Visvanglesse (2)
2021-07-11Lukas 5:9 NLV
Les twee: God is geïnteresseerd in jou sukses. Petrus het geweet dat Jesus ‘n wonderlike leermeester is en dat Hy selfs die siekes gesond kon maak. Petrus het heel waarskynlik die beste nette gehad, ‘n goeie boot besit en presies geweet waar om die meeste vis te vang. Sy inkomste het van ‘n goeie vangs afgehang. Nadat hy egter heelnag niks gevang het nie, het Petrus die beste skuif van sy lewe gemaak: Hy het Jesus by sy besigheid betrek!
Het jy geweet dat God wil hê dat jy sukses moet behaal? Wil jy nie graag hê dat jou kinders sukses moet behaal nie? Net so, wil God dit ook hê. Die vraag is: Neem jy God saam werk toe? Is jou besigheid beskikbaar vir Hom om enige tyd te gebruik? Laat jy Hom toe om mense deur jou te bereik? Ons probeer dikwels om die sekulêre apart van die geestelike te hou; ons hou ons Christelike lewe mooi afgesonder van ons loopbaan. Dit verhoed God egter om jou besigheid of werk te seën.
Wanneer jy dit besef, sal jy wys wees om volgens die beginsels van die Skrif te begin optree. Hier is een van God se suksesbeginsels vir jou besigheid of loopbaan: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (Josua 1:8 NLV). God, wat die hoof uitvoerende beampte van die heelal is, sê: ‘…Ek is die Here jou God wat jou leer wat vir jou reg is. Ek lei jou op die pad waarop jy moet loop’ (Jesaja 48:17 NLV). Eis vandag hierdie belofte op!
Sielskos: Rut 1:3-18; Joh 6:41-69