Staan op en probeer weer

2025-10-26
Spreuke 24:16 NLV

Thomas Edison het duisende eksperimente met verskillende soorte materiale in sy soeke na ‘n filament wat hy in koolstofgloeilampe kon gebruik, gedoen. Soos elke filament misluk het, het hy dit by die venster uitgegooi, totdat sy hoop mislukkings uiteindelik tot by die tweede verdieping van sy huis gestrek het. Eers ongeveer dertien maande ná sy eerste mislukking, het hy daarin geslaag om ‘n filament te vind wat die spanning van elektriese stroom kon weerstaan.

Dit het as volg gebeur: Hy het nonchalant ‘n tikkie swartsel opgetel, dit met teer gemeng, dit in ‘n delikate draadjie gerol en besluit om ‘n filter van koolstof te gebruik. Hy het vyf uur aaneen gewerk om ‘n filament te maak, maar dit het in twee stukke gebreek voordat hy die vorm kon losmaak. Hy het twee spoele katoendraad opgebruik voordat hy ‘n perfekte filament ontwikkel het, net om dit te beskadig toe hy probeer om dit in die glasbuis te sit. Hy het twee dae en nagte wakker gebly voordat hy daarin kon slaag om een van die filamente in ‘n vakuum-verseëlde gloeilamp te sit. Toe hy die stroom aanskakel, het hy die gloed van elektriese lig waargeneem wat ons nou as vanselfsprekend aanvaar.

‘n Mislukking beteken nie noodwendig die einde nie; dit kan beteken dat jy een tree nader aan die oorwinning wat jy begeer, is. As jou poging misluk, probeer weer. Oorweeg ‘n nuwe perspektief. Neem tyd om die idee te oordink. Maak aantekeninge. Moet nooit op die doelwitte en drome waarin jy glo, opgee nie. God is deur al die ompaaie en vertragings by jou (sien Hebreërs 13:5-6). Wanneer jy vasberadenheid jou vriend, geduld jou dienskneg en God jou vennoot maak – sal jy sukses behaal!

Sielskos: Num 9:15-23; Eks 24:15-18; Matt 17:1-8; Hand 1:9-11

Steek die lyn oor (2)

2024-11-27
Filippense 3:13 NLV

Sam Parker skryf: ‘Wanneer jy besluit om die lyn wat mislukking van sukses skei oor te steek, sal jy ontdek dat nie almal jou keuse toejuig nie. Alles sal ook nie noodwendig seepglad verloop nie. Daar is mense wat besluit het om nie die risiko te neem om die lyn oor te steek nie en hulle sal verkies dat jy dit ook nie doen nie. Ongelukkig is daardie mense soms jou vriende. Miskien sal hulle ‘n bietjie twyfel of ‘n bietjie aanmoediging weerhou (of jou selfs aanmoedig om die verkeerde ding te doen). Miskien sal hulle ‘n bietjie minder subtiel daaroor wees en jou direk daarvan probeer weerhou om die lyn oor te steek.

Jy sal dalk kort-kort ook in jou eie pad staan – daardie innerlike stem wat vir jou probeer sê dat jy nie so spesiaal is nie en dat ander mense, nie jy nie, uitsonderlike dinge laat gebeur. Dan sal daar die werk wees – harde werk.

Goeie dinge is selde maklik of goedkoop. Werklike inspanning en aandag is die grondbeginsels van sukses. Daar is geen kitsoplossings nie. Daar is geen silwer koeëls nie. Jy moet jou resultate verdien en jouself aanhou druk. Jy moet ook fokus. Dit beteken dat jy afleidings uitskakel en jou blootstelling aan negatiewe mense, gedagtes en dinge verminder. Tyd beweeg vinnig en jy kan dit nie terugkry nie. Sorg dus dat jy dit goed gebruik. Leer ook om weer op te staan. In elke fout is verhoogde kennis en begrip ingebou.’

Paulus stel dit so: ‘een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys…’ (verse 13-14 NLV).

Sielskos: Gen 13-16; Joh 13:18-30; Ps 114; Spr 31:1-5

Beweeg van mislukking na sukses (4)

2024-02-09
Psalm 126:2 NLV

Om van mislukking na sukses te beweeg, moet jy die volgende doen:

1) Leer om vir jouself te lag. Maak nie saak wat jy verloor of hoe dikwels jy verloor nie, jy moet nooit jou sin vir humor verloor nie. Wanneer jy jou foute te ernstig opneem, word alles ‘n lewe-of-dood kwessie. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Toe die Here die bannelinge teruggebring het na Sion toe, was dit soos ‘n droom. Ons het gelag en van vreugde gesing. Die ander nasies het gesê: ‘Die Here het groot dinge vir hierdie mense gedoen.’ Die Here het groot dinge vir ons gedoen en ons is vol vreugde! Verander tog ons lot, Here, soos strome in die Suidland. Hulle wat met trane saai, sal met vreugde maai’ (verse 1-5 NLV).

