2023-03-11
Psalm 23:5 NLV
Dawid het gesê: ‘Wanneer ek loop in ‘n donker vallei, sal ek nie bang wees nie, wat U is naby my. U stok en u staf beskerm en ondersteun my. U berei vir my ‘n feesmaal voor die oë van al my vyande. U verwelkom my as ‘n eregas deur my kop te salf met olie en my beker vol te maak met seëninge’ (verse 4-5 NLV).
God het nie beloof dat jy nie met die dood, of vrees, of die bose, of vyande te doen sal kry nie. Hy het eenvoudig gesê dat ten spyte daarvan, of selfs soms te midde daarvan, jou beker vol seëninge sal wees. Paulus skryf: ‘En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk’ (2 Korintiërs 9:8 NLV). Hy deurweek jou met vreugde en vrede, sodat ‘…julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees’ (Romeine 15:13 NLV). Hy gee jou vreugde in oorvloed, sodat ‘…julle… die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde [kan] bring nie’ (1 Petrus 1:8 NLV). Hy gee jou oorvloedige vrede – Hy gee ‘…God se vrede… Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink…’ (Filippense 4:7 NLV).
Wanneer jy dus sukkel om met jou salaris uit te kom, of die toekoms vrees, kyk in die spieël en sê: ‘God is my bron; ek het meer as genoeg, my beker is vol seëninge.’ Moet dit ook nie net in tye van nood of krisis doen nie; maak dit ‘n gewoonte wat jy elke dag uitoefen.
Sielskos: Eks 36-38; Luk 15:11-32; Ps 27; Spr 7:10-20
2023-03-05
2 Korintiërs 4:8 DB
Ons gee as gevolg van verskeie redes op: 1) Ons vrees mislukking. Ons het almal dinge in ons verlede wat ons eerder sal wil vergeet. Sit hulle agter jou. Paulus skryf: ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê’ (Filippense 3:13 NLV).
2) Ons is bekommerd oor wat mense gaan sê. ‘Jy stel vir jouself ‘n slagyster as jy vir mense bang is…’ (Spreuke 29:25 NLV). Hoe jy teenoor kritiek reageer, is een van die belangrikste besluite wat jy ooit sal maak. Daar sal altyd mense wees wat nie van jou hou of jou verstaan nie.
3) Ons luister na die verkeerde stemme. Satan is die Vader van die Leuen en hy sal alles in sy vermoë doen om jou te ontmoedig. Paulus sê: ‘…Daarmee vernietig ons die argumente, asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word. Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:4-5 NLV). As ‘n gedagte van God af kom, aanvaar dit; as dit van Satan af kom, ‘vernietig’ dit.
4) Ons verloor fokus. As gelowiges, lewe ons deur te glo en nie deur te sien nie (sien 2 Korintiërs 5:7). Dit beteken dat jy elke besluit moet maak op grond van wat God sê en nie volgens wat jou natuurlike oë kan sien nie.
5) Ons verloor kontak met ander gelowiges. Toe die apostels uit die tronk gekom het, het hulle ‘…dadelik die ander gelowiges opgesoek…’ (Handelinge 4:23 NLV). Om sterk te bly, het jy gemeenskap met ander Christene nodig. Te veel mense gee op die kruin van sukses op; moenie een van hulle wees nie. Daar is net een graad verskil tussen warm water en stoom – hou dus aan en moenie eers daaraan dink om op te gee nie!
Sielskos: Matt 6:19-34; 1 Kon 8:17-40
2023-02-14
Romeine 5:3 NLV
Viktor Frankl is tydens die Tweede Wêreldoorlog na ‘n Nazi konsentrasiekamp gestuur. Die wagte daar het hom van alles ontneem. Hulle het sy vrou, sy familie en sy klere weggevat. Hulle het selfs sy trouring gesteel. Hy het egter een ding gehad wat niemand by hom kon wegneem nie. Hy het geskryf: ‘Die laaste van menslike vryhede is die vermoë om ‘n mens se houding in ‘n gegewe stel omstandighede te kies.’ Die wagte kon nie Frankl se vryheid om sy houding te kies van hom wegneem nie.
Ons weet nie wat more, of selfs vandag, gaan gebeur nie. Ons kan nie ons omstandighede beheer nie, maar ons kan ons reaksie daarop beheer. Ons kan beheer of ‘n ervaring ons sterker of swakker gaan maak, ons geloof of ons vrees gaan vermeerder, of dit ons ‘n beter of ‘n bitter persoon gaan maak. Daar is ‘n gesegde wat sê: ‘Dieselfde sonskyn wat die botter laat smelt, verhard die klei.’ God wil hê dat ons moeilikhede ons moet versterk.
