2022-05-23
Romeine 13:14 NLV
Aangesien eerste indrukke saak maak, word ons aangemoedig om stylvolle klere aan te trek om sodoende sukses te behaal. Dis ‘n goeie ding. As verloste kind van God moet jou eerste belang egter nie wees oor hoe jy vir ander mense lyk nie, maar vir God. Net soos ‘n spieël jou fisiese voorkoms reflekteer, so openbaar die Bybel jou geestelike toestand. Jakobus skryf: ‘…As jy altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is dit so goed of jy kyk na jou gesig in die spieël sonder om iets aan jou voorkoms te doen. Jy bekyk jouself, gee pad, en vergeet wat jy gesien het. As jy jou egter verdiep in God se volmaakte wet – dié wet wat ‘n mens vrymaak – en jy dóén wat die wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen’ (Jakobus 1:23-25 NLV).
Jy moet elke dag tyd met die Skrif bestee; anders sal jou geestelike klere verslete word. Paulus skryf: ‘Nee, soos ‘n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus ‘aantrek’, en nie ‘n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie’ (Romeine 13:14 NLV).
Soos Chuck Swindoll opmerk: ‘Die grootste vyand van verandering is die selfvoldane sondige natuur binne jou. Soos ‘n bedorwe kind, het jy dit jare lank bevredig en daaraan toegegee, dus sal dit nie sonder ‘n woede-aanval tou opgooi nie. Die vlees sterf ‘n stadige, bittere, bloederige dood – skoppend en stoeiend al die pad af ondertoe.’
Blywende verandering vind nie maklik plaas nie. Verwag dus af en toe terugslae en moenie dat dit jou van stryk bring nie. Wanneer jy voel dat jy wil tou opgooi, gaan op jou knieë en vra God om jou weer op koers te bring. Hy sal dit doen.
Sielskos: Heb 1-4; Matt 11:20-30; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29
2022-04-07
Johannes 4:34 NLV
In plaas daarvan om Jesus tot die kerk op Sondae te beperk, kom ons bestudeer sy werksfilosofie (houding, waardes en beginsels) oor hoe om dinge gedoen te kry. Die beginsels waarvolgens Hy geleef het, verg die volgende:
1) Om duidelikheid oor jou opdrag te hê. Jesus het verstaan dat fokus nodig is om vaardighede en geleenthede ten volle te benut. As jy dus talentvol, energiek en aktief is en steeds nie konkrete resultate sien nie, mag jou probleem dalk ‘n gebrek aan fokus wees. Toe Nehemia besig was om Jerusalem se mure te herbou, het sy vyande ‘n boodskap gestuur en gesê: ‘…Kan ons mekaar… ontmoet?…’ (Nehemia 6:2 AFR83). Nehemia het egter geantwoord: ‘…Ek is met ‘n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou en julle ontmoet nie'(vers 3 NLV).
2) Om jou take in die volgorde van belangrikheid te prioritiseer. Wanneer jy nie die belangrikste take eerste doen nie, begin take hulself volgens hulle dringendheid reël. Wanneer dit gebeur, loop jy groot geleenthede mis. Die Bybel sê Jesus: ‘…moes deur Samaria reis’ (Johannes 4:4 NLV). Vir sy dissipels het dit seker soos ‘n afleiding gelyk, want dit was nie die kortste roete na hulle bestemming nie. Daar was egter ‘n vrou in Samaria wat Jesus wou verlos; iemand deur wie Hy ‘n hele stad met die evangelie sou bereik. Jesus was duidelik oor sy prioriteite. Is jy?
3) Om ‘n noukeurige rooster te skep. Met ander woorde, stel spertye vir jouself en hou daarby. Jesus het geweet dat Hy net drie-en-‘n-half jaar gehad het om sy werk te doen en Hy het elke dag laat geld. Een van die grootste leuens wat ons vir onsself vertel is: ‘Ek sal later daarby uitkom.’ Om sukses in die lewe te behaal, moet jy Jesus se werksfilosofie as jou bloudruk aanneem.
Sielskos: Lev 11:1-13:37; Luk 22:24-38; Ps 50:16-23; Spr 9:12
2022-03-30
2 Petrus 1:6 NLV
Het jy al ooit agtergekom dat ons geneig is om ons omstandighede, in plaas van ons tekortkominge, te blameer? Ons skryf ons probleme aan ons swak opvoeding, finansiële moeilikhede of aan ander mense se tekortkominge, toe. Net soos jy nie die spieël kan blameer vir hoe jy lyk nie, net so kan jy ook nie jou karakterfoute op jou omstandighede blameer nie.
Integriteit is altyd ‘n keuse en elke keer wat jy ‘n karakter-gebaseerde besluit maak, neem jy ‘n tree vorentoe in jou geestelike groei. Dink aan die kere wat jy voor versoeking en teenstand te staan gekom het. Skryf hulle neer en dui langs elkeen die keuse wat jy gemaak het aan: om te ontsnap, te verskoon, in te gee, te vermy, uit te hou of te oorkom. Watter probleemareas kan jy identifiseer? Hoe kan jy beter doen? As die dinge wat jy neergeskryf het buite jou beheer was, kies dan om groter beheer van jou lewe te neem.
