2018-05-26
Galasiërs 6:2 DB
Wanneer ‘n vriend of familielid ‘n krisis ervaar, moet jou doel wees om hulle te help om dit te hanteer en daardeur te groei. Soms is dit makliker gesê as gedaan! Soos wat hulle seer harte by die nuwe omstandighede aanpas, sal hulle dalk skepties wees oor wie hulle kan vertrou. Om daar te wees vir hulle is egter waaroor die koninkryk van God gaan! ‘Help ander gelowiges wat swaarkry…’ (vers 2 NLV). Jou toewyding kan ‘n betekenisvolle rol in iemand se reis om weer emosioneel gesond te word, speel. Hier is drie praktiese voorstelle: 1) Moenie van hulle verwag om kontak te maak nie. Dis algemeen van mense wat ‘n krisis ervaar om te onttrek eerder as om vir hulp te vra. Dikwels is hulle te ontsteld om te weet wat hulle nodig het, so jy sal heel waarskynlik die eerste tree moet neem. Moet ook asseblief nie voel asof jy ‘n kundige moet wees nie. Twee eenvoudige stappe kan die persoon wat seer het gewaardeerd laat voel en laat voel asof jy hulle seerkry verstaan: a) Luister versigtig na hulle bekommernisse en persepsies. b) Behou oogkontak en stel waarlik belang. 2) Help om hulle angs te verminder. Bied ‘n kalmerende teenwoordigheid deur hulle uit te nooi om hulle gevoelens te deel. As hulle denkwyse verwring voorkom, sê iets soos, ‘Mag ek ‘n ander manier voorstel om na dinge te kyk?’ 3) Help hulle om te fokus op dit wat belangrik is. Hulle voel oorweldig, help hulle dus om op die sake te fokus wat hulle onmiddellike aandag moet geniet. In plaas van om oor die verlede te tob en oor die toekoms bekommerd te wees, moedig hulle aan om op die huidige oomblik te konsentreer en vir die hier en nou te leef (sien Matteus 6:34).
Sielskos: Rig 16:1-19:15; Mark 11:12-26; Ps 47; Spr 13:11-12
2018-04-10
Spreuke 12:15 NLV
Dit maak al die verskil in die wêreld wanneer jy jouself posisioneer om te ontvang! As jy byvoorbeeld jouself posisioneer soos jy hierdie lees om te ontvang deur vir die Here te sê, ‘Ek sal aksie neem op dit wat U vir my wys,’ sal jy meer voordeel daaruit trek as wanneer jy dit net lees om gemotiveerd of geïnspireer te word. Om weerstand te bied of om te ontvang – dis ‘n keuse wat jy elke dag maak. Niks sterf vinniger as ‘n nuwe idee in ‘n geslote brein nie. Dis onmoontlik om te leer wanneer jy dink dat jy reeds alles weet. Een van die redes hoekom Jesus so sterk op die Fariseërs gereageer het, is omdat hulle geweier het om dit wat Hy te sê gehad het, te ontvang. Denke wat verkeerd geposisioneer is, is soos ‘n mikroskoop wat klein onbenullige dinge kan vergroot, maar nie die groter prentjie kan sien nie. Elke situasie is ‘n geleentheid as dit op die regte manier beskou word. Geleenthede kan egter net ‘in jou skoot val’ wanneer jy jou skoot reg posisioneer. Ons gedagtes is te dikwels op net een plek gefokus. Ons is opsoek na rooi, dus sien ons blou nie raak nie; ons dink ‘môre,’ terwyl God ‘nou’ sê. Ons soek orals, terwyl die antwoord reg onder ons neus is. Wanneer ‘n persoon reg geposisioneer is, is hy of sy gereed om alles wat God vir hulle in gedagte het, te ontvang. God sal deur ander mense met jou praat, maar tensy jy luister, sal jy nie hoor wat Hy vir jou wil sê nie. Posisioneer jouself dus vandag om te ontvang.
Sielskos: Jer 36:27-40:16; Mark 1:40-45; Ps 25:1-7; Spr 9:17-18
2018-01-04
Psalm 119:65 NLV
Die Psalmdigter het geskryf, ‘Selfs volmaaktheid het sy perke, maar U gebooie ken geen grense nie.’ Dit beteken dat jy elke keer wat jy ‘n Skrifgedeelte lees, iets anders daarin sal sien. Dit is soos ‘n lig wat op ‘n diamant skyn. Elke keer wat jy die diamant effens draai, sal jy ‘n ander faset van sy skoonheid sien. Dis hoekom die Bybel anders is as enige boek wat jy ooit sal lees. Jy sal dinge oor God uit persoonlike ervarings en deur na ander mense se gedagtes en ervarings te luister, leer, maar jy sal Hom beter as op enige ander manier leer ken wanneer jy sy Woord lees. Jy kan dieselfde Skrifgedeelte oor en oor bestudeer, dit analiseer, dit los vir drie of vier maande en wanneer jy daarna terugkom, sal jy nog meer daarin vind. Die sleutel is: Hou aan! Daar is geen beperking op die aantal vrae wat jy kan vrae, geen beperking op die observasies en toepassings wat jy kan maak nie. Moet dus nie opgee nie! Die beste benadering wat jy in Bybelstudie kan hê, is die een wat Jakob gehad het toe hy met die engel van die Here gestoei het: ‘…Ek sal jou nie laat gaan nie tensy jy my seën’ (Genesis 32:26 NLV). Gevolglik het God vir hom ‘n nuwe naam, ‘n nuwe geaardheid, ‘n nuwe manier van stap en ‘n nuwe toekoms gegee. Bybelstudie het geen kortpaaie nie; dit vereis inspanning. As jy egter ywerig en geduldig is, sal jy groot beloning ontvang. As jy eers die vreugde en bevrediging ervaar wanneer jy ‘n groot geestelike waarheid op jou eie ontdek en dit in jou lewe toepas, sal jy nooit weer Bybelstudie op dieselfde manier benader nie.
