Liefde sonder voorbehoud

2020-02-06
Efesiërs 5:2 NLV

In Amerika sal jy soms motors sien met ‘n plakker wat aandui dat hulle kind ‘n ‘erestudent’ by ‘n spesifieke skool is. Terwyl ons almal goed oor die suksesse van ons kinders voel, kan twee potensiële probleme voorkom. Eerstens, is daar die natuurlike irritasie van die ouers wie se kinders sukkel of minder talentvol is. Een ma het ‘n plakker op haar kar geplak wat gelui het: ‘My kind kan jou erestudent opdons.’ ‘n Tweede probleem kom voor wanneer die trots van die familie op die skouers van ‘n onvolwasse kind rus. Jou kind is nie ontwerp om daardie vlak van druk te hanteer nie! Hulle moet weet dat hulle as gevolg van hulle eie unieke waarde geliefd is en aanvaar word. John McKay, die groot voetbalafrigter by die Universiteit van Suid-Kalifornië, het ‘n seun gehad wat ook ‘n suksesvolle voetbalspeler in die universiteit se span was. Toe iemand in ‘n onderhoud vir McKay vra om kommentaar oor sy seun se prestasies te lewer, het hy die volgende gesê: ‘Ja, ek is tevrede dat John Jr ‘n goeie seisoen hierdie jaar gehad het. Hy het hom goed van sy taak gekwyt en ek is trots op hom. Ek sou egter net so trots op hom gewees het indien hy glad nie gespeel het nie.’ Wonderlike antwoord! Sy seun sou nie sy pa se respek verloor as die volgende jaar mislukking en teleurstelling meebring nie, want sy plek in sy pa se hart was veilig en onafhanklik van sy prestasie. Dis die tipe liefde wat jou kinders van jou nodig het. ‘Ja, leef ‘n lewe van liefde. Christus het julle mos ook so liefgehad…’ Christus se liefde word nie op prestasies gebaseer nie; dis onvoorwaardelik, onbreekbaar en nimmereindigend. Joune moet ook so wees!

Sielskos: Jes 45-48; Matt 12:38-50; Ps 120; Spr 3:33-35

Daag jou eie denkwyses uit

2020-01-28
Spreuke 1:5 NLV

Soos jy jou foute in die lewe ondersoek, besef jy dat dit jou denke was wat die foute veroorsaak het en dis hoekom jy moet aanhou om jou eie denkwyses uit te daag. Hoe doen jy dit? Deur te leer om die manier wat ander mense dink te waardeer en om jouself aanhoudend aan mense wat anders as jy is, bloot te stel. Jy sal soos die mense met wie jy die meeste tyd spandeer, dink. Wanneer jy met mense tyd spandeer wat buite die boks dink, is jy meer geneig om nuwe moontlikhede te ondersoek. Ons kom egter maklik in die versoeking om op die manier van dink wat in die verlede gewerk het staat te maak – selfs wanneer dit nie in nuwe situasies werk nie. Wanneer dit jou doelwit is om die sukses wat jy reeds geniet het, te beskerm, slaan jy remme aan op die proses wat jou tot selfs groter sukses kan lei. Om aan ‘n goeie tradisie vas te hou is ‘n goeie idee. Jy moet egter onthou dat elke tradisie oorspronklik ‘n nuwe of selfs ‘n rewolusionêre idee was, maar dat elke tradisie nie noodwendig ‘n goeie idee vir die toekoms sal wees nie. Wanneer jy aan dit wat reeds in plek is vashou, staan jy verandering teë – selfs as die verandering ten goede is. Dis hoekom dit belangrik is om jou eie denkwyses uit te daag. Dr John Maxwell skryf: ‘In jou vroeë jare sal jy nie so verkeerd wees soos mense dink jy is nie. In jou latere jare sal jy nie so reg wees soos mense dink jy is nie. En deur al die jare sal jy beter wees as wat jy gedink het jy kan wees.’

Sielskos: Jes 12-16; Matt 10:21-31; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12

Wen-wen verhoudings

2020-01-20
Filippense 2:4 NLV

As jy net vir iemand iets gee om te sien wat jy daaruit kan terugkry, sal jy teleurgestel word. Die Bybel sê: ‘Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange.’ Wanneer jy jouself aan ‘n ander persoon vir daardie persoon se ontwikkeling en welstand oorgee, gee jy waarlik en sal God jou daarvoor seën. As jy ‘n ouer is of getroud is, sal jy dit uit persoonlike ervaring weet. Wat waardeer jou man of vrou die meeste? Geld in die bank, of jou tyd wat jy vrylik gee? Wat dink jy sal jou kinders eerder wil hê? ‘n Speelding, of jou volle aandag? Die mense wat vir jou lief is sal eerder vir jou, as die dinge wat jy hulle kan gee, wil hê. Dis wys om in jouself en jou loopbaan te belê, maar dit moet nooit ten koste van diegene wat die meeste saak maak, gebeur nie. As jy sukses in jou loopbaan behaal, maar jou geliefdes faal, sal jou sukses hol en jou spyt eg wees. Salomo was beroemd vir sy rykdom en wysheid. Tog het hy geskryf: ‘Ek het daarna nagedink oor alles wat ek bereik het, oor al die moeite wat ek gedoen het. En ek het besef hoe sinloos dit alles is. Dis niks anders as ‘n gejaag na wind nie…’ (Prediker 2:11 NLV). Leer uit sy foute. Moenie in goed belê nie, belê in verhoudings. Hier is hoe dit met die meeste verhoudings gaan: ‘Ek wen, jy verloor – ek wen slegs een keer. Jy wen, ek verloor – jy wen net een keer. Ons altwee wen – ons wen baie kere.’ Wanneer jy goed aan ander doen, belowe God dat goeie dinge na jou toe sal kom (sien Efesiërs 6:8).

