Weet wie jou lei

2019-11-22
Galasiërs 5:16 NLV

Dr Charles Stanley sê: ‘Gedurende ‘n fotografiese toer het my groep vir amper drie ure op ‘n wandelpad gestap toe ek ‘n snaakse gevoel begin kry dat ons in die verkeerde rigting beweeg. Ek het die toerleier daaroor uitgevra en hy het my verseker dat alles reg was. Ek wou nie aanmatigend wees nie en het aangehou stap. Na ‘n paar minute het ek agtergekom dat my gevoel van ongemak my bygebly het; dit het inteendeel sterker geword. Ek het my kompas uitgehaal en na die kaart gekyk. Ons was wraggies in die teenoorgestelde rigting van ons bestemming op pad. Dit het ons amper ‘n uur en ‘n half geneem om terug te stap na die punt waar ons die verkeerde afdraai geneem het. Teen die tyd wat ons egter by ons regte bestemming uitgekom het, was die tydperk waarin ons foto’s kon neem, ongelukkig kortgeknip. Hierdie gebeurtenis het my twee waardevolle lesse laat besef. Eerstens, wanneer ons voel dat ‘n interne getuie ons aanmoedig om ‘n sekere koers in te neem, moet ons daarna luister. Tweedens, wanneer ek en jy mense kies om ons te lei, moet ons seker maak dat hulle die pad vorentoe beter as ons ken. Het jy al ooit gevoel dat iets vir jou sê om aandag te gee of jou in ‘n spesifieke rigting trek? Miskien het jy na ‘n preek geluister en aangevoel dat God vir jou sê om Hom in gehoorsaamheid te volg. Of miskien het jy in ‘n restaurant ingestap en was onmiddellik met vrees vervul, asof jy vinnig moes wegkom. As jy ‘n gelowige is, was daardie gevoelens heel waarskynlik die aansporings van die Heilige Gees wat met jou hart gepraat het, jou teen gevaar gewaarsku het en jou aangemoedig het om jou aan God se doelwitte te onderwerp.’ Laat jou lewe vandag deur die Heilige Gees bepaal word.

Sielskos: 2 Kro 32-34; Joh 13:1-17; Ps 95; Spr 27:17-19

‘n Formule vir ‘n suksesvolle lewe

2019-09-28
1 Petrus 5:5-7 NLV

Iemand het geskerts: ‘Die probleem met sukses is dat die formule daarvoor dieselfde formule is as vir ‘n senu-ineenstorting.’ Die Bybel gee ons die regte formule vir ‘n suksesvolle lewe. Dit sluit drie areas in: outoriteit, houding en versekering. ‘…erken die gesag van die ouderlinge… Word daarom klein onder die kragtige hand van God… Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.’ Kom ons kyk na elk van hierdie drie areas: 1) Onderwerp jouself aan diegene wat wys is. Luister na hulle raad, word aanspreeklik, aanvaar teregwysing, aanvaar voorstelle, respekteer ervaring en volg ‘n waardige voorbeeld. Eers wanneer jy raad kan aanvaar, sal jy gekwalifiseerd wees om dit te kan gee. Eers wanneer jy leierskap respekteer en jouself daaraan onderwerp, sal jy gekwalifiseerd wees om ander te kan lei. 2) Word nederig. In die Skrif simboliseer die ‘hand’ van God twee dinge: sy dissipline en sy verlossing. Wanneer jy nederig voor Hom word, aanvaar jy dat sy dissipline goed is vir jou. Jy erken ook sy gewilligheid om op jou hulpkreet te antwoord en jou te red op enige manier wat Hy kies om dit te doen. 3) Werp jouself op God se genade en sorg. Moeilikheid en teleurstelling sal vir seker kom en wanneer dit gebeur, moet jy jouself in God se arms werp. Die situasie mag dalk vir jou te groot wees, maar dit is nooit te groot vir Hom nie. Beteken dit dat daar nie ‘n plek vir beplanning, doelwitte en harde werk is nie? Nee, dit beteken net dat jy gewillig is om dinge op God se manier te doen, wat altyd die beste is.

Sielskos: 1 Sam 27-31; Matt 28:11-20; Ps 63; Spr 22:17-23

Sommige mense kan nie gehelp word nie (2)

