Wees vandag gereed
2020-04-20Filippense 4:13 NLV
Die Bybel sê: ‘Moenie te veel praat oor wat môre kan gebeur nie. Jy weet glad nie wat môre gaan oplewer nie’ (Spreuke 27:1 NLV). Die waarheid is dat jy elke oggend wanneer jy wakker word, geen idee het wat daardie dag met jou gaan gebeur nie. Jy hoop vir ‘n dag sonder moeilikhede waar al jou verwagtinge en wense vervul sal word – maar jy weet uit ervaring dat dit nie altyd die geval is nie. Ons lewe in ‘n regte wêreld met regte probleme. Jou vyand, die Duiwel, bestaan regtig en hy werk op elke moontlike manier om ontmoediging, vrees en mislukking mee te bring. Met hierdie kennis het die Psalmdigter geskryf: “As die Here jou toevlug is… sal geen kwaad jou tref, en geen ramp naby jou tent kom nie. Want Hy sal sy engele beveel om jou te beskerm oral waar jy gaan… ‘Omdat hy My liefhet, sal Ek hom verlos; omdat hy my Naam ken, sal Ek hom beskerm. Hy sal roep, en Ek sal antwoord; in nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel. Ek sal hom ‘n lang lewe gee, en hy sal my verlossing sien'” (Psalm 91:9-16 NLV). Maak nie saak wat oor jou pad kom nie, jy moet vertrou dat wanneer dit arriveer, God jou die genade sal gee om dit te kan hanteer. Onthou, Satan is lief daarvoor om diegene wat in lyn vir God se seën is, aan te val. Dis hoekom Paulus geskryf het: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee.’ Innerlike krag is beter as uiterlike krag. Solank as wat jy innerlik sterk bly, kan jy enigiets wat uiterlik teen jou is hanteer en aanhou vorentoe beweeg. Wees dus vandag gereed.
Sielskos: Lev 26-27; Mark 2:13-22; Ps 103:1-12; Spr 10:13