Word soos Christus
2018-12-23Galasiƫrs 2:20 NLV
As jy jouself deur jou eie pogings kon verander, sou jy nie die Here nodig gehad het nie. Daarmee saam diskwalifiseer enige poging om sy genade te verdien, jou. Hoekom? Omdat jy daarna strewe om die bron van jou eie verlossing, of jou eie krag te wees. ‘Hoe is ek dan veronderstel om meer soos Christus te word?’ vra jy. Sterf van jouself en laat Christus toe om deur jou te lewe! ‘Mense wat toelaat dat die sonde oor hulle lewens baasspeel, se koppe is heeltyd besig met sonde… Julle is egter nie meer in die greep van die sonde nie. Nee, julle lewens staan nou onder die beheer van die Gees wat in julle bly. As die Gees van Christus nie in iemand se lewe aanwesig is nie, behoort hy glad nie aan Hom nie – so eenvoudig is dit. Christus is ook nou by julle. Daarom sal die Heilige Gees sorg dat julle vir altyd lewe. Selfs al moet julle liggame doodgaan – dit is immers die prys wat ons almal vir die sonde moet betaal – sal die Gees julle op ‘n splinternuwe manier laat leef. Hy sal dit doen omdat julle deur God vrygespreek is. Julle weet baie goed dat God Jesus uit die dood laat opstaan het. Daarom is dit vanselfsprekend dat Hy wat nou deur sy Gees in julle bly, eendag ook elkeen van julle se sterflike liggaam met die hulp van sy Gees lewend sal maak’ (Romeine 8:5-11 DB). Hoe weet jy dat Christus lewendig is in jou en in jou werk? Wanneer ander mense na jou kyk en Hom sien. Wanneer hulle na jou luister en Hom hoor. ‘Hoe lank neem dit om soos Christus te word?’ vra jy. Dit gebeur ‘n dag op ‘n slag, ‘n leeftyd lank.