2018-12-23
Galasiërs 2:20 NLV
As jy jouself deur jou eie pogings kon verander, sou jy nie die Here nodig gehad het nie. Daarmee saam diskwalifiseer enige poging om sy genade te verdien, jou. Hoekom? Omdat jy daarna strewe om die bron van jou eie verlossing, of jou eie krag te wees. ‘Hoe is ek dan veronderstel om meer soos Christus te word?’ vra jy. Sterf van jouself en laat Christus toe om deur jou te lewe! ‘Mense wat toelaat dat die sonde oor hulle lewens baasspeel, se koppe is heeltyd besig met sonde… Julle is egter nie meer in die greep van die sonde nie. Nee, julle lewens staan nou onder die beheer van die Gees wat in julle bly. As die Gees van Christus nie in iemand se lewe aanwesig is nie, behoort hy glad nie aan Hom nie – so eenvoudig is dit. Christus is ook nou by julle. Daarom sal die Heilige Gees sorg dat julle vir altyd lewe. Selfs al moet julle liggame doodgaan – dit is immers die prys wat ons almal vir die sonde moet betaal – sal die Gees julle op ‘n splinternuwe manier laat leef. Hy sal dit doen omdat julle deur God vrygespreek is. Julle weet baie goed dat God Jesus uit die dood laat opstaan het. Daarom is dit vanselfsprekend dat Hy wat nou deur sy Gees in julle bly, eendag ook elkeen van julle se sterflike liggaam met die hulp van sy Gees lewend sal maak’ (Romeine 8:5-11 DB). Hoe weet jy dat Christus lewendig is in jou en in jou werk? Wanneer ander mense na jou kyk en Hom sien. Wanneer hulle na jou luister en Hom hoor. ‘Hoe lank neem dit om soos Christus te word?’ vra jy. Dit gebeur ‘n dag op ‘n slag, ‘n leeftyd lank.
Sielskos: Matt 1; Matt 2
2018-12-04
Romeine 8:26 NLV
Die twee pilare van ‘n gelowige se daaglikse lewe behoort gebed en Skriflesing te wees. Terwyl gebed eenvoudig mag wees, is dit nie altyd maklik nie. Ons het nie die motivering nie, ons aandag word maklik afgelei en ons is nie altyd seker waarvoor ons moet bid nie. God sien ons menslike ontoereikendheid raak en ‘help’ ons deur sy inwonende Heilige Gees: ‘…die Gees neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugting wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. Dié God… weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree’ (verse 26-27 NLV). Dit beteken dat dit nie saak maak hoe jy voel wanneer jy bid nie, die Heilige Gees bid saam met jou en vir jou; en transformeer jou swakste gebed in ‘n kragtige beroep op die Vader. Wanneer dit by die tweede pilaar kom, naamlik die Woord van God, is die Heilige Gees se rol net so dinamies. Jesus het gesê, ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13 NLV). Die Heilige Gees doen dus drie dinge: 1) Hy lei jou wanneer jy die Woord van God bestudeer en dit wil verstaan. 2) Hy neem dit wat Jesus wil hê jy moet weet en openbaar dit aan jou. 3) Hy maak jou begrip oor dinge wat nog gaan gebeur, oop. Goeie naslaanwerke, Skrif-gebaseerde hulpbronne en vaardige Bybelonderwysers kan verseker behulpsaam wees, maar hulle is nie ‘n plaasvervanger wanneer dit by die aanhoor van die Heilige Gees en die versigtige luister na wat Hy vir jou wil sê, kom nie.
Sielskos: Gen 30:25-31:55; Joh 15:18-27; Ps 65; Spr 31:25-27
2018-12-01
Johannes 14:16 NLV
Onthou jy aandete sonder selfone? Jou familie wat mekaar se geselskap geniet, ononderbroke deur tegnologie? Ons is ‘n generasie wat besig is om die kuns van kommunikasie – en intimiteit – te verloor – en dit het ook ‘n impak op die tyd wat ons alleen saam met God spandeer. Alhoewel Jesus voor die tegnologiese era gelewe het, was Hy in konstante aanvraag; die skares het Hom alle ure van die dag en nag agtervolg. Nietemin, sê die Skrif vir ons, ‘Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ‘n stil plek gaan bid’ (Markus 1:35 NLV). Jesus het tyd gemaak om alleen met sy Vader te wees. Dit verg geestelike dissipline om stil te wees en te luister; om doelbewus die lewe se geraas te elimineer. As ons dit egter oefen, sal ons ‘n hartsbevredigende verhouding met die inwonende Heilige Gees ontdek. Belê ‘n paar minute daarin om Johannes hoofstukke 14-16 te lees en laat jou gees toe om Jesus se boodskap te absorbeer. Hy wil hê dat sy dissipels moet vrede hê en Hy troos hulle met die versekering dat hulle nooit alleen gelaat sal word nie. Hierdie is seëninge wat Hy ook met ons wil deel. Vraag: Hoe kan jy hierdie vrede en troos kry? Antwoord: ‘Dis ‘n interne belewenis,’ omdat die Heilige Gees in jou woon. Dit mag dalk die Christendom se bes-bewaarde geheim wees, dat die Heilige Gees beskikbaar is vir en in elke ware gelowige woon; en alles aan ons voorsien om die lewe se moeilikhede en geleenthede te hanteer. Die ‘Raadgewer’ is deur die Seun belowe, deur die Vader gestuur en vandag is Hy ons s’n deur geloof. Gryp Hom aan, vertrou op sy krag, ervaar sy vrede en volg sy leiding.