Jy mag dalk nie in staat wees om oor jou foute te lag nie, maar jy kan leer om in hulle te lag. Tim Masters sê: ‘Mislukking is die produktiewe deel van sukses. Dit voorsien die pad waarlangs jy nie weer hoef te reis nie, die berg wat jy nie weer hoef uit te klim nie en die vallei wat jy nie weer hoef te deurkruis nie.’ Wanneer ons foute maak, mag dit dalk nie soos ‘Jesus se soen,’ die frase wat Moeder Teresa gebruik het vir die mislukkings wat ons na God toe dryf, voel nie. As ons egter die regte houding behou, kan dit ons lei na dit wat ons veronderstel is om te doen.

2) Leer uit jou foute uit. Die suksesvolle restaurateur Wolfgang Puck het gesê: ‘Ek het meer van die een restaurant wat nie gewerk het nie as van al die restaurante wat suksesvol was, geleer.’ Is dit nie gewoonlik hoe dit werk nie? Jy verloor nie – jy leer!

Sielskos: Num 30:1-32:24; Matt 12:22-37; Ps 125; Spr 4:3-4

Beweeg van mislukking tot sukses (3)

2024-02-08
Psalm 3:3 NLV

‘n Christelike leier skryf: ‘Oliver Goldsmith was die seun van ‘n arm prediker in Ierland in die 1700’s. Hy was hy nie ‘n wonderlike student in sy kinderjare nie. Sy onderwyser het hom inderwaarheid ‘n ‘domkop’ genoem. Hy het ‘n universiteitsgraad behaal, maar het heel laaste in sy klas gestaan. Hy was onseker oor wat hy met sy lewe wou doen. Eers het hy probeer om ‘n prediker te wees, maar dit het hom nie gepas nie. Toe het hy die regte oorweeg, maar daarin misluk. Toe het hy op medies besluit, maar hy was ‘n onverskillige dokter en nie passievol oor sy beroep nie. Hy het verskeie poste net tydelik beklee.

Goldsmith het in armoede geleef, was dikwels siek en moes selfs sy klere verpand om kos te kan koop. Dit het gelyk of hy nooit sy weg sou vind nie. Toe het hy egter ‘n belangstelling en aanleg vir skryf en vertaling ontdek. Aanvanklik het hy as resensent en skrywer gewerk. Toe begin hy egter werke oor onderwerpe waarin hy belanggestel het, skryf. Hy het sy reputasie as romanskrywer met The Vicar of Wakefield, as digter met The Deserted Village, en as dramaturg met She Stoops to Conquer, verseker.’

Goldsmith se verhaal klink baie soos die Psalmdigter Dawid s’n – en dalk ook soos joune: ‘So baie sê: ‘God sal hom nooit red nie! Maar U, Here, is ‘n skild rondom my. U herstel my eer, U lig my kop weer op’ (verse 3-4 NLV). Jy mag dalk vandag soos ‘n mislukking voel, maar God sal jou ophef as jy na Hom toe draai en saam met sy plan vir jou lewe werk.

Sielskos: Num 27-29; Matt 12:15-21; Ps 67; Spr 4:1-2

Beweeg van mislukking tot sukses (2)

2024-02-07
Spreuke 6:2 DB

‘n Gesiene psigiater het opgemerk dat vier van die hartseerste woorde in die menslike woordeskat die volgende is: ‘As ek maar net…’ Hy glo dat mense wat deur hulle mislukkings vasgevang word, hulle lewens bestee deur te sê: ‘As ek maar net harder probeer het… as ek maar net my kinders beter behandel het… as ek maar net die waarheid gepraat het… as ek maar net…’

Die manier om hierdie denkwyse te verander is om jou woordeskat te verander deur ‘as ek maar net’ met ‘volgende keer’ te vervang. ‘Volgende keer sal ek harder probeer… volgende keer sal ek my kinders beter behandel… volgende keer sal ek die waarheid praat.’

Die Bybel sê: ‘…Deur jou woorde en dade word jy gevang…’ Het jy al ooit ‘n dier in ‘n strik gesien wat sukkel om hulself te bevry? Jou woorde kan dit aan jou doen. Jou woorde affekteer nie net jou nie, maar ook ander mense. Miskien dink jy ons maak ‘n te groot kwessie hiervan. As dit die geval is, lees die volgende: ‘Vriendelike woorde bring lewe, bedrieglike woorde ontstel mense’ (Spreuke 15:4 NLV). ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde’ (Spreuke 18:21 NLV). Jesus het gesê: ‘Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie’ (Markus 11:23 NLV).

Wat het hierdie Skrifgedeeltes in gemeen? Hulle bevestig dat ons woorde lewe (of dood) in alles inblaas! In plaas van nederlaagspraatjies, spreek dus oorwinning oor jou situasie. In plaas daarvan om oor mislukking te praat, begin om oor sukses te praat. God sal jou woorde eer!

Sielskos: Num 25-26; Matt 12:1-14; Ps 120; Spr 3:33-35