Sielskos: 2 Tess 1-3; Matt 4:1-11; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9
2017-10-22
2 Korintiërs 7:4 NLV
Wanneer mense ‘gebruik’ voel, sal hulle hul werk halfhartig doen, maar wanneer hulle gewaardeer voel, sal hulle jou orals volg. Paulus, een van die beste leiers van alle tye, het vir die Korintiese gelowiges gesê, ‘Ek is baie openhartig met julle; ek is ook baie trots op julle. En ek is regtig vol moed en oorstelp van blydskap…’ Hy was hulle grootste rasieleier. Hy het hulle nie net gekorrigeer nie, hy het hulle ook gerusgestel. Hy het hulle nie net vermaan nie, maar hulle ook versterk – al die eienskappe van uitstekende leierskap. Goeie leiers: 1) Is konsekwent. Hulle is ‘n voorbeeld vir ander sodat almal weet dat dit wat op die onderkant van die leer gehoor word, aan die bokant uitgeoefen word. 2) Wys hulle waardering, omdat hulle besef dat mense nodig het om te hoor dat hulle ‘n belangrike deel van die span en die visie is. 3) Luister altyd na voorstelle, opinies, besorgdhede en idees. Hulle oordeel nie vooraf nie en hulle is nie ongeduldig nie. Die skrywer Betty Bender het gesê: ‘Dis ‘n fout om jouself met mense te omring wat net soos jy is. Gooi die bekende af en omring jouself met verskillende en verbeeldingryke mense. Kyk dan hoe baie idees kom na vore!’ 4) Moenie mense as statistieke sien nie. Mense is nie net wins en verlies nie. 5) Verduidelik hoekom dinge op ‘n spesifieke manier gedoen word. Dit verminder foute en mense sal dan nie voel dat hulle net bevele uitvoer nie. Clarence Francis het gesê, ‘Jy kan ‘n man se tyd en fisiese teenwoordighed op ‘n sekere plek koop. Jy kan egter nie entoesiasme, inisiatief, lojaliteit en toewyding koop nie. Jy moet dit verdien.’
Sielskos: Jes 61:1-9; Luk 4:16-30
2017-10-02
Esegiël 40:4 NLV
As jy jouself leer om aandagtig te luister na wat iemand sê, sal hulle oor die algemeen vir jou vertel wie en wat hulle is voordat jy in ‘n verhouding met hulle tree. Dikwels, wanneer iemand ons egter begin waarsku oor hulle swakhede en wat om te verwag, spring ons met ons motiverende ‘Ag, dit kan nie waar wees nie’ gedagtes in en moedig ons hulle aan om saam met ons voort te beweeg. Ons moet die kosbare kuns van luister, sonder onderbrekings, aanleer. As jy dit doen, sal jy jouself van jare se trane, geheime teleurstellings en negatiewe ervarings red. Eerder as om jou optimisme en oorredende styl te gebruik om iemand te dwing om jou doelwitte te aanvaar, moet jy weet wanneer iemand nie iets kan word net omdat jy dit wil hê of glo dat hulle dit kan doen nie. Hulle kan nie op jou energie leef nie! Jou karakter en volwassenheid sal nie opmaak vir hulle gebrek daaraan nie. Sonder jou bewustheid van hierdie beginsel, kan hierdie verhoudings jou moeg maak en jou jare lank van jou krag dreineer. As jy in private of professionele verhoudings mense moet motiveer om te begin, sal jy hulle moet aanhou motiveer om dit te behou. Aan die ander kant, as jy kyk, luister, bid en observeer, kan jy besluit of dit die moeite werd is om die verhouding in die eerste plek te begin. As jy God vra, sal Hy jou hierin lei. Sy Woord sê, ‘…kyk en luister aandagtig. Gee aandag aan alles wat ek vir jou wys. Jy het hiernatoe gekom sodat ek vir jou baie dinge kan wys…’
Sielskos: 1 Kor 15-16; Mark 15:33-47; Ps 51; Spr 25:23-25