Sielskos: Eks 30-32; Matt 8:18-27; Ps 89:1-14; Spr 2:20

Verstaan mekaar se gawes (2)

2020-01-09
Spreuke 29:18 NLV

Karen Williams verduidelik verder: ‘Om suksesvol as ‘n span te funksioneer, moet elke persoon opgelei word om te verstaan hoe die ander lede funksioneer. Dis die enigste manier wat hulle in staat gaan stel om te kommunikeer, omdat hulle almal verskillende “tale” praat. Die visioenêr moet die rasieleier word, wat die visie aanhoudend vir almal in die implementasievlak voorhou, sodat hulle kan onthou hoekom hulle doen wat hulle doen. Hulle moet verstaan dat die prosespersoon en die taakpersoon verskillende maatstawwe vir hulle eie sukses het en hulle moet vooruitgang en mylpale met lof en viering erken. Die prosespersoon moet in staat wees om die visioenêr te bemoedig dat die visie deur die prosesse bereik sal word. Hulle moet ook die taakpersoon aanmoedig om te besef dat elke taak noodsaaklik vir die sukses van die voltooide visie is en dat dit krities is dat hulle die take volgens die gedefinieerde prosesse moet voltooi. Net so moet die prosespersoon en die taakpersoon besef dat die visioenêr aanmoediging deur terugvoering wat hulle ondersteuning vir die visie demonstreer, nodig het. Die visioenêr kan nie sonder hierdie onderskraging lei nie. Die prosespersoon kan nie sonder hierdie onderskraging lei of dien nie. Die taakpersoon kan nie sonder hierdie onderskraging dien nie. Daar is verskillende maatstawwe vir elke persoon, wat hulle in staat stel om hulself as suksesvol in sy of haar spesifieke rol te sien. Die sleutel is natuurlik om die regte gawe in die regte rol te plaas, sy of haar waarde aan die hele span te kommunikeer en dit aanhoudend in die openbaar en privaat te ondersteun.’ Dis hoekom Paulus aan sy span geskryf het: ‘Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God’ (Filippense 1:3 NLV).

Sielskos: Eks 4-6; Matt 5:27-37; Ps 42:6-11; Spr 1:28-31

Die Here is hierdie jaar by jou

2020-01-02
Rigters 6:12 NLV

Daar word ‘n verhaal vertel van ‘n man wat ‘n arend se eier in die nes van ‘n werfhoender gesit het. Die arend het uitgebroei en tussen die klomp hoenders grootgeword. Sy hele lewe lank het die arend gedoen wat die hoenders gedoen het: in die grond vir sade en insekte geskrop, gekloek en gekekkel, en nooit meer as ‘n paar voet van die grond af gevlieg nie. Een dag het hy egter ‘n manjifieke voël gesien wat grasieus bo hom vlieg en gevra: ‘Wat ‘n pragtige skepsel? Wat word dit genoem?’ Die hoender langs hom het geantwoord: ‘Dis ‘n arend, die koning van alle voëls. Moet jou nie aan hom steur nie, want jy sal nooit soos hy wees nie.’ Dus het die arend teruggegaan om in die grond te pik en gesterf met die idee dat hy ‘n werfhoender was. Wie het vir jou gesê dat jy nie potensiaal het nie? Wie het vir jou gesê dat jy nie sukses in die lewe sal behaal of ‘n impak sal maak nie? Verseker nie God nie! Toe die Engel van die Here vir Gideon geroep het om Israel van die Midianiete te red, het hy met ‘n lang lys verskonings, gereageer. Die engel het egter vir hom gesê: ‘…Die Here is by jou, dapper man!… Gaan met hierdie krag wat jy het en gaan bevry die Israeliete..! Dis Ek wat jou stuur’ (verse 12-14 NLV). Let twee belangrike dinge in hierdie verhaal op. Eerstens het God oor Gideon se lewensdoel, nie sy huidige omstandighede nie, gepraat. Tweedens het God hom daaraan herinner dat dit nie van die gestuurde se krag nie, maar van die Een wat hom stuur se krag sou afhang of die stryd gewen sal word. Jy is vandag magtig, omdat God by jou is.

Sielskos: 1 Kor 1-4; Matt 3:11-17; Ps 90:1-6; Spr 1:1-4