‘n ou Duitse woord vir vrees wat ‘hinderlaag of lokval’ beteken. Dis wat vrees doen; dit val ons aan en hou ons gevange.

Wat is dus die antwoord? Geloof in God! Vrees verswak, maar geloof versterk. Vrees neem gevange, maar geloof maak vry. Vrees verlam, maar geloof bemagtig. Vrees stel teleur, maar geloof bemoedig. Vrees maak siek, maar geloof genees. Daar word gesê dat die woorde ‘moenie bang wees nie,’ 366 verskillende kere in die Skrif aangeteken is. As dit die geval is, het God vir ons ‘n ‘moenie bang wees nie’ vir elke dag van die jaar gegee – en een vir ‘n skrikkeljaar! Hier is een van die Skrifgedeeltes: ‘…Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep, jy is Myne’ (Jesaja 43:1 NLV).

Vandag is God by jou en Hy belowe om jou in elke situasie waar voor jy te staan kom, te versterk en te lei.

Sielskos: Job 11-14; Matt 23:13-22; Ps 11; Spr 8:4-5

Hanteer vrees (1)

2021-03-15
Psalm 118:6 NLV

Gedurende die Groot Depressie het werkloosheid 25 persent van die Amerikaanse bevolking getref. Spaarrekeninge is deur banke wat ineengestort het uitgewis, boere se land is teruggeneem en mense het gesukkel om hulle families te voed. Gedurende hierdie donker tye het Franklin Delano Roosevelt die nasie met die volgende woorde toegespreek: ‘Laat ek my ferme geloof uitspreek dat die enigste ding wat ons het om te vrees, vrees self is – naamlose, onredelike, ongegronde vrees wat die nodige pogings om voort te bou, verlam.’

Wat die meeste mense nie besef nie is dat die president self tye waartydens vrees hom verlam het, ervaar het. Roosevelt is as bevoorregte kind gebore en het in Europa, by Harvard en by Columbia se regskool, studeer. Op die ouderdom van nege-en-dertig het hy egter polio opgedoen wat hom erg gestrem gelaat het. Gedurende sy siekbed het hy ‘n uiterste vrees vir vuur ontwikkel. Hy was bekommerd dat hy as gevolg van sy gebrek nie in staat sou wees om te ontsnap nie. Met verloop van tyd het hy egter sy vrees oorkom, die gebruik van sy hande herwin en selfs geleer om met stutte te loop. Hy het weer die politieke arena betree – en vreesloos ‘n veldtog geloods om goewerneur van New York te word, wat hy in 1929 reggekry het. Hy het voortgegaan om een van Amerika se grootste presidente te word en het die land na oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog gelei. In sy memoires het Roosevelt geskryf hoe hy na God vir hulp, moed en leiding gedraai het en hoe hy dit ontvang het.

Is jy vandag bang? Indien jy is, staan op hierdie belofte: ‘Die Here is by my, ek sal nie bang wees nie. Wat kan ‘n mens aan my doen?’

Sielskos: Job 8-10; Matt 23:1-12; Ps 115; Spr 8:1-3

Vertrou op God en moenie bang wees nie

2021-03-01
Jesaja 41:10 NLV

Vrees sal jou kreatiwiteit en selfwaarde by jou steel. Vrees is die vyand van grootheid en die antitese van geloof. Hoe langer dit binne-in jou leef, hoe sterker word dit. Dit word deur woorde bemes, nie net deur die woorde wat ander mense sê nie, maar deur die woorde wat jy vir jouself sê. Wanneer jy vir jouself sê: ‘Daar is nie ‘n manier wat ek dit gaan maak nie,’ duik jy jou wapenrusting en ondermyn jy jou effektiwiteit. Wanneer jy dit in jou laat sweer, sal dit jou soos ‘n plaag affekteer.

Om vrees te oorkom, moet jy dit eers identifiseer en dit blootstel. Dit sal in jou beweegsredes wegkruip. Dit sal met oorbeskerming, woede, kleinlikheid, jaloesie en spogpraatjies, beklee word. Dit sal jou met ‘n gevoel van verantwoordelikheid dat jy vir jouself moet sorg, jouself moet beskerm en jouself moet verdedig, aftrek. Wanneer jy vol vrees is, wat moet jy dus doen?