Sielskos: Gen 25:19-27:46; Joh 14:26-15:4; Ps 146; Spr 31:18-21
2018-10-03
Jesaja 30:21 NLV
‘n Berader wat op ‘n stadium ‘n verslaafde was, skryf: ‘Ek was onder behandeling vir chemiese afhanklikheid en het ‘n werk nodig gehad. Ek het vir maande gesoek, maar niemand wou my in diens neem nie. Een dag terwyl ek vir die bus gewag het, het ‘n klein stemmetjie vir my gesê: ‘Kyk agter jou.’ Ek het langs ‘n prokureurskantoor gestaan. ‘Gaan praat met die hoof van die firma en sê vir hom dat jy ‘n werk nodig het,’ was die woorde wat ek gehoor het. ‘Dis mal,’ het ek gedink, maar steeds het daardie stem my aangemoedig. Toe ek met die prokureur praat en hom vertel wat in my lewe aan die gang was, het hy dit verstaan omdat iemand in sy familie ook op die herstelpad van verslawing was. Toe het hy na my gekyk en gesê, ‘Dis snaaks dat jy vandag ingekom het. Ek dink daaraan om ‘n posisie vir ‘n regssekretaresse te skep en het nog nie daarby uitgekom om die pos te adverteer nie.’ Twee weke later het ek die werk gekry en dit was beter as enige ander posisie waarvoor ek aansoek gedoen het. Die salaris was meer en het die beste moontlike gebruik van my vaardighede gemaak.’ Die probleem is nie dat God nie meer met ons praat nie, dis dat ons nie meer sy stem herken nie. Moenie so gou wees om die toevallige gedagtes te ignoreer nie. Oor die algemeen, sal God nie ‘n weerligstraal uit die hemel stuur om jou aandag te kry nie. Hy praat meer dikwels met jou deur jou gedagtes, ‘n familielid, ‘n vriend, ‘n verandering in jou omstandighede, of die stilte wanneer Hy jou hart met perfekte vrede vul. Luister dus vir God se stem.
Sielskos: 1 Kor 10-11; Luk 24:13-24; Ps 68:1-18; Spr 25:13-16
2018-06-23
Johannes 13:17 NLV
Om God se Woord te lees, te ontvang, te onthou en daaroor te reflekteer is belangrik, maar ons moet daarop reageer en ‘…mense word wat dóén wat die woord sê…’ (Jakobus 1:22 NLV). Jy kan so besig wees om na die volgende kerkvergadering te gaan, dat jy vergeet om dit wat jy by die laaste een geleer het, uit te oefen. Jesus het gesê, ‘Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ‘n verstandige persoon wie se huis op soliede rots gebou is’ (Matteus 7:24 NLV). God sal jou nie seën omdat jy die waarheid weet nie, maar omdat jy dit gehoorsaam. ‘As julle hierdie dinge insien en julle eie maak, sal julle gelukkig wees as julle dit ook doen.’ Ons is geneig om persoonlike toepassing te vermy, omdat dit nie net moeilik is nie – in sommige gevalle is dit ronduit pynlik! Jesus het gesê, ‘…die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:32 NLV), maar dit mag jou dalk aan die begin ongemaklik maak. God se Woord openbaar ons beweegredes, stel ons foute bloot, wys ons sondes tereg en eis verandering. Dis hoekom dit goed is om jou persoonlike insigte met ander mense te bespreek. Ons leer waarhede van ander mense wat ons nooit op ons eie sou leer nie. Hulle help ons om dit wat ons miskyk te sien en toe te pas. Hulle hou ons aanspreeklik. Een van die beste maniere om iemand wat die Woord dóén te word, is om ‘n aksieplan neer te skryf. Dit moet persoonlik wees (met betrekking op jou); prakties wees (iets wat jy kan doen) en bewysbaar wees (met ‘n maatstaf of sperpunt). In die woorde van D.L Moody: ‘Die Bybel is nie aan ons gegee om ons kennis te vermeerder nie, maar om ons lewens te verander.’
Sielskos: 2 Kor 5-8; Luk 2:1-7; Ps 144:1-8; Spr 16:1-3