2019-12-29
2 Korintiërs 12:7 NLV
Die Bybel sê nie vir ons wat Paulus se doring in sy vlees was nie, maar Paulus sê vir ons hoekom God dit toegelaat het: ‘…sodat ek nie hoogmoedig moet word nie…’ Verhoogde prestasie en sukses kan tot verhoogde hoogmoed en onafhanklikheid van God lei. Het jy al agtergekom dat wanneer dit goed in jou lewe gaan, dit soms moeilik raak om naby aan God te bly? Ons dink partykeer dat God so goed vir ons is, omdat ons so goed vir Hom is. Ons moet altyd hierteen waak. God kan enigiets ten goede van jou en tot sy verheerliking gebruik. In sy wysheid en geduld, laat Hy iets toe wat ons dink bedoel is om ons seer te maak, maar Hy keer dit om en gebruik dit om ons te help. Hy balanseer seëninge met laste. As God jou hande net met seëninge gevul het, sou jy uiteindelik op jou gesig geval het. As Hy aanhoudend laste op jou rug gelaai het, sou jy agteroor geval het. Dus verdeel Hy seëninge en laste sodat ons in balans kan bly. Dis maklik om van balans af te raak. Ons raak so vasgevang in die vreugde van die hemel, dat ons ons roeping om die sout en lig hier op aarde te wees, verwaarloos. Ons raak so betrokke by die werk van die Here, dat ons nie tyd saam met die Here van die werk spandeer nie. Ons raak so betrokke by die kerk dat ons die liefde en aandag wat ons families nodig het, van hulle steel. Dus bring God ons terug in balans deur vir ons ‘n doring te gee.
Sielskos: Heb 11:1-6; Matt 21:18-22; Matt 8:5-13; Mark 6:1-6
2019-11-29
Matteus 25:23 NLV
In 1975 het ‘n lae-vlak Hewlett Packard ingenieur genaamd Steve Wozniak, van wie niemand al gehoor het nie, ‘n droom met sy vriend, Steve Jobs, gedeel. Dit het gegaan oor om ‘n verbruikersvriendelike persoonlike rekenaar te bou en dit aan die massas regoor die wêreld te verkoop. Die twee vriende het maande aaneen gewerk om hulle eie kompakte persoonlike rekenaar te skep. Toe hulle dit egter aan Hewlett Packard, een van die wêreld se grootste maatskappye, aangebied het, het die grootkoppe in die maatskappy nie die ontsaglike potensiaal daarvan raakgesien nie en het hulle dit afgekeur. Wozniak en Jobs het toe op hulle eie aangegaan en ‘n klein maatskappy genaamd Apple Computers gestig – en die rekenaarindustrie op sy kop gekeer! Daar is nie ‘n tekort aan mense wat vir jou sal sê: ‘Dit kan nie gedoen word,’ of ‘Dit kan nie werk,’ nie. Sulke mense word ‘droommoordenaars’ genoem – en as jy na hulle luister sal jy tou opgooi nog voor jy begin het. Agter elke groot prestasie sal jy gewone mense met drome, wat gewillig is om die verantwoordelikheid en risiko’s te neem, vind. Hulle is die mense wat die belonings sal geniet! Jesus het een van sy gelykenisse met die volgende woorde geëindig: ‘…Uitstekend! Jy is ‘n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees.’ As jy gewillig is om ten spyte van jou mislukkings, jou stryd en jou beperkinge, die negatiewe kritiek te ignoreer, in geloof uit te tree en die gawes wat God jou gegee het te gebruik, sal Hy seker maak dat jy sukses behaal.
Sielskos: Jos 11-13; Joh 15:5-17; Ps 14; Spr 28:13-16
2019-11-28
Habakuk 2:3 NLV
Een sendeling evangelis skryf: ‘Daar is tye en seisoene in God se wil. Ons kan maklik gefrustreerd raak as ons nie verstaan dat daar, net soos wat daar in die natuur tye en seisoene is, ook tye en seisoene in die proses om God se wil vir ons lewens te vervul, is nie. Jare gelede het ‘n groep senior sendelinge bymekaar gekom om die lewensbeginsels wat hulle ontdek het te bespreek. Hulle doelwit was om hierdie rykdom van ervarings met die nageslagte wat hulle sou opvolg, te deel. Hulle het almal ooreenstemmende oorgangsvlakke in hulle bedieninge gevind en saam het hulle ‘n vyf-stap sikliese proses geïdentifiseer waardeur God hulle geneem het.’ Tydsberekening is belangrik! Toe die grootkoppe by Decca Records vir die Beatles gesê het: ‘Groepe met kitare is op pad uit,’ het hulle ‘n kontrak met EMI geteken – en die res is geskiedenis! Moenie die les hierin misloop nie. Elkeen van ons is op aarde as opsigter van God se besigheid geplaas. Dis waar, of jy nou ‘n skoonmaker of ‘n regter is. Jy het ‘n taak in die lewe gekry en is verantwoordelik om dit te versorg, te belê, te vermeerder en dit terug aan God te besorg. Deur eenvoudig te sê: ‘Ek was bang om te misluk,’ of ‘Ek was bang om gekritiseer te word,’ of ‘Ek het nie gedink dat ek goed genoeg is nie,’ sal nie werk nie. Soos Ralph Waldo Emerson gesê het: ‘Verskonings vervang altyd vooruitgang.’ God sal jou pogings en foute aanvaar, maar Hy sal nie jou verskonings hoekom jy nie probeer het nie, aanvaar nie. Bid dus, aanvaar verantwoordelikheid en tree in geloof op. Jy mag dalk talle kere op jou pad na sukses misluk, maar as jy aanhou probeer en God vertrou, sal jy uiteindelik sukses behaal.
