Weier om bang te wees

2021-07-25
1 Samuel 16:7 NLV

Ons is trots op ons vermoë om mense en situasies volgens voorkoms te oordeel – en baie keer is ons verkeerd. Goliat het dieselfde uitdaging vir veertig dae lank aan Israel gestel: ‘Stuur julle beste soldaat en ek sal hom doodmaak. Ek is die kampioen. Ek is die beste.’ Hierdie tipe vreesgebaseerde denke is van toepassing op elke reus wat jy in jou lewe teëkom.

Chuck Swindoll skryf: ‘Vrees en bekommernis kom nie net een keer op nie; dit kom oggend en aand, dag na dag op en probeer jou sonder ophou intimideer. Hulle kom in die vorm van ‘n persoon, ‘n situasie, ‘n bekommernis. Min dinge is so aanhoudend en intimiderend soos ons vrese en bekommernisse – veral as ons hulle uit ons eie krag tegemoet gaan.’

Toe Israel se nuwe koning gekies moes word, het God vir die profeet Samuel gesê: ‘…Moenie volgens voorkoms of grootte of liggaamsbou oordeel nie… Die Here neem nie besluite soos mense nie! Mense oordeel volgens uiterlike voorkoms, maar die Here kyk na gedagtes en bedoelings’ (vers 7 NLV). Ons kyk na wat aan die buitekant is en vorm opinies wat gebaseer is op dit wat ons kan sien.

Goliat was ‘n reus met ‘n groot stem en baie bravade – drie eienskappe wat vrees in die braafste hart sal aanwakker. God was egter nie met hom beïndruk of deur hom geïntimideer nie. Wat meer is, is dat Hy vir Dawid die vermoë gegee het om Goliat deur sy oë te sien.

Vrees is soos babas; hoe meer jy hulle versorg, hoe groter word hulle. Eers wanneer jy die reuse in jou lewe uit God se perspektief begin sien, verloor hulle hul krag om jou te immobiliseer en jou te intimideer. Weier dus om bang te wees.

Sielskos: 1 Sam 5:1-6:16; Op 11:15-19