Beweeg van mislukking na sukses (4)

2024-02-09
Psalm 126:2 NLV

Om van mislukking na sukses te beweeg, moet jy die volgende doen:

1) Leer om vir jouself te lag. Maak nie saak wat jy verloor of hoe dikwels jy verloor nie, jy moet nooit jou sin vir humor verloor nie. Wanneer jy jou foute te ernstig opneem, word alles ‘n lewe-of-dood kwessie. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Toe die Here die bannelinge teruggebring het na Sion toe, was dit soos ‘n droom. Ons het gelag en van vreugde gesing. Die ander nasies het gesê: ‘Die Here het groot dinge vir hierdie mense gedoen.’ Die Here het groot dinge vir ons gedoen en ons is vol vreugde! Verander tog ons lot, Here, soos strome in die Suidland. Hulle wat met trane saai, sal met vreugde maai’ (verse 1-5 NLV).

Jy mag dalk nie in staat wees om oor jou foute te lag nie, maar jy kan leer om in hulle te lag. Tim Masters sê: ‘Mislukking is die produktiewe deel van sukses. Dit voorsien die pad waarlangs jy nie weer hoef te reis nie, die berg wat jy nie weer hoef uit te klim nie en die vallei wat jy nie weer hoef te deurkruis nie.’ Wanneer ons foute maak, mag dit dalk nie soos ‘Jesus se soen,’ die frase wat Moeder Teresa gebruik het vir die mislukkings wat ons na God toe dryf, voel nie. As ons egter die regte houding behou, kan dit ons lei na dit wat ons veronderstel is om te doen.

2) Leer uit jou foute uit. Die suksesvolle restaurateur Wolfgang Puck het gesê: ‘Ek het meer van die een restaurant wat nie gewerk het nie as van al die restaurante wat suksesvol was, geleer.’ Is dit nie gewoonlik hoe dit werk nie? Jy verloor nie – jy leer!

Sielskos: Num 30:1-32:24; Matt 12:22-37; Ps 125; Spr 4:3-4

Beweeg van mislukking tot sukses (3)

2024-02-08
Psalm 3:3 NLV

‘n Christelike leier skryf: ‘Oliver Goldsmith was die seun van ‘n arm prediker in Ierland in die 1700’s. Hy was hy nie ‘n wonderlike student in sy kinderjare nie. Sy onderwyser het hom inderwaarheid ‘n ‘domkop’ genoem. Hy het ‘n universiteitsgraad behaal, maar het heel laaste in sy klas gestaan. Hy was onseker oor wat hy met sy lewe wou doen. Eers het hy probeer om ‘n prediker te wees, maar dit het hom nie gepas nie. Toe het hy die regte oorweeg, maar daarin misluk. Toe het hy op medies besluit, maar hy was ‘n onverskillige dokter en nie passievol oor sy beroep nie. Hy het verskeie poste net tydelik beklee.

Goldsmith het in armoede geleef, was dikwels siek en moes selfs sy klere verpand om kos te kan koop. Dit het gelyk of hy nooit sy weg sou vind nie. Toe het hy egter ‘n belangstelling en aanleg vir skryf en vertaling ontdek. Aanvanklik het hy as resensent en skrywer gewerk. Toe begin hy egter werke oor onderwerpe waarin hy belanggestel het, skryf. Hy het sy reputasie as romanskrywer met The Vicar of Wakefield, as digter met The Deserted Village, en as dramaturg met She Stoops to Conquer, verseker.’

Goldsmith se verhaal klink baie soos die Psalmdigter Dawid s’n – en dalk ook soos joune: ‘So baie sê: ‘God sal hom nooit red nie! Maar U, Here, is ‘n skild rondom my. U herstel my eer, U lig my kop weer op’ (verse 3-4 NLV). Jy mag dalk vandag soos ‘n mislukking voel, maar God sal jou ophef as jy na Hom toe draai en saam met sy plan vir jou lewe werk.

Sielskos: Num 27-29; Matt 12:15-21; Ps 67; Spr 4:1-2

Beweeg van mislukking tot sukses (2)

2024-02-07
Spreuke 6:2 DB

‘n Gesiene psigiater het opgemerk dat vier van die hartseerste woorde in die menslike woordeskat die volgende is: ‘As ek maar net…’ Hy glo dat mense wat deur hulle mislukkings vasgevang word, hulle lewens bestee deur te sê: ‘As ek maar net harder probeer het… as ek maar net my kinders beter behandel het… as ek maar net die waarheid gepraat het… as ek maar net…’

Die manier om hierdie denkwyse te verander is om jou woordeskat te verander deur ‘as ek maar net’ met ‘volgende keer’ te vervang. ‘Volgende keer sal ek harder probeer… volgende keer sal ek my kinders beter behandel… volgende keer sal ek die waarheid praat.’

