2025-10-19
Matteus 11:28 NLV
Angsversteurings is een van die algemeenste geestesiektes. Dit was egter nooit deel van God se plan nie. Jesus het gesê: ‘Kom na My toe, almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry’ (Matteus 11:28-29 NLV).
Wanneer osse langs mekaar in die lande werk, word hulle met ‘n juk saamgespan en deel die werkslading. Dis wat Jesus wil hê jy moet doen: om saam met Hom te werk. Kan jy aan enigiemand beter dink om jou lading mee te deel? Dit laat mens wonder hoekom ons so lank wag om sy aanbod te aanvaar!
Hy gaan dan verder deur te sê: ‘En moenie oor kos bekommerd wees nie – oor wat om te eet en wat om te drink nie… julle Vader ken alreeds julle behoeftes. Hy sal daagliks vir julle alles gee wat julle nodig het, as julle die koningsheerskappy van God julle primêre belang maak’ (Lukas 12:29-31 NLV). Jesus gee ons die perfekte perspektief op die lewe. Jy kan nie een dag by jou lewe voeg deur jou te bekommer nie, maar jy kan dit definitief deur stres en angs verkort.
Dink daaroor: Die voëls sit nie in die bome en bekommer hulself oor wat hulle môre gaan eet nie. Nee, hulle sing sonder enige sorge. Die lelies bekommer hulself nie oor hoe hulle gaan groei en of hulle genoeg reën gaan kry om te oorleef nie. God se hele skepping, behalwe die mens, het geen sorge in die wêreld nie. Aangesien jou hemelse Vader selfs meer vir sy mense omgee, kan jy seker wees dat Hy vir jou sal sorg.
Sielskos: Eks 20:1-17; Matt 5:1-12
2025-10-18
Filippense 4:6 NLV
Angs is die vloek van die moderne era, maar dis nie ‘n nuwe neiging nie. Jesus praat in die Skrif gereeld oor angs, stres en vrees. Hy sê in Matteus 6:25-27 (NVL): ‘…hou op om julle te bekommer oor julle daaglikse lewe – wat julle sal eet of drink; of oor julle liggame – wat julle sal aantrek. Is om te lewe nie baie kosbaarder as kos nie? En is ‘n mens se liggaam nie baie kosbaarder as klere nie? Hou die voëls in die lug dop. Hulle saai nie, hulle oes nie, en hulle maak nie in skure bymekaar nie… Besef julle dan nie dat julle vir God nog baie kosbaarder is as hulle nie? Kan al julle bekommernis julle lewe een sekonde langer rek? Vanselfsprekend nie!’
Jesus het nie hierdie woorde gesê net om ons vrese en bekommernisse te verlig nie. Hy het ons beveel om nie angstig te wees nie, want dit toon ‘n gebrek aan geloof in God se getrouheid aan ons. Paulus skryf: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit sal dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV).
In plaas daarvan om toe te laat dat vrees en angs jou beheer, kan jy vrede ontvang deur jou bekommernisse in gebed na God te bring, Hom deur geloof te dank vir die antwoord en Hom te vertrou om dinge uit te werk. Wat gaan jy dus doen? Jou bekommer en kwel, of bid en vrede ontvang? Die keuse is joune.
Sielskos: 1 Tim 4-6; Joh 5:31-47; Ps 126; Spr 24:10
2025-01-14
1 Johannes 4:18 NLV
Toe jy klein was en ‘n lelike woord gesê het, mag jou ouers dalk gedreig het om jou mond met seep uit te was. Wel, as vrees ‘n lelike woord is, dan is geloof in God se onvoorwaardelike liefde vir jou soos seep! Te veel mense span die wa voor die perde in. Ons glo dat God ons volgens die graad van ons liefde vir Hom, eerder as die graad van sy liefde vir ons, aanvaar. Die Bybel sê: ‘Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het’ (vers 19 NLV). God se liefde vir jou word nie op jou optrede gebaseer nie, maar op Christus se optrede namens jou. Wanneer jy jou vertroue in Christus plaas, sien God jou van daardie oomblik af as een met Christus (sien 2 Korintiërs 5:17).
