Laat God se liefde jou vrees verdryf

2021-09-22
1 Johannes 4:18 NLV

Moderne wetenskap bevestig die waarheid van hierdie Skrifgedeelte: ‘Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit…’ Liefde en vrees is onversoenbaar; hulle kan nie gelyk bestaan nie. Kinders het twee basiese behoeftes: 1) ‘n Behoefte om hulle omgewing te verken. Dis hoe hulle leer, groei en ontwikkel. 2) ‘n Behoefte om veilig te voel. As hulle nie veilig voel nie, sal hulle nie hul omgewing verken nie.

Elke mens het ‘n veilige basis nodig van waar hulle kan ondersoek instel en groei. Navorsing bevestig dat, oor die algemeen, een ouer hulle kind meer sal aanmoedig om kanse en risiko’s te neem en hulle leer dat ‘n bietjie gevaar ‘n goeie ding is, terwyl die ander ouer gewoonlike die vertrooster en veiligheidsnet is. Die waarheid is egter dat enige ouer ‘n kind beide gawes kan gee.

Wanneer ons bang is, aktiveer ons liggaam sy simpatieke senuweestelsel. Ons harte begin vinniger klop, ons asem word korter en vlakker en ons spiere trek saam. Dus hardloop ons na ons nie-angstige teenwoordigheid toe: ons vertrooster, beskermer en ouer. Soos hulle ons vashou, neem die parasimpatiese stelsel oor. Ons hartklop neem af, ons asem word diep en egalig, ons spiere ontspan en bloed vloei terug na ons brein toe. ‘n Klein stemmetjie sê dan vir ons: ‘Ek kan weer uitgaan en die wêreld in die gesig staar.’

Dis ‘n feit dat volwasse liefde vrees in die fisiese ryk uitdryf. Dis ook waar in die geestelike ryk. Met ‘n God wat teer genoeg is om ons lief te hê en te vertroos, maar tog sterk genoeg is om ons rots en veilige vesting te wees, kan ons enigiets wat die lewe vir ons gee, oorkom en sterker as gevolg daarvan groei.

Sielskos: Hoogl 1-4; Luk 22:54-62; Ps 3; Spr 21:4-8

Moenie jou doelwitte uit die oog verloor nie

2021-09-12
Psalm 112:8 AFR53

Om sukses in die lewe te behaal, is daar drie struikelblokke waarvan jy bewus moet wees en moet oorkom:

1) Moegheid. Daar word beweer dat die perd wat die Kentucky Derby wen, na die eerste halwe myl uit suurstof uit hardloop en die res van die wedloop net met ‘hart’ hardloop. Ondersoek dus vandag jou hart en kyk of jy waarlik toegewyd is. ‘…As julle aanhou glo, dan gee God vir julle ‘n groot beloning. Daarom moet julle aanhou om te glo, en julle moet doen wat God wil hê sodat julle die dinge kan kry wat Hy vir julle belowe het’ (Hebreërs 10:35-36 ABA).

2) Vrees. Wanneer dit by toewyding kom, is daar vier tipes mense: a) Leeglêers: mense wat geen doelwitte het nie en wat hulself aan niks toewy nie. b) Bangbroeke: Mense wat nie weet of hulle hul doelwitte kan bereik nie en dus te bang is om hulself daaraan toe te wy. c) Ophouers: mense wat begin om na ‘n doelwit te werk, maar ophou wanneer dit moeilik raak. d) Vasbyters: mense wat doelwitte stel en die prys betaal om hulle te behaal. Watter een van die vier is jy? Vrees en geloof sal altyd in jou lewe teenwoordig wees en die een wat jy kies, sal bepaal of jy sukses behaal of misluk.

3) Selfvoldaanheid. Die suksesvolle besigheidsman, Ray Kroc, het gesê: ‘Solank as wat jy groen is, groei jy. Sodra jy ryp is, begin jy verrot.’ As jy wys is, sal jy gereeld rus om verfris te word, jouself te vernuwe en te herfokus. Jy moet egter nie op gister se suksesse rus of op vandag se momentum staatmaak nie. Wees soos Paulus: ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe…’ (Filippense 3:13-14 NLV).

Sielskos: Jona 1:10-2:10; Matt 12:38-42

Weier om bang te wees

2021-07-25
1 Samuel 16:7 NLV

Ons is trots op ons vermoë om mense en situasies volgens voorkoms te oordeel – en baie keer is ons verkeerd. Goliat het dieselfde uitdaging vir veertig dae lank aan Israel gestel: ‘Stuur julle beste soldaat en ek sal hom doodmaak. Ek is die kampioen. Ek is die beste.’ Hierdie tipe vreesgebaseerde denke is van toepassing op elke reus wat jy in jou lewe teëkom.

Chuck Swindoll skryf: ‘Vrees en bekommernis kom nie net een keer op nie; dit kom oggend en aand, dag na dag op en probeer jou sonder ophou intimideer. Hulle kom in die vorm van ‘n persoon, ‘n situasie, ‘n bekommernis. Min dinge is so aanhoudend en intimiderend soos ons vrese en bekommernisse – veral as ons hulle uit ons eie krag tegemoet gaan.’