2019-03-09
Sagaria 7:11 NLV

Aanvaar dit maar – sommige mense is eenvoudig nie gereed om te verander nie! Hulle sal jou tyd en energie opeis, maar op die ou einde nie bereid wees om die prys vir vooruitgang te betaal nie. Wie is hierdie mense? 1) Mense wat wil praat, maar nie wil luister nie. Jakobus sê: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie, dan bedrieg julle julleself’ (Jakobus 1:22 NLV). In plaas van om eindeloos daarna te strewe om aan ander mense se behoeftes te voldoen, probeer hulle aan die Een koppel wat dit kan doen. Hulle moet van die Here afhanklik wees, nie van jou nie. 2) Mense wat dink dat jy nie gekwalifiseerd genoeg is om hulle te help nie. Jesus is nie deur die wêreld aanvaar nie en tog was Hy die presiese persoon wat hulle nodig gehad het (sien Johannes 1:11-12). Wanneer mense onwillig is om jou hulp en raad te aanvaar, is die kans goed dat hulle nie gereed is om te groei en hulle probleme aan te pak nie. 3) Mense wat dit wat jy het, wil hê, maar nie dit wat jy weet nie. Hierdie mense wil gered word, maar nie opgelei word nie; getroos word, maar nie reggehelp word nie. Wanneer jy aanhou om hulle uit hulle gemors te help, in plaas daarvan om hulle te leer hoe om te leef, help jy hulle nie regtig nie. Dawid het gesê: ‘Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer’ (Psalm 119:71 NLV). Dikwels moet mense eers die pyn van dit wat verkeerd is ervaar, voordat hulle die wysheid van dit wat reg is, kan waardeer. Wees dus oordeelkundig wanneer jy mense help.

Sielskos: Eks 39-40; Luk 15:11-32; Ps 135; Spr 7:21-23

Hoe goed luister jy?

2019-01-29
Markus 4:9 DB

Studies bewys dat ons 50 persent van dit wat ons hoor, onmiddellik vergeet, 80 persent daarvan binne ‘n dag vergeet en 97 persent daarvan binne ‘n week vergeet. Wat is dus die oplossing? Wanneer jy luister, maak dit jou doelwit om te verstaan, nie net om die feite te onthou nie. Wees eerlik. Hoeveel keer het jy al gesê dat jy meer tyd gaan spandeer om na die mense in jou lewe te luister? Begin om dit te doen, want as jy nie vir die lewe se ‘spesiale oomblikke’ opdaag nie, sal daar voor jy jou oë kan uitvee, geen oomblikke meer wees om voor op te daag nie. Die mense wat waarlik na ons luister, word die belangrikste mense in ons lewens. As jy een van hulle wil wees, moet jy drie dinge doen: 1) Kyk direk na die spreker. Moenie iemand verkleineer deur werk te probeer opvang, op die foon te praat of op jou foon te speel terwyl hulle met jou praat nie. Fokus op hulle! 2) Moenie hulle in die rede val nie. Wanneer jy dit doen, dink mense dat jy nie veel waarde aan dit wat hulle sê, heg nie. Of dat jy hulle probeer beïndruk met hoeveel jy weet. Of dat jy te opgewonde is oor dit wat jy tot die gesprek wil byvoeg om hulle te laat klaar praat. 3) Skort jou oordeel op. Wag tot jy die hele storie gehoor het voor jy reageer, anders sal jy dalk die belangrikste dinge wat die spreker te sê het, misloop. Kan jy aan iemand dink na wie jy nie die afgelope tyd geluister het nie? Die goeie nuus is dat dit nooit te laat is om ‘n goeie luisteraar te word nie.

Sielskos: Pred 5-8; Luk 6:37-49; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20

Luister, en wees gewillig om raad aan te neem

2018-12-28
Spreuke 29:1 NLV

Jare gelede het siviele ingenieurs ‘n dam ondersoek. Hierdie dam het die waters van verskeie riviere wat deur ‘n vallei, waarin daar ‘n dorp geleë is, gevloei het, beheer. Hulle was bekommerd oor wat hulle gesien het en het vir die stadsamptenare gesê, ‘Die dam is onveilig en julle is in groot gevaar. Julle moet die inwoners verskuif.’ Die amptenare het geantwoord, ‘Ons het dit alles al gehoor. Die dam is nie ‘n gevaar nie.’ ‘n Jaar later het die ingenieurs weer die dam besoek en gesê, ‘Ons waarsku julle, julle is elke uur in groot gevaar.’ Teen hierdie tyd het die ingenieurs se verslag na die dorpsinwoners toe versprei, wat dit afgelag het en gesê het, ‘Hulle probeer ons net bangpraat.’ ‘n Paar maande later het die ingenieurs hulle weer gewaarsku en weer is hulle raad van die hand gewys. Vyftien dae later het ‘n seun op ‘n perd deur die dorp gejaag en geskree, ‘Hardloop vir julle lewens! Die dam het gebreek en die water is op pad.’ Die inwoners het egter vir hom gelag en gedink dat hy hulle net probeer skrikmaak. Toe het ‘n muur vuil water hulle egter getref en minder as dertig minute later was Johnstown in puin gelê. Meer as 3700 mense het daardie dag gesterf. Het God jou al ‘n paar keer oor sekere dinge in jou lewe gewaarsku: verhoudings, gewoontes, houdings? Indien dit die geval is, is hier twee Skrifgedeeltes wat jy versigtig moet oordink: ‘Vir ‘n dwaas is net sy eie pad die regte een. Iemand wat wys is, luister na ander se raad’ (Spreuke 12:15 NLV). ‘Wie hom teen teregwysings bly verset, stort skielik ineen. Niks kan dan weer vir hom herstel bring nie.’ Die woord vir jou vandag is: Luister, en wees gewillig om raad aan te neem.

Sielskos: Job 32-35; Luk 2:21-33; Ps 97; Pred 10:15-11:3