Paulus skryf: ‘…ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting. En hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie, want ons weet hoe lief God ons het. Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het’ (verse 3-5 NLV).
Hier is nog ‘n belangrike gedagte – die toetse en beproewings waardeur ons in hierdie lewe gaan, is wat ons bekwaam maak om in die volgende lewe saam met Christus te heers en te regeer. Hierdie wete sal jou help om op die regte manier te reageer!
Sielskos: Ef 5:21-33; Hoog 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19
2022-05-21
1 Johannes 4:18 NLV
Vraag: Aangesien ons natuurlik aangetrokke is tot mense wat lief is vir ons, hoekom is dit so moeilik vir ons om in gebed na God toe te gaan? Antwoord: Omdat ons ‘n vars openbaring van sy liefde vir ons nodig het! Paulus het gebid dat die kerk in Efese sal ‘…kan ervaar hoe lief Christus ons regtig het. Sy liefde kan ons nie met woorde beskryf nie: dit is te groot en wonderlik…’ (Efesiërs 3:18 DB).
Die waarheid is dat God nie liewer vir jou kan wees as wat Hy op die oomblik is nie. ‘Hoe lyk sy liefde?’ vra jy. Kyk na die kruis. Selfs al was jy die enigste persoon wat nog ooit gelewe het, sou Jesus vir jou gesterf het. ‘Wat kos sy liefde?’ vra jy. Niks! Daar is geen voorwaardes daaraan verbonde nie. Jy het niks gedoen om dit te verdien nie en jy kan dit ook nie verbeur wanneer jy foute maak nie. ‘…hoegenaamd niks… sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie’ (Romeine 8:39 NLV). Sodra jy dit aanvaar, kan jy jou swakpunte erken, God se hulp vra, sterker groei en die talente wat Hy vir jou gegee het, gebruik.
Omdat sy liefde die enigste perfekte liefde is, dryf dit jou ‘vrees’ uit. Waarvoor is jy dus bang? Dat jy nie sal kry wat jy nodig het nie? Dat jy iets sal verloor? Johannes sê vir ons: ‘Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volwasse liefde bemeester nie’ (1 Johannes 4:18 NLV). Vra God vandag vir ‘n nuwe openbaring van sy liefde vir jou, met die wete dat Hy vir diegene vir wie Hy lief is voorsien, koester en beskerm.
Sielskos: Jona 1-4; Matt 11:1-19; Ps 88:1-9a; Spr 11:24-26
2022-03-02
Jakobus 5:17 NLV
Elia het so mismoedig geraak dat hy gereed was om dit alles te beëindig. Dit was op die hakke van sy grootste oorwinning. Hy het pas vuur uit die hemel op die Karmelberg neergeroep, toe hy van opgewondenheid tot uitputting gegaan het. Ons vergeet dat selfs wanneer ons suksesvol is en lief is vir dit wat ons doen, dit fisies, geestelik en emosioneel dreinerend kan wees. As jy dus ‘n doelgedrewe mens sonder grense is, let op!
1) Uitputting het Elia perspektief laat verloor. Hy het pas 850 vals profete oorwin (sien 1 Konings 18:19), en nou moes hy vir Jesebel vlug. Wanneer moegheid instap, stap geloof uit! Dit verdraai ons denke en veroorsaak dat ons God se krag en beloftes miskyk. Geestelike uitputting tesame met fisiese moegheid, is ‘n dodelike kombinasie wat hopeloosheid binne nooi en die illusie skep dat ons geen opsies het nie.
2) Vrees het veroorsaak dat Elia homself isoleer. Hy het sy dienskneg in Berseba agtergelaat, die woestyn binnegegaan en vir God gesê: ‘…Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak’ (1 Konings 19:10 NLV). Op daardie oomblik was Elia in die slegste geselskap moontlik – sy eie! Wanneer jy mismoedig voel, is dit nie die tyd om jouself te isoleer nie. Dis dan wanneer dit nodig is om na God en die mense wat lief is vir jou, uit te reik.
Selfs Paulus het hulp nodig gehad. Hy het geskryf: ‘Want toe ons in Masedonië aangekom het, het ons net nie tot rus gekom nie. Op elke moontlike manier is daar druk op ons uitgeoefen: van buite – aanvalle; van binne – vrese. God wat die vernederdes bystaan, het ons ook ondersteun deur die teenwoordigheid van Titus’ (2 Korintiërs 7:5-6 NLV).
Wie moet jy dus skakel? Na wie moet jy uitreik? Moenie dit uitstel nie – reik uit na God!
Sielskos: Eks 13-15; Luk 12:35-48; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25