Toe Israel se nuwe koning gekies moes word, het God vir die profeet Samuel gesê: ‘…Moenie volgens voorkoms of grootte of liggaamsbou oordeel nie… Die Here neem nie besluite soos mense nie! Mense oordeel volgens uiterlike voorkoms, maar die Here kyk na gedagtes en bedoelings’ (vers 7 NLV). Ons kyk na wat aan die buitekant is en vorm opinies wat gebaseer is op dit wat ons kan sien.

Goliat was ‘n reus met ‘n groot stem en baie bravade – drie eienskappe wat vrees in die braafste hart sal aanwakker. God was egter nie met hom beïndruk of deur hom geïntimideer nie. Wat meer is, is dat Hy vir Dawid die vermoë gegee het om Goliat deur sy oë te sien.

Vrees is soos babas; hoe meer jy hulle versorg, hoe groter word hulle. Eers wanneer jy die reuse in jou lewe uit God se perspektief begin sien, verloor hulle hul krag om jou te immobiliseer en jou te intimideer. Weier dus om bang te wees.

Sielskos: 1 Sam 5:1-6:16; Op 11:15-19

Dryf jou vrees uit

2021-05-16
1 Johannes 4:18 AFR83

Jy sal verras wees om te weet hoeveel mense, selfs suksesvolle mense, elke dag met onuitgesproke vrese worstel. Miskien is jy een van hulle. Die Bybel sê: ‘Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 AFR53). As ons vrese dus nie van God af kom nie, waar kom hulle dan vandaan?

Van verskeie bronne af: 1) Die manier waarop jy geprogrammeer is in jou grootwordjare. 2) ‘n Daaglikse oordosis nuus, 90 persent daarvan wat negatief is. 3) Satan.

Die punt is, jou vrese kom nie van God af nie. Die eerste stap om jou vrese te oorkom, is om die ware bron daarvan vas te stel. God het jou ‘n magtige wapen gegee om hulle te oorwin: ‘…volmaakte liefde verdryf vrees …’ Jy sê: ‘Miskien as ek God volmaak lief gehad het, sou ek nie so bang gewees het nie.’ Nee, nou span jy die wa voor die perd in. Jy kan soveel probeer as wat jy wil, maar jy sal nooit God volmaak kan liefhê nie.

Daar is net een volmaakte liefde en dit is sy liefde vir jou. Dis onvoorwaardelik; gekoop en betaal deur Jesus Christus wat vir jou aan die kruis gesterf het. Wanneer jy ‘n openbaring van die onverdiende liefde, genade en guns wat God teenoor jou voel, ervaar, sal jy kan opstaan en alle vrees, angs, skuld, veroordeling en bekommernisse kan verdryf.

God se liefde vir jou is nie op jou optrede gebaseer nie, maar op Christus s’n. Wanneer jy jou vertroue in Christus se optrede, in plaas van jou eie, plaas, is jy God se kind (sien Efesiërs 1:5). Wanneer jy die versekering daarvan het, weet jy dat jy ook die mag het om al jou vrese te verdryf.

Sielskos: Eks 17:1-7; Joh 4:1-42

Die stryd oor die opstanding

2021-04-03
1 Korintiërs 15:17 NLV

Fox nuus het berig oor ‘n professor in Florida wat sy studente aangesê het om Jesus se naam op ‘n stuk papier te skryf, die papier op die vloer te sit en dan daarop te trap. Al die studente het dit gedoen – behalwe een! Uit liefde en lojaliteit aan Jesus, het hy gesê dat hy nie bereid was om dit te doen nie.

Dit lei ons na die volgende vraag: ‘Hoekom sal ‘n onderwyser, selfs ‘n ateïs, so ‘n ding doen?’ Die antwoord: Omdat ons dit wat ons vrees, soms probeer beveg. Dit word ‘n lewe van ontkenning genoem.

Dink daaroor: Haat en gegriefdheid eindig gewoonlik by die graf, omdat die persoon dood is en geen mag meer oor jou het nie. Hoekom haat sommige mense dan steeds vir Jesus? Vrees! Diep binne-in hulle vrees hulle dat Hy lewe en dat sy invloed in die wêreld aan die groei is. Sy invloed sal aanhou groei! ‘Soos die water die see vol maak, so sal die aarde vol wees van mense wat die Here ken’ (Jesaja 11:9 NLV).

Die geskiedkundige waarheid van Christus se opstanding word nie betwyfel deur enige eerlike, oop gemoed nie. Die grootste bewys van sy opstanding kan egter in lewens wat verander, gesien word. Paulus skryf: ‘As Christus in julle lewe, is julle liggame wel nog as gevolg van die sonde aan die dood onderhewig, maar julle gees is die ene lewe omdat julle saak met God reggemaak is. Omdat die Gees van die God wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy… ook julle dooie liggame weer lewendig maak deur dieselfde Gees wat in julle woon’ (Romeine 8:10-11 NLV). Die liedjieskrywer Alfred Ackley het dit só gestel: ‘You ask me how I know He lives? He lives within my heart.’

Sielskos: Num 21:4-9; Matt 27:51-66; Ps 69:7-21; Deut 21:22-23