Praat met ‘goeie smaak’

2020-05-31
Kolossense 4:6 NLV

John Grisham, die skrywer van topverkoper boeke wat topverkoper films geword het, is al ‘n ‘reguit pyl op ‘n skewe pad,’ genoem. Sy boeke beeld dikwels gewetenlose prokureurs, korrupte politici en bose polisiemanne uit – die onderwêreld van ‘n lewe van rykdom en ordentlikheid. Sy helde, aan die ander kant, is gewoonlik die onskuldiges of kinders, soos die elfjarige seun in sy boek The Client. Grisham het gesê dat hy eerder ‘n goeie mens wil wees as om sy boeke met seks en bloed te vul. Hy weier om enigiets te skryf wat sy ma of sy kinders in die verleentheid sal stel. Baie in die uitgewerswêreld het gedink dat hy sou misluk, maar sy benadering het dividende behaal. The Firm het nou al oor die twintig miljoen kopieë in druk. Tot op datum is die oudste aanhanger wat aan hom geskryf het ses-en-negentig jaar oud, en die jongste tien jaar oud. Die meeste van sy lesers prys hom omdat hy grafiese geweld, obsene tonele en vloektaal vermy. Die Bybel sê: ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.’ Jou woorde moet in goeie smaak wees. Jesus het gesê: ‘…Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. As jy luister na wat iemand sê, sal jy agterkom of sy gesindheid reg is en hy van ‘binne’ skoon is. Juis daarom sê Ek vir julle: mense wat sommer allerhande lelike dinge van ander sê, sal met die finale oordeel hulle woorde voor God moet gaan verduidelik. Wat jy sê, is dus verskriklik belangrik. Immers, op grond van wat jy sê, sal God besluit of jou saak met Hom reg is of nie’ (Matteus 12:34-37 NLV). Praat dus met goeie smaak.

Sielskos: Joh 7:37-41; Eks 17:1-7; Jes 35:1-7

Jou krag en lewenstrategie

2020-05-17
Jesaja 40:29 NLV

Wanneer die stryd voortduur met geen einde in sig nie, raak jy moeg. Is dit waar jy vandag is? Werk dinge wat eers glad verloop het, nie meer nie? Het jy alles wat jy kon doen, gedoen, maar dit het nie gehelp nie? Wat moet jy doen? Spandeer meer tyd saam met God in gebed en luister na Hom as Hy deur sy Woord met jou praat. Jy moet jou kragte herwin deur op God se krag staat te maak, jou geloof teenoor oorwinning te herfokus en aan God se beloftes terug te dink (sien Psalm 77:6). Wanneer jy deur probleme in jou huwelik, jou besigheid, jou gesondheid, jou werk, of jou finansies oorweldig voel, kan jy op hierdie twee Bybelse beloftes staan: ‘Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die kragteloses sterk. Selfs jongmense raak uitgeput en afgemat. Baie jongmense struikel en val. Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg hoog, soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie’ (Jesaja 40:29-31 NLV). ‘…ons is ver bo ons kragte belas, met die gevolg dat ons selfs moed verloor het om te bly lewe. Dit het eintlik vir ons gevoel of ons die doodsvonnis ontvang het sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op dié God wat die dooies opwek. Dit is Hy wat ons van só ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Hý is ons verwagting; Hy sal ons altyd weer red’ (2 Korintiërs 1:8-10 NLV). In plaas daarvan om te probeer om uit die situasie te ontsnap, vra na God en Hy sal vir jou die krag en ‘n strategie gee om sterker anderkant uit te kom.