Die Bybel sê: ‘…Deur jou woorde en dade word jy gevang…’ Het jy al ooit ‘n dier in ‘n strik gesien wat sukkel om hulself te bevry? Jou woorde kan dit aan jou doen. Jou woorde affekteer nie net jou nie, maar ook ander mense. Miskien dink jy ons maak ‘n te groot kwessie hiervan. As dit die geval is, lees die volgende: ‘Vriendelike woorde bring lewe, bedrieglike woorde ontstel mense’ (Spreuke 15:4 NLV). ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde’ (Spreuke 18:21 NLV). Jesus het gesê: ‘Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie’ (Markus 11:23 NLV).

Wat het hierdie Skrifgedeeltes in gemeen? Hulle bevestig dat ons woorde lewe (of dood) in alles inblaas! In plaas van nederlaagspraatjies, spreek dus oorwinning oor jou situasie. In plaas daarvan om oor mislukking te praat, begin om oor sukses te praat. God sal jou woorde eer!

Sielskos: Num 25-26; Matt 12:1-14; Ps 120; Spr 3:33-35

Beweeg van mislukking tot sukses (1)

2024-02-06
Hebreërs 11:34 NLV

Die skrywer van Hebreërs het gesê: ‘…Dit sal veels te lank neem om nog te vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en die profete… Hulle het krag in hulle swakheid ontvang, was magtig in die oorlog en het vreemde leërs op die vlug laat slaan’ (verse 32-34 NLV). Sommige van die grootste suksesverhale in die Skrif is oor mense wat met swakhede en karakterfoute gesukkel het. Hulle was vasgevang in oënskynlike mislukking en nederlaag, maar deur God se genade het hulle die struikelblokke teen hulle oorkom. Die oorheersende tema van die Bybel is opstanding – om weer op te staan! Hier is die vraag: As jy nie mislukking kan vermy nie en jy nie veronderstel is om dit te aanvaar nie, hoe moet jy dit dan hanteer?

Eerstens, verander jou houding. Die strokiesprentkarakter Homer Simpson het die houding van baie van ons opgesom toe hy gesê het: ‘Kinders, julle het jul bes probeer en liederlik gefaal. Die les is om nooit te probeer nie.’ Nodeloos om te sê is Homer ‘n klassieke onderpresteerder! Hy skerts in ‘n ander episode: ‘Om te probeer is die eerste stap tot mislukking.’ Homer probeer nooit, dus bly hy soos baie mense vasgevang waar hy is.

Die mense wat sukses in die lewe behaal het geloof en volharding. Hulle weier om tou op te gooi; hulle het besluit dat hulle nie gaan toelaat dat mislukking hulle oorwin nie. Let die woorde: ‘…Hulle het krag in hulle swakheid ontvang…,’ op. Jy mag dalk swak begin, maar deur God se genade kan jy sterk word. Jy kan uit die as van mislukkings opstaan, jou doelwitte bereik en die lewe leef wat God vir jou bedoel het. Hoe weet ons dit? Want God se Woord sê so!

Sielskos: Num 22-24; Matt 11:20-30; Ps 108; Spr 3:31-32

Kies die regte mense

2023-11-16
1 Kronieke 11:10 NLV

Om sukses in enige projek te behaal, moet jy jouself met die regte mense omring. Dis hoekom jy altyd God se insette in jou verhoudings moet soek. Rehabeam moes na die raad van sy vader Salomo se wyse en ervare binnekring geluister het. In plaas daarvan het hy na diegene wat met sy eie opinie saamgestem het, geluister – wat noodlottige gevolge gehad het. Dawid, aan die ander kant, het mense gekies wat sy uitnemendheid help bevestig het. ‘Dit is die leiers van Dawid se magtigste manne. Saam met die hele Israel het hulle Dawid koning gemaak, net soos die Here vir Israel belowe het’ (vers 10 NLV).

Let vier belangrike dinge hier op: 1) Dawid het ‘n sterk binnekring gebou nog voordat hy dit nodig gehad het. Hy het sy span lank voor hy gekroon is, byeen gebring.

2) Hy het mense met verskillende gawes gekies. Hy het na hulle toe uitgereik, hulle beloon en hy is nie deur diegene wie se vaardighede van syne verskil het, geïntimideer nie. Met die hulp van hierdie ‘magtigste manne,’ het Dawid vir enigiets gereed gevoel.

3) Hy het lojaliteit ontwikkel. Hy het mense nader getrek, sy lewe met hulle gedeel en op die ou einde was hulle bereid om hulle lewens vir hom neer te lê.

4) Hy het verantwoordelikheid gebaseer op vaardigheid, gedelegeer. Omdat hy seker van sy eie identiteit en roeping was, was Dawid nie bang om gesag en verantwoordelikheid aan diegene rondom hom te delegeer nie. In die begin het sommige van sy magtige manne nie ingepas nie, maar hy het hulle in ‘n wenspan verander (sien 1 Samuel 22:1-2).

Dawid het sy binnekring besonders gemaak en in ruil daarvoor het sy binnekring hom besonders gemaak. Die woord vir jou vandag is dus – kies die regte mense!

Sielskos: 1 Kron 12:23-15:29; Joh 9:24-41; Ps 8; Spr 26:17-22