Sielskos: Jos 8:30-10:43; Joh 14:26-15:4; Ps 146; Spr 28:9-12
2019-09-28
1 Petrus 5:5-7 NLV
Iemand het geskerts: ‘Die probleem met sukses is dat die formule daarvoor dieselfde formule is as vir ‘n senu-ineenstorting.’ Die Bybel gee ons die regte formule vir ‘n suksesvolle lewe. Dit sluit drie areas in: outoriteit, houding en versekering. ‘…erken die gesag van die ouderlinge… Word daarom klein onder die kragtige hand van God… Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.’ Kom ons kyk na elk van hierdie drie areas: 1) Onderwerp jouself aan diegene wat wys is. Luister na hulle raad, word aanspreeklik, aanvaar teregwysing, aanvaar voorstelle, respekteer ervaring en volg ‘n waardige voorbeeld. Eers wanneer jy raad kan aanvaar, sal jy gekwalifiseerd wees om dit te kan gee. Eers wanneer jy leierskap respekteer en jouself daaraan onderwerp, sal jy gekwalifiseerd wees om ander te kan lei. 2) Word nederig. In die Skrif simboliseer die ‘hand’ van God twee dinge: sy dissipline en sy verlossing. Wanneer jy nederig voor Hom word, aanvaar jy dat sy dissipline goed is vir jou. Jy erken ook sy gewilligheid om op jou hulpkreet te antwoord en jou te red op enige manier wat Hy kies om dit te doen. 3) Werp jouself op God se genade en sorg. Moeilikheid en teleurstelling sal vir seker kom en wanneer dit gebeur, moet jy jouself in God se arms werp. Die situasie mag dalk vir jou te groot wees, maar dit is nooit te groot vir Hom nie. Beteken dit dat daar nie ‘n plek vir beplanning, doelwitte en harde werk is nie? Nee, dit beteken net dat jy gewillig is om dinge op God se manier te doen, wat altyd die beste is.
Sielskos: 1 Sam 27-31; Matt 28:11-20; Ps 63; Spr 22:17-23
2019-09-05
Johannes 18:37 NLV
Toe Jesus voor Pilates gestaan het, het Hy gesê: ‘…Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom, met die doel om vir die waarheid getuienis af te lê…’ Jesus het geweet waarvoor Hy gebore is en wat Hy geroep is om te doen en Hy het soos ‘n laser daarop gefokus. Jy is geroep om in sy voetspore te volg (sien 1 Petrus 2:21). Daar is drie tipes mense: 1) Diegene met geen lewensdoel nie. Die swerwers, wat doelloos deur die lewe gaan. Hulle gaan skool toe, kry ‘n werk, kry ‘n ander werk, vind ‘n eggenoot, kry ‘n nuwe eggenoot, trek van huis tot huis en plek tot plek, tree af en sterf uiteindelik. Hulle lewe nie regtig nie; hulle bestaan net. 2) Diegene wat die verkeerde lewensdoel het. Hulle mag dalk oorpresteerders wees, mense wat die lere van finansiële, politieke en sosiale sukses uitgeklim het, net om uit te vind dat hulle leer teen die verkeerde muur gestaan het. Hulle het dit of te laat agtergekom, of hulle het nooit besef dat hulle ‘n lewe wat ander mense positief kon beïnvloed het, misgeloop het nie. 3) Diegene wat die regte lewensdoel het. Hulle weet hoekom hulle geskep is. Hulle weet hoekom God hulle hier op aarde geplaas het en hulle lewe draai daarom om hierdie doel te vervul. Dit is die lewe wat ‘n glimlag op God se gesig plaas. Dit is sukses wat volhoubaar is. Dit het niks met populariteit, mag of besittings te doen nie. Dit het alles met jou lewensdoel te make, omdat dit die enigste ding is wat ‘n Godgegewe versekering van sukses meebring. Weet jy wat jou lewensdoel is? Indien nie, vra God en Hy sal dit aan jou openbaar.
Sielskos: Eseg 34-36; Matt 23:23-39; Ps 78:1-8; Spr 20:7-10