Wen-wen verhoudings

2020-01-20
Filippense 2:4 NLV

As jy net vir iemand iets gee om te sien wat jy daaruit kan terugkry, sal jy teleurgestel word. Die Bybel sê: ‘Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange.’ Wanneer jy jouself aan ‘n ander persoon vir daardie persoon se ontwikkeling en welstand oorgee, gee jy waarlik en sal God jou daarvoor seën. As jy ‘n ouer is of getroud is, sal jy dit uit persoonlike ervaring weet. Wat waardeer jou man of vrou die meeste? Geld in die bank, of jou tyd wat jy vrylik gee? Wat dink jy sal jou kinders eerder wil hê? ‘n Speelding, of jou volle aandag? Die mense wat vir jou lief is sal eerder vir jou, as die dinge wat jy hulle kan gee, wil hê. Dis wys om in jouself en jou loopbaan te belê, maar dit moet nooit ten koste van diegene wat die meeste saak maak, gebeur nie. As jy sukses in jou loopbaan behaal, maar jou geliefdes faal, sal jou sukses hol en jou spyt eg wees. Salomo was beroemd vir sy rykdom en wysheid. Tog het hy geskryf: ‘Ek het daarna nagedink oor alles wat ek bereik het, oor al die moeite wat ek gedoen het. En ek het besef hoe sinloos dit alles is. Dis niks anders as ‘n gejaag na wind nie…’ (Prediker 2:11 NLV). Leer uit sy foute. Moenie in goed belê nie, belê in verhoudings. Hier is hoe dit met die meeste verhoudings gaan: ‘Ek wen, jy verloor – ek wen slegs een keer. Jy wen, ek verloor – jy wen net een keer. Ons altwee wen – ons wen baie kere.’ Wanneer jy goed aan ander doen, belowe God dat goeie dinge na jou toe sal kom (sien Efesiërs 6:8).

Sielskos: Eks 30-32; Matt 8:18-27; Ps 89:1-14; Spr 2:20