Daar is net een gewaarborgde koers van aksie: Staan teen jou vrese op. Hier is ‘n belofte uit God se Woord wat net so waar is vandag soos toe Hy dit die eerste keer gespreek het: ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand.’ In die Skrif spreek die terme: ‘God se regterhand’ tot sy gewilligheid en mag om namens jou te werk. Twee hoofstukke later in Jesaja, het God vir dieselfde mense gesê: ‘Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy is Myne’ (Jesaja 43:2 NLV). God sorg vir wat syne is.

Sielskos: Gen 30:25-31:55; Matt 19:15-30; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25

Staar die dood sonder vrees in die gesig (2)

2020-12-02
1 Korintiërs 15:55 NLV

Toe Carolyn Arends se pa sterwend in die hospitaal gelê het, het ‘n suurstofmasker dit amper onmoontlik vir hom gemaak om met sy familie te kommunikeer. Hulle was dus verras om hom ‘n ou liedjie wat hy in die Sondagskool geleer het, te hoor neurie: ‘With Christ in the vessel we can smile at the storm, as we go sailing home.’ Ure voor hy na sy huis in die hemel toe vertrek het, het ‘n lied wat hy sestig jaar gelede geleer het, hierdie sterwende man vertroos en krag gegee.

Arends skryf: ‘Ek hoop dat ek aan die einde oor Jesus sal sing, praat en dink. Die dood is die monster in die kelder; dit laat ons oor ons skouer kyk en weerhou ons daarvan om die dae wat aan ons gegee is, vreugdevol te bestee. Wanneer ons egter die dood uit die skaduwees bring en dit in die lig van die evangelie ophou, verloor die dood nie net sy angel nie, dit word ook ‘n aanmaning om ons tyd wys te gebruik (sien Psalm 90:12).

Wanneer ‘n gelowige besef dat hy op pad is na die dood (oormôre of oor 50 jaar), kan hy ophou om die geweldige energie te gebruik om sy eie mortaliteit te ontken en dit aanwend om sy ewige lotsbestemming hier en nou te begin leef. Hy kan doelbewus begin om in die dinge wat hy aan die einde by hom wil hê, te belê. Die dood maak seer, maar dis nie die einde nie. Ons rou nie soos diegene wat geen hoop het nie. Ek weet nie hoeveel dae ek oor het nie, maar ek wil elkeen van hulle gebruik om die waarheid oor wie Jesus is – en wie ek in Hom is – in myself in te prent.’

Sielskos: Jos 1-4; Joh 15:18-27; Ps 65;
Spr 28:17-20

Leer om ‘reg’ te dink

2020-10-18
Spreuke 12:5 ABA

Jou gedagtes kan vir of teen jou werk. Wanneer dit vir jou werk, help dit jou om positief te bly, jou doelwitte te bereik en elke dag te geniet. Wanneer dit egter teen jou werk, kan dit jou negatief en moedeloos laat voel, jou terughou en jou gedagtes laat dink wat self-sabotasie tot gevolg het. Leer dus jou gedagtes om vir jou en nie teen jou nie, te werk.

‘n Belangrike manier om dit te doen, is om ‘n bewustelike besluit te neem om positief te begin dink – in terme van geloof en nie van vrees nie. Jou brein sal nie hierdie nuwe rol oornag begin vervul nie. Jy verwag dalk van jou brein om ‘n radikale transformasie te ondergaan, wat tyd sal neem. Besluit egter dat tesame met jou ywer en God se hulp, jou brein vir jou sal begin werk en ‘n positiewe dryfkrag in jou lewe sal word.

Dr Caroline Leaf, ‘n kognitiewe neurowetenskaplike, wys uit dat die brein agtien jaar neem om volwasse te word en ‘n leeftyd neem om te groei. Moenie die punt mis nie! Terwyl elke orgaan in jou liggaam tydens jou geboorte ten volle gevorm was en groter geword het soos jou liggaam gegroei het, het jou brein ‘n volle agtien jaar nodig gehad om volwasse te word. Sodra dit volledig gevorm is, hou dit aan groei – maak nie saak hoe oud jy is nie. Dis wonderlike nuus, omdat dit beteken dat jy nie in ‘n ou of verkeerde gedagtepatroon vasgevang hoef te bly nie. Jou brein groei steeds, wat beteken dat jy steeds jou denke kan verbeter.

Soos die Bybel sê: ‘Mense wat reg lewe, dink reg…’

Sielskos: Matt 21:18-22; Matt 8:5-13; Mark 6:1-6