2021-12-15
Efesiërs 1:11 NLV
God kan die verkeerde besluite van die mense rondom jou in jou guns laat werk. In plaas daarvan om dus iemand te soek om te blameer, probeer om die hand van God aan die werk in jou situasie te soek.
Josef het drie dinge ontdek: 1) Wanneer God jou in ‘n paleis wil hê, kan niemand jou in die tronk hou nie. 2) Jou toekoms is nie in ander mense se hande nie; dis in God se hande. 3) Jou Godgegewe lewensopdrag het nie ander mense se samewerking of goedkeuring nodig nie, maar dit verg wel die samewerking van een persoon – jy.
Josef se broers het die verkeerde besluit geneem deur hom kwalik te neem. Potifar se vrou het die verkeerde besluit geneem deur hom vals te beskuldig. Die bakker het die verkeerde besluit geneem deur sy rug op hom te draai. God het dit egter nie gedoen nie! Hy het elke tree wat Josef geneem het bepaal, al die pad tot by die troon toe. Jare later het Josef van aangesig tot aangesig met diegene wat hom so sleg behandel het, gekom en gesê: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is…’ (Genesis 50:20 NLV).
God se doelwitte sal altyd mense se planne oorkom. Niemand kan God daarvan weerhou om jou te gebruik, te seën en vir jou sukses te gee nie, behalwe jyself. Maak dus seker dat jou hart en houding reg is! Paulus skryf: ‘Deur wat Christus gedoen het, het ons ook deel van God se eie volk geword. Ons was vooraf daartoe bestem! Dit was God se doel! Hy het alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het’ (Efesiërs 1:11 NLV). Soek dus God se hand in alles.
Sielskos: Miga 5-7; Joh 19:30-42; Ps 105:23-36; Spr 30:15-19
2021-09-12
Psalm 112:8 AFR53
Om sukses in die lewe te behaal, is daar drie struikelblokke waarvan jy bewus moet wees en moet oorkom:
1) Moegheid. Daar word beweer dat die perd wat die Kentucky Derby wen, na die eerste halwe myl uit suurstof uit hardloop en die res van die wedloop net met ‘hart’ hardloop. Ondersoek dus vandag jou hart en kyk of jy waarlik toegewyd is. ‘…As julle aanhou glo, dan gee God vir julle ‘n groot beloning. Daarom moet julle aanhou om te glo, en julle moet doen wat God wil hê sodat julle die dinge kan kry wat Hy vir julle belowe het’ (Hebreërs 10:35-36 ABA).
2) Vrees. Wanneer dit by toewyding kom, is daar vier tipes mense: a) Leeglêers: mense wat geen doelwitte het nie en wat hulself aan niks toewy nie. b) Bangbroeke: Mense wat nie weet of hulle hul doelwitte kan bereik nie en dus te bang is om hulself daaraan toe te wy. c) Ophouers: mense wat begin om na ‘n doelwit te werk, maar ophou wanneer dit moeilik raak. d) Vasbyters: mense wat doelwitte stel en die prys betaal om hulle te behaal. Watter een van die vier is jy? Vrees en geloof sal altyd in jou lewe teenwoordig wees en die een wat jy kies, sal bepaal of jy sukses behaal of misluk.
3) Selfvoldaanheid. Die suksesvolle besigheidsman, Ray Kroc, het gesê: ‘Solank as wat jy groen is, groei jy. Sodra jy ryp is, begin jy verrot.’ As jy wys is, sal jy gereeld rus om verfris te word, jouself te vernuwe en te herfokus. Jy moet egter nie op gister se suksesse rus of op vandag se momentum staatmaak nie. Wees soos Paulus: ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe…’ (Filippense 3:13-14 NLV).
Sielskos: Jona 1:10-2:10; Matt 12:38-42
2021-08-16
2 Kronieke 26:5 NLV
Dink oor die volgende vrae na en beantwoord hulle eerlik.
1) Glo jy dat jy terselftertyd suksesvol en geestelik kan wees? Sommige mense stel armoede aan nederigheid gelyk en kom tot die gevolgtrekking dat suksesvolle mense nie nederig kan wees nie. Dis egter nie die geval nie. ‘So lank as wat [Ussia] die Here se wil nagestreef het, het God hom sukses gegee.’ Sukses gee jou nie die reg om op ander mense neer te kyk nie, maar wanneer suksesvolle mense praat, luister ander mense. Leiers soos Josef en Daniël het hele nasies vir God beïnvloed. Die feit is dat ons ‘n boodskap van hoop het wat ander mense moet hoor, maar as ons nie genoegsame hulpbronne het nie, hoe sal hulle dit hoor? (sien Romeine 10:14-17). As jy met minder tevrede is, bid vir groter geloof en begin hoër in die lewe mik.
