Daag jou eie denkwyses uit

2020-01-28
Spreuke 1:5 NLV

Soos jy jou foute in die lewe ondersoek, besef jy dat dit jou denke was wat die foute veroorsaak het en dis hoekom jy moet aanhou om jou eie denkwyses uit te daag. Hoe doen jy dit? Deur te leer om die manier wat ander mense dink te waardeer en om jouself aanhoudend aan mense wat anders as jy is, bloot te stel. Jy sal soos die mense met wie jy die meeste tyd spandeer, dink. Wanneer jy met mense tyd spandeer wat buite die boks dink, is jy meer geneig om nuwe moontlikhede te ondersoek. Ons kom egter maklik in die versoeking om op die manier van dink wat in die verlede gewerk het staat te maak – selfs wanneer dit nie in nuwe situasies werk nie. Wanneer dit jou doelwit is om die sukses wat jy reeds geniet het, te beskerm, slaan jy remme aan op die proses wat jou tot selfs groter sukses kan lei. Om aan ‘n goeie tradisie vas te hou is ‘n goeie idee. Jy moet egter onthou dat elke tradisie oorspronklik ‘n nuwe of selfs ‘n rewolusionêre idee was, maar dat elke tradisie nie noodwendig ‘n goeie idee vir die toekoms sal wees nie. Wanneer jy aan dit wat reeds in plek is vashou, staan jy verandering teë – selfs as die verandering ten goede is. Dis hoekom dit belangrik is om jou eie denkwyses uit te daag. Dr John Maxwell skryf: ‘In jou vroeë jare sal jy nie so verkeerd wees soos mense dink jy is nie. In jou latere jare sal jy nie so reg wees soos mense dink jy is nie. En deur al die jare sal jy beter wees as wat jy gedink het jy kan wees.’

Sielskos: Jes 12-16; Matt 10:21-31; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12