Klim uit jou boot uit
2020-06-30Matteus 14:29 ABA
Matteus skryf: ‘…Petrus het uit die boot geklim, en toe het hy op die water geloop na Jesus toe.’ Vra jouself vandag drie vrae af: 1) Wat is my boot? Dit is dit wat jou jou grootste sin van sekuriteit gee. Dis waarop jy jou vertroue wil plaas wanneer die lewe stormagtig raak. Om uit te vind wat jou boot is, vra jouself af: ‘Wat is dit wat die meeste vrees in my veroorsaak, veral wanneer ek daaraan dink om dit agter te laat en in geloof uit te tree? 2) Wat weerhou my daarvan om uit my boot te klim? Vrees. Vrees vir mense, vrees vir mislukking, vrees vir kritiek, vrees vir te min. Om te groei, moet jy nuwe gebiede binnegaan en elke keer wanneer jy dit doen, sal jy vrees ervaar. Dit gaan nooit weg nie. Elke keer wat jy egter uit jou boot uitklim, word jy meer in staat om dit volgende keer weer te doen en begin jy besef dat dit nie die mag het om jou te vernietig nie. As Jesus dus vir jou sĂȘ: ‘Kom,’ begin loop. Hy sal nie toelaat dat jy verdrink nie. 3) Wat sal ek prysgee as ek in my boot bly? Jou lotsbestemming. Om te bereik wat jy nog nie bereik het nie, moet jy probeer wat jy nog nie probeer het nie. Sal daar risiko’s wees? Ja. Bofbal se beste kolwers misluk twee uit drie keer. Hulle weet egter dat indien hulle nie op die veld is nie, sal hulle nooit die vreugde ervaar om ‘n tuislopie te slaan nie. As jy in jou boot bly, sal jy uiteindelik daarin sterf; en wonder wat jou lewe kon gewees het as jy maar net gewillig was om uit jou boot te klim.
Sielskos: Jer 10-13; Luk 3:21-38; Ps 95; Spr 14:29-33