Beweeg van mislukking tot sukses (1)

2024-02-06
Hebreërs 11:34 NLV

Die skrywer van Hebreërs het gesê: ‘…Dit sal veels te lank neem om nog te vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en die profete… Hulle het krag in hulle swakheid ontvang, was magtig in die oorlog en het vreemde leërs op die vlug laat slaan’ (verse 32-34 NLV). Sommige van die grootste suksesverhale in die Skrif is oor mense wat met swakhede en karakterfoute gesukkel het. Hulle was vasgevang in oënskynlike mislukking en nederlaag, maar deur God se genade het hulle die struikelblokke teen hulle oorkom. Die oorheersende tema van die Bybel is opstanding – om weer op te staan! Hier is die vraag: As jy nie mislukking kan vermy nie en jy nie veronderstel is om dit te aanvaar nie, hoe moet jy dit dan hanteer?

Eerstens, verander jou houding. Die strokiesprentkarakter Homer Simpson het die houding van baie van ons opgesom toe hy gesê het: ‘Kinders, julle het jul bes probeer en liederlik gefaal. Die les is om nooit te probeer nie.’ Nodeloos om te sê is Homer ‘n klassieke onderpresteerder! Hy skerts in ‘n ander episode: ‘Om te probeer is die eerste stap tot mislukking.’ Homer probeer nooit, dus bly hy soos baie mense vasgevang waar hy is.

Die mense wat sukses in die lewe behaal het geloof en volharding. Hulle weier om tou op te gooi; hulle het besluit dat hulle nie gaan toelaat dat mislukking hulle oorwin nie. Let die woorde: ‘…Hulle het krag in hulle swakheid ontvang…,’ op. Jy mag dalk swak begin, maar deur God se genade kan jy sterk word. Jy kan uit die as van mislukkings opstaan, jou doelwitte bereik en die lewe leef wat God vir jou bedoel het. Hoe weet ons dit? Want God se Woord sê so!

Sielskos: Num 22-24; Matt 11:20-30; Ps 108; Spr 3:31-32

Kies die regte mense

2023-11-16
1 Kronieke 11:10 NLV

Om sukses in enige projek te behaal, moet jy jouself met die regte mense omring. Dis hoekom jy altyd God se insette in jou verhoudings moet soek. Rehabeam moes na die raad van sy vader Salomo se wyse en ervare binnekring geluister het. In plaas daarvan het hy na diegene wat met sy eie opinie saamgestem het, geluister – wat noodlottige gevolge gehad het. Dawid, aan die ander kant, het mense gekies wat sy uitnemendheid help bevestig het. ‘Dit is die leiers van Dawid se magtigste manne. Saam met die hele Israel het hulle Dawid koning gemaak, net soos die Here vir Israel belowe het’ (vers 10 NLV).

Let vier belangrike dinge hier op: 1) Dawid het ‘n sterk binnekring gebou nog voordat hy dit nodig gehad het. Hy het sy span lank voor hy gekroon is, byeen gebring.

2) Hy het mense met verskillende gawes gekies. Hy het na hulle toe uitgereik, hulle beloon en hy is nie deur diegene wie se vaardighede van syne verskil het, geïntimideer nie. Met die hulp van hierdie ‘magtigste manne,’ het Dawid vir enigiets gereed gevoel.

3) Hy het lojaliteit ontwikkel. Hy het mense nader getrek, sy lewe met hulle gedeel en op die ou einde was hulle bereid om hulle lewens vir hom neer te lê.

4) Hy het verantwoordelikheid gebaseer op vaardigheid, gedelegeer. Omdat hy seker van sy eie identiteit en roeping was, was Dawid nie bang om gesag en verantwoordelikheid aan diegene rondom hom te delegeer nie. In die begin het sommige van sy magtige manne nie ingepas nie, maar hy het hulle in ‘n wenspan verander (sien 1 Samuel 22:1-2).

Dawid het sy binnekring besonders gemaak en in ruil daarvoor het sy binnekring hom besonders gemaak. Die woord vir jou vandag is dus – kies die regte mense!

Sielskos: 1 Kron 12:23-15:29; Joh 9:24-41; Ps 8; Spr 26:17-22

Skriftuurlike vaardighede

2023-02-01
1 Tessalonisense 5:16-18 NLV

Jy het goeie vaardighede nodig om sukses in die lewe te behaal. Die verkoopsman het ‘n kwota. Die akteur het repetisies. Die berader gesels met een depressiewe siel na die ander. Die vlieënier moet vir ure in die kajuit sit. Die pastoor is nooit gevrywaar van voorbereidng vir sy preke nie. Dan is daar die ma met klein kindertjies wat veertien uur per dag moet besluite neem, met sterk willetjies meeding en probeer om alles vir almal te wees. Hoe ontwikkel jy die vaardighede wat nodig is om die oorvloedige lewe wat Jesus belowe het, uit te leef? (sien Johannes 10:10).