2) Is jy bang vir sukses? Miskien vrees jy die druk wat daarmee gepaardgaan gaan en die prys wat jy daarvoor sal moet betaal. Leierskap is eensaam; miskien sal jy eerder by die skare inval. Miskien het jy geval en is jy bang om weer op te staan. Toe Thomas Edison oor sy sukses uitgevra is, het hy geantwoord: ‘Ek begin waar ander mense ophou!’ Paulus het geskryf: ‘ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie’ (2 Korintiërs 4:9 NLV).
3) Is jy tevrede met hoe dinge tans is? As jy nie is nie, moet jy verantwoordelikheid vir jou lewe neem en ‘n tree in geloof neem. Uiteindelik is die enigste persoon wat jou kan keer om die mens te wees wat God bedoel het jy moet wees – jyself! God wil hê dat jy sukses moet behaal.
Sielskos: Rig 9:34-11:40; Luk 14:1-14; Ps 119:73-80; Spr 20:25; Pred 5:4-6
2021-07-29
Genesis 24:19 NLV
Een dag het Abraham sy slaaf gestuur om ‘n vrou vir sy seun, Isak, te vind. Toe hy by ‘n klein dorpie se waterput aankom, het die slaaf gebid: ‘Laat die meisie wat aanbied om vir my kamele water te skep, die een wees wat U vir Isak gekies het.’ Skielik het Rebekka daar aangekom en vir hom gesê: ‘Ek sal sommer ook vir jou kamele water skep’ (sien Genesis 24:13-14). Rebekka het geen idee gehad dat haar lewe op die punt was om te verander nie. Sy het nie geweet dat haar goedhartige gebaar die deur tot groot seëninge sou oopmaak nie.
In die Ou Testament was dit die gebruik om water vir ‘n vreemdeling aan te bied. Dit was die wet van gasvryheid. Die Hebreërs het die volgende woorde geglo: ‘Moenie nalaat om gasvry te wees nie. Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang!’ (Hebreërs 13:2 NLV).
Maar wie op aarde bied water vir dors kamele aan? Een kameel kan 150 liter water drink en die slaaf het tien kamele by hom gehad. Dis ‘n halwe dag se projek! Wat Rebekka egter nie geweet het nie, is dat daardie kamele haar na Isak toe sou vat, wat haar sy bruid sou maak en haar deel van Christus se stamboom sou maak.
As jy dus sukses wil behaal, daag vroeg op, bly laat agter, werk hard en los probleme op. Lewe volgens Christus se opdrag om die ekstra myl te gaan (sien Matteus 5:41). Die sleutel tot sukses in die lewe is om nie slegs te doen wat van jou verwag word nie, maar bietjie ekstra. Ja, kamele is onaangenaam en lelik, maar uit daardie lelike situasie het een van die mooiste dinge wat ooit met Rebekka gebeur het, gekom.
Sielskos: Deut 8-10; Luk 10:1-12; Ps 78:9-16; Spr 16:25
2021-07-11
Lukas 5:9 NLV
Les twee: God is geïnteresseerd in jou sukses. Petrus het geweet dat Jesus ‘n wonderlike leermeester is en dat Hy selfs die siekes gesond kon maak. Petrus het heel waarskynlik die beste nette gehad, ‘n goeie boot besit en presies geweet waar om die meeste vis te vang. Sy inkomste het van ‘n goeie vangs afgehang. Nadat hy egter heelnag niks gevang het nie, het Petrus die beste skuif van sy lewe gemaak: Hy het Jesus by sy besigheid betrek!
Het jy geweet dat God wil hê dat jy sukses moet behaal? Wil jy nie graag hê dat jou kinders sukses moet behaal nie? Net so, wil God dit ook hê. Die vraag is: Neem jy God saam werk toe? Is jou besigheid beskikbaar vir Hom om enige tyd te gebruik? Laat jy Hom toe om mense deur jou te bereik? Ons probeer dikwels om die sekulêre apart van die geestelike te hou; ons hou ons Christelike lewe mooi afgesonder van ons loopbaan. Dit verhoed God egter om jou besigheid of werk te seën.
Wanneer jy dit besef, sal jy wys wees om volgens die beginsels van die Skrif te begin optree. Hier is een van God se suksesbeginsels vir jou besigheid of loopbaan: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (Josua 1:8 NLV). God, wat die hoof uitvoerende beampte van die heelal is, sê: ‘…Ek is die Here jou God wat jou leer wat vir jou reg is. Ek lei jou op die pad waarop jy moet loop’ (Jesaja 48:17 NLV). Eis vandag hierdie belofte op!
Sielskos: Rut 1:3-18; Joh 6:41-69