Wil jy weet hoe God jou op hierdie oomblik en elke ander oomblik sien? ‘…soos [Jesus] is, is ons ook in hierdie wêreld’ (1 Johannes 4:17 AFR53). Beteken dit ons kan aan God ongehoorsaam wees en daarmee wegkom? Nee! ‘Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is… Elke vorm van tug lyk vir ons op die oomblik meer na ‘n rede vir trane as vir blydskap, maar later sal dit vir hulle wat daardeur gebrei is, die blye oes oplewer van ‘n lewe volgens die wil van God’ (Hebreërs 12:6, 11 NLV).
God se tugtiging is nie verwerping nie! Dis ‘n bewys van sy onvoorwaardelike, onbeperkte, onwankelbare en onverdiende liefde vir jou. God het jou nie meer lief op die dae wat jy oorwinning behaal en minder lief op die dae wat jy oorwonne is nie. Sy liefde vir jou wissel of weifel nie. Die wete van hierdie waarheid sal jou geloof versterk en jou vrese laat afneem!
Sielskos: Jes 45-48; Luk 3:1-10; Ps 79; Spr 2:9-10
2023-03-28
Openbaring 21:4 NLV
Soms beskryf ons die dood as ‘om die Jordaan oor te steek,’ omdat die Jordaanrivier in die Dooie See uitloop. Daar word ‘n verhaal van ‘n bejaarde Christelike dame wat besig was om te sterf, vertel. Vir die meeste van haar lewe was sy aan haar bed of haar rolstoel vasgekluister. Die familie het bymekaargekom om van haar afskeid te neem. Terwyl hy haar hand vashou, het een van haar kleinseuns gevra: ‘Ouma, is Ouma bang om dood te gaan?’ Met trane van vreugde het sy geantwoord: ‘Nee, ek is nie bang vir die dood nie, want my Vader besit aan beide kante van die rivier land.’
Wat ‘n antwoord! In die hemel sal daar nie siekte, depressie, pyn, eensaamheid, vrees, smart of enige van die dinge wat die lewe op aarde so moeilik maak, wees nie. God se Woord sê: ‘Maar die Son van Geregtigheid, met genesing in sy vlerke, sal opkom vir hulle wat eerbied en respek vir My het…’ (Maleagi 4:2 NLV). Jesaja skryf: ‘Dié wat die Here bevry het, sal terugkeer na Sion. Hulle sal sing van blydskap, hulle sal vol vreugde wees, ellende en smart sal verdwyn’ (Jesaja 35:10 NLV).
Wanneer ons ‘n geliefde aan die dood afstaan, wonder ons of ons hulle in die hemel sal sien en sal herken. Ja! Jy sal nie minder in die hemel weet as wat jy op aarde geweet het nie. Paulus skryf: ‘Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder duidelik wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan’ (1 Korintiërs 13:12 NLV). Die hemel sal die grootste familiereünie van alle tye wees. Die beste deel daarvan: Ons sal nooit weer van mekaar geskei word nie.
Sielskos: Job 32-34; Luk 21:25-38; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29
2023-03-17
Psalm 51:9 NLV
Onthou jy toe die meeste restaurante vasgestelde ure gehad het? Hulle skedule het bepaal of jy honger moes gaan, al dan nie. Nie meer nie: nou kan jy enige tyd wanneer jy honger raak, by baie van jou gunsteling eetplekke inhardloop. Dis hoe God werk; Hy is 24/7 beskikbaar. Alhoewel gebed nie tot sekere tye beperk word nie, is daar sekere tye wat dit noodsaaklik is om met God te praat. Hier is twee van daardie tye:
1) Wanneer jy gesondig het. Jou emosies van skuld en skande, plus Satan ‘die aanklaer,’ sal jou aansê om God te vermy. Die enigste oplossing vir sonde is egter om na Hom toe te draai. Belas deur owerspel, misleiding en moord, het Dawid besef dat hy sy sonde aan God moet bely. ‘Neem weg my sonde met hisop sodat ek skoon kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees… Skep vir my ‘n rein hart, o God. Gee vir my ‘n nuwe, standvastige gees’ (verse 9, 12 NLV). Johannes het gesê God ‘…is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV). Het jy gesondig? ‘n Nuwe begin is net ‘n gebed weg.
2) Wanneer jy bekommerd en bang is. Jy hoef nie ver te kyk om dinge te kry om oor bekommerd te wees nie. Bekommernisse oor finansies, werk, gesondheid en familie kan jou gestres en angstig maak. Waarnatoe moet jy draai? Gebed is God se antwoord op vrees en angs. ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles… As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV).
Sielskos: Job 1-4; Luk 18:1-17; Ps 11; Spr 8:4-5