Paulus sê vir ons: ‘Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar…’ Verbly jouself in die dinge wat nooit kan verander nie, wat nie kan misluk nie en wat jou nie in die steek sal laat nie (soos God se beloftes!). Wanneer jy voel dat alles te veel word, bid. Sê met elke asemteug: ‘Ek vertrou U, Here; Ek gee dit aan U oor, want ek weet U het alles onder beheer.’

Moenie vergeet om dankie te sê nie. Onthou die ou gesegde: ‘Ek het gekla omdat ek nie skoene het nie, totdat ek ‘n man sonder voete ontmoet het.’ In plaas daarvan om te kla, begin jou seëninge tel. Kan jy onthou hoe die lewe was voor jy Jesus ontmoet het? Was daar nie dae gewees wat jy gedink het dat jy dit nie gaan maak nie? Kyk waar is jy nou! Toe die Israeliete aan die anderkant van die Rooi See gestaan en teruggekyk het, het hulle verklaar dat die Here hulle krag, hulle lied en hulle redding is (sien Eksodus 15:2). Is dit nie ook wat Hy vir jou is nie? Loof God!

Sielskos: Gen 20-23; Luk 7:11-23; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26

Wie gee jou raad? (2)

2022-12-17
Spreuke 15:22 NLV

‘n Goeie raadgewer doen drie dinge: hulle neem jou waar, onderrig jou en motiveer jou. Aan die begin mag die gedagte aan iemand wat jou evalueer intimiderend wees. Dink egter so daaraan; mense hou jou in elk geval dop. Hier is ‘n lys van areas waar jy dit mag oorweeg om ‘n raadgewer uit te nooi om jou te evalueer: geestelike groei, persoonlike dissipline, familieverhoudings, besluitneming, die hantering van finansies, konflikoplossing, om die regte mense te kies, om verkeerde gewoontes te verbreek en regte gewoontes daar te stel, doelwitstelling en toekomsbeplanning.

As jy ernstig daaroor is om sukses te behaal, kyk uit vir ‘n omgewing waar jy nie net ‘n salaris sal verdien nie, maar ook gementor sal word. Aan die begin is wat jy leer belangriker as wat jy verdien, omdat dit wat jy vroeg leer dit wat jy later verdien, sal bepaal. Dit wat jy nie weet nie, kan jou seermaak en ‘n demper op jou potensiaal plaas. Om deure van evaluasie oop te maak is iets wat jy jouself en diegene wat op jou staatmaak, skuld.

Moet dit ook nie by jou laat eindig nie. Gee dit wat aan jou gegee is, weer vir iemand anders aan. Jesus het gesê: ‘…Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet’ (Matteus 10:8 AFR83). ‘Maar ek is te jonk, niemand gaan my ernstig opneem nie,’ sê jy. Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie. Wees ‘n voorbeeld vir alle gelowiges…’ (1 Timoteus 4:12 NLV). Dit is nie jou verantwoordelikheid om alles te weet nie; jy is slegs verantwoordelik daarvoor om dit wat jy wel weet, met ander te deel. Vra dus vir God vir ‘n goeie raadgewer en word ook een vir iemand anders.

Sielskos: Neh 1-4; Joh 17:13-26; Ps 105:23-36; Spr 30:15-19

Glo in wat jy doen

2022-12-14
Daniël 1:4 DB

Toe Daniël in Babel aangekom het, was hy ‘n slaaf. Hy het egter die boonste vlak as gevolg van die volgende kwalifikasies bereik: ‘Hulle moes sonder gebreke, sterk, aantreklik en slim wees. Hulle moes dinge vinnig kon snap en ingelig wees, en geskik vir werk in die koning se paleis.’ As jy in enige werk bevordering wil kry, moet jy jouself eers bewys. Die Bybel sê: ‘Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings en nie vir gewone mense nie’ (Spreuke 22:29 NLV). Tensy jy glo in wat jy doen, sal jy jouself nie ten volle daaraan oorgee nie; dus het jy dan geen reg om te verwag om sukses te behaal nie.

Het jy al ooit in ‘n vertrek ingestap en liefde, energie en opwinding gevoel? Jou gedagtes het ‘n teenwoordigheid; hulle is soos getye wat deur die lug beweeg, in staat om mense na jou toe aan te trek of weg te dryf. Jou houding word altyd aangevoel. Dis hoekom jy moet glo in wat jy doen om sukses te behaal. As jy nie doen nie – bid en vra dat God jou iewers anders plaas waaraan jy jou hele hart kan wy.

Jesus het geheel en al in sy produk geglo. Hy het vir die vrou by die put gesê: ‘…Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word…’ (Johannes 4:13-14 NLV). Jesus het tyd in gebed deurgebring om sodoende sy begrip van sy doel te vernuwe. Die woord vir jou vandag is dus – bid en glo in wat jy doen!

Sielskos: Jos 22-24; Joh 16:12-18; Ps 105:1-7; Spr 30:1-4