Hoe? Deur selfbeheersing toe te pas. Karakter word gebaseer op dit wat ons doen wanneer niemand anders kyk nie – hoe ons die lewe se klein ergenisse hanteer en hoe ons mislukking – en sukses – hanteer. Aan die einde van ‘n briljante loopbaan, het Josua vir Israel met hierdie woorde uitgedaag: ‘As julle nie die Here wil aanbid nie, moet julle vandag vir julleself besluit wie julle dan wil aanbid… Ek en my huisgesin sal die Here aanbid’ (Josua 24:15 NLV).
Karakter word op selfbeheersing gebaseer en selfbeheersing gaan daaroor om die regte besluite te neem. Die goeie nuus is dat jy dit nie alleen hoef te doen nie: ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV).
Sielskos: Job 38-39; Luk 20:27-40; Ps 6; Spr 8:32-33
2022-02-22
2 Timoteus 4:7 NLV
Seneca die Jonger het gesê: ‘Sukses gebeur wanneer voorbereiding, geleentheid ontmoet.’ Soos jy in die Skrif van die mense wat God gebruik het om groot dinge te bereik, lees, sal jy agterkom dat hulle baie tyd bestee het om vir ‘n relatiewe kort opdrag voor te berei. Die ego in elkeen van ons smag na twee dinge – die kollig en ‘n lang lewe! Vir God maak net een ding egter saak: om sy wil te doen. Wanneer jy soos Paulus kan sê: ‘Ek het die wedloop voltooi,’ het jy suksesvol gelewe.
Vir wie gebruik God dus? Diegene wat voorbereid is! Of jy nou na besigheid, kuns, opvoeding, politiek, die mediese veld of die bediening geroep word, bly hierdie beginsel onveranderd: Die wat voorbereid is, ontvang geleenthede. Disraeli het gesê: ‘Een geheim tot sukses in die lewe is vir ‘n man om gereed te wees wanneer sy tyd kom.’ Dis ook nie genoeg om net eenvoudig voorbereid te word nie, jy moet voorbereid bly. Salomo skryf: ‘Hou vas aan die reëls wat ek jou leer. Moet dit nie laat los nie. Bly daarby, want dit verryk jou lewe’ (Spreuke 4:13 NLV).
Kennis in die meeste velde verdubbel ongeveer elke vyf jaar en tensy jy aanhou groei, sal jy met verouderde vaardighede opeindig wat nie by die uitdagings van die wêreld waarin jy leef, aanpas nie. Wanneer jy glo dat more se sukses van vandag se voorbereiding afhang, sal jy vandag anders sien. Koningin Elizabeth I het na bewering die koninklike geneeshere die helfte van haar boedel aangebied indien hulle haar lewe kon verleng. Hulle kon natuurlik nie. Ons lewens is kort, dis hoekom die Bybel sê: ‘Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom’ (Psalm 90:12 AFR83).
Sielskos: Jes 58-62; Luk 11:1-13; Ps 36; Spr 5:21-23
2022-02-18
Psalm 119:18 NLV
Die sleutel tot Bybelstudie is om dit daagliks, sistematies en met gebed, te doen. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie.’
Dit behels drie dinge: 1) God sal jou die waarheid oor Homself wys. Jy sal sy aard, sy opinie en dit wat Hy waardeer, ontdek. As jy met ‘n afwesige ouer grootgeword het, sal jy ontdek dat jou hemelse Vader heeltemal anders is – liefdevol en anders!
2) God sal vir jou die waarheid oor ander mense wys. Jy sal begin om hulle plek in jou lewe te verstaan en te waardeer. Jy sal ook leer om hulle behoeftes en die rol wat God wil hê jy moet speel om hulle te help, te herken en te antisipeer. Jy sien, wanneer God jou seën, is dit altyd om jou ‘n seën vir ander mense te maak (sien Genesis 12:1-2).
3) God sal vir jou die waarheid oor jouself wys. Jy sal begin verstaan en waardeer hoe belangrik jy vir Hom is. Ja, Hy sal jou probleme en swakpunte uitwys. Hy sal egter meer as dit doen. Hy sal vir jou die potensiaal wat Hy in jou sien en die planne wat Hy vir jou het (sien Jeremia 29:11), openbaar.
Maak dus elke dag tyd om jou Bybel te bestudeer. Bestee ‘n gedeelte van die tyd om eenvoudig die Skrif te lees, sonder om in komplekse teologiese konsepte te probeer delf. Lees en absorbeer wat God te sê het en laat sy Gees toe om met jou hart te praat.
Hier is nog ‘n gedagte: Aangesien die Bybel die enigste boek is wat God ooit geskryf het en jy eendag voor die Skrywer self gaan staan, sal jy nie graag vir Hom wil sê dat jy sy boek gelees het nie?
Sielskos: Jes 45-48; Luk 10:13-24; Ps 28; Spr 5:3-6