Moenie jou doelwitte uit die oog verloor nie
2021-09-12Psalm 112:8 AFR53
Om sukses in die lewe te behaal, is daar drie struikelblokke waarvan jy bewus moet wees en moet oorkom:
1) Moegheid. Daar word beweer dat die perd wat die Kentucky Derby wen, na die eerste halwe myl uit suurstof uit hardloop en die res van die wedloop net met ‘hart’ hardloop. Ondersoek dus vandag jou hart en kyk of jy waarlik toegewyd is. ‘…As julle aanhou glo, dan gee God vir julle ‘n groot beloning. Daarom moet julle aanhou om te glo, en julle moet doen wat God wil hê sodat julle die dinge kan kry wat Hy vir julle belowe het’ (Hebreërs 10:35-36 ABA).
2) Vrees. Wanneer dit by toewyding kom, is daar vier tipes mense: a) Leeglêers: mense wat geen doelwitte het nie en wat hulself aan niks toewy nie. b) Bangbroeke: Mense wat nie weet of hulle hul doelwitte kan bereik nie en dus te bang is om hulself daaraan toe te wy. c) Ophouers: mense wat begin om na ‘n doelwit te werk, maar ophou wanneer dit moeilik raak. d) Vasbyters: mense wat doelwitte stel en die prys betaal om hulle te behaal. Watter een van die vier is jy? Vrees en geloof sal altyd in jou lewe teenwoordig wees en die een wat jy kies, sal bepaal of jy sukses behaal of misluk.
3) Selfvoldaanheid. Die suksesvolle besigheidsman, Ray Kroc, het gesê: ‘Solank as wat jy groen is, groei jy. Sodra jy ryp is, begin jy verrot.’ As jy wys is, sal jy gereeld rus om verfris te word, jouself te vernuwe en te herfokus. Jy moet egter nie op gister se suksesse rus of op vandag se momentum staatmaak nie. Wees soos Paulus: ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe…’ (Filippense 3:13-14 NLV).
Sielskos: Jona 1:10-2:10; Matt 12:38-42