Sielskos: Matt 4:12-16; Matt 5:14-16; Hand 9:1-19

Wees gewillig om te luister, te oorweeg en toe te gee

2020-04-24
Romeine 12:10 NLV

Tydens die somer van 1986, het twee skepe in die Swartsee langs die kus van Rusland gebots. Honderde passasiers het gesterf nadat hulle oorboord in die ysige water geval het. Nuus van die ramp het erger geword toe ‘n ondersoek die oorsaak van die ongeluk onthul het. Dit was nie as gevolg van ‘n tegnologiese probleem soos ‘n radar wat nie gewerk het of digte mis nie. Die oorsaak was menslike hardkoppigheid. Altwee kapteins was bewus van die ander skip se teenwoordigheid en kon toegang aan mekaar verleen het. Nuusverslae het egter berig dat nie een van die kapteins vir die ander een wou plek maak nie, omdat beide te trots was om toe te gee. Teen die tyd dat hulle tot hulle sinne gekom het, was dit te laat. As jy iemand met ‘n sterk wil is, iemand wat dinge laat gebeur, moet jy dink aan wat jy nou net gelees het. As jy die argument wen, maar die verhouding seermaak of verloor, wat het jy dan regtig bereik? As jy reg is maar die verhouding verloor, is dit ‘n verlies. Die woord vir jou vandag is dus: ‘As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer… Konsentreer op dit wat onderlinge eensgesindheid bevorder. Moenie belangrik probeer wees nie, maar vind julle geluk by die nederiges. Moenie dink dat net julle altyd reg is nie. Moenie vir enigiemand kwaad met kwaad terugbetaal nie; wees positief teenoor alle mense. Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense. Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor… Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte te bowe kom’ (verse 10; 16-19; 21 NLV).

Sielskos: Dan 5-7; Mark 4:1-12; Ps 7:10-17; Spr 10:17-18

Beheer jou woede

2020-01-11
Spreuke 29:11 NLV

Woede is soos ‘n vuur: Wanneer dit beheer word, kan dit warmte en gemak meebring. Wanneer dit egter buite beheer raak, kan dit alles in sy pad vernietig. Die Bybel sê: “‘n Dwaas bars uit in woede. Iemand wat wys is, hou homself in toom.” Jy kan woede verbaal of deur stilte uitdruk. Wanneer jy stilte as ‘n wapen gebruik om iemand seer te maak, wend jy jou tot emosionele manipulasie en kinderagtigheid. Kan jy onthou hoe jy as kind gesê het: ‘Ek gaan nie meer met jou praat nie,’ wanneer iemand geweier het om te doen wat jy wil hê? Dit mag dalk aanvaarbare gedrag vir ‘n kind wees, maar nie vir diegene wat tot geestelike volwassenheid geroepe is nie. As jy geneig is om gereelde woedeuitbarstings te kry, is hier ‘n paar Skrifgedeeltes om ter harte te neem: 1) ‘…Selfbeheersing is beter as om ‘n stad in te neem’ (Spreuke 16:32 NLV). 2) “‘n Verstandige mens hou homself in bedwang. Hy stel sy eer daarin om ander se oortredings oor te sien” (Spreuke 19:11 NLV). 3) ‘Moenie gou kwaad word nie; ergenis hoort by dwase’ (Prediker 7:9 NLV). 4) ‘…Wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie te gou om kwaad te word nie. As jy kwaad is, kan jy nie doen wat God wil hê nie’ (Jakobus 1:19-20 NLV). ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:31-32 NLV). Vra dus vir God om jou te help om jou woede onder beheer te kry.

Sielskos: Eks 10-12; Matt 6:1-8; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2

Ontdek God se wil (1)

2019-12-02
Romeine 12:2 NLV

Daar word ‘n verhaal vertel van ‘n man wat op ‘n pragtige plaas gewoon het. Toe hy oorlede is, is die plaas, wat al 200 jaar in sy familie se besit was, aan een van die bure verkoop. Een dag, toe die nuwe eienaar in die veld geloop het, het hy ‘n snaakse klip gesien wat uit die grond uitsteek. Hy het die klip huis toe geneem, dit gewas en dit na ‘n juwelierswinkel geneem. Die juwelier het bevestig wat die eienaar reeds vermoed het. Die ou klip, wat al vir duisende jare in die veld begrawe was, was ‘n groot, ongeslypte smarag wat miljoene rande werd was. Hierdie edelsteen het al die jare in die veld gelê en net gewag vir iemand om verby te kom en dit te ontdek. Deur die jare het mense honderde kere verby dit geloop en dit misgekyk, omdat dit na niks meer as ‘n ou tuinklip gelyk het nie. Wanneer ons iets ‘ontdek’, vind ons eintlik iets wat reeds bestaan, selfs al is ons onbewus daarvan. Terwyl baie van ons God se wil vir ons lewens soek, is dit wat ons soek dikwels reg onder ons neuse, omdat ons dit nie herken nie. Om ‘n kosbare steen te herken, moet jy bekend wees met sy karaktereienskappe en weet waarvoor om op te let. Net so moet jy volgens die Skrif lewe om God se wil te herken: ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is.’ Dit beteken dat jy kwaliteit tyd moet spandeer terwyl jy jou Bybel lees en met die Skrywer daarvan gesels en na Hom luister.

Sielskos: Jos 16:1-19:23; Joh 16:1-11; Ps 130; Spr 28:21-24