2020-11-10
Hebreërs 4:15 NLV
Alhoewel die inheemse Indiane in Amerika nie ‘n formele geskrewe alfabet gehad het voor hulle die Europeërs ontmoet het nie, was hulle taal alles behalwe primitief. Die woordeskat van baie inheemse tale was net so groot soos hulle Franse en Engelse oorwinnaars s’n en hulle uitdrukkings was dikwels baie meer welsprekend. In een taal, word die konsep van die woord ‘vriend’ byvoorbeeld gestel as ‘die een wat my sorge op sy of haar rug dra.’
Wat ‘n wonderlike definisie! Wanneer iemand na jou toe kom vir troos of raad, wil hulle dikwels net iemand hê wat gewillig is om te luister en met wie hulle hul sorge kan deel. Wanneer jou antwoord oppervlakkig is, neem hulle soms aan dat jy nie tyd vir hulle het nie. Een van die mooiste dinge wat in die Bybel van Jesus gesê is, is dat Hy ‘ten volle met ons in ons swakhede [kan] saamvoel.’ Partykeer wil ‘n vriend net weet dat jy verstaan waardeur hulle gaan en dat jy omgee. Hier is hoe jy kan help:
1) Luister met ‘n oop hart, eerder as om hulle probleem te probeer wegpraat.
2) As hulle huil, deel hulle trane. As hulle stil is, deel hulle stilte.
3) Laat hulle weet dat jy beskikbaar is, gereed is om te help en dat jy altyd vir hulle sal tyd hê.
4) Herinner hulle dat mense net soveel self kan doen, maar dat God die onmoontlike kan doen.
5) As hulle jou toelaat, bid vir hulle en saam met hulle. So kan jy help om die las van hulle skouers af te haal en dit op God se skouers te sit (sien Psalm 55:23).
Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Joh 9:24-41; Ps 99; Spr 25:26-28
2020-11-02
Spreuke 18:4 NLV
Wanneer Salomo van ‘diep waters’ praat, verwys hy na die water in die bodem van die put wat die skoonste en die koelste is. As jy wil weet watse tipe water ‘n put het, moet jy na die bodem toe gaan. As jy wil weet wat in ‘n persoon se hart is, moet jy na sy of haar woorde luister. ‘n Ou boer het dit so gestel: ‘Wat onder in die put is, kom altyd in die emmer uit!’
Een van die sekerste bewyse van wysheid en volwassenheid is die vermoë om die regte ding, op die regte manier, op die regte tyd, aan die regte persoon te sê – of om niks te sê nie. Soos jy wyser word, sal jy minder praat en meer sê.
Wanneer iemand in Amerika gearresteer word, word daar van die polisie vereis om hulle Miranda regte aan hulle voor te lees: ‘You have the right to remain silent. Anything you say can and will be used against you in a court of law.’ Tensy jou woorde dus bedoel is om iemand op te bou eerder as om hulle af te kraak, is stilte ‘n reg wat jy elke dag moet uitoefen. Soms is die wysste woorde dié wat nooit gespreek word nie.
Iemand het gesê: “‘n Wyse man is iemand wat twee keer dink voordat hy niks sê nie.” Salomo sê ook: ‘Iemand wat kennis het, praat nie baie nie. Iemand met insig bly kalm. Wanneer ‘n dwaas stilbly, kan dit lyk of hy wys is; en as hy sy mond toehou, lyk hy soos iemand met insig’ (Spreuke 17:27-28 NLV). Dis dus beter om jou mond toe te hou en mense te laat dink dat jy ‘n dwaas is, as om jou mond oop te maak en enige twyfel daaromtrent uit die weg te ruim.
Sielskos: Esra 6-8; Joh 7:45-53 Ps 9; Spr 24:30-34
2020-10-30
Spreuke 15:23 NLV
William Penn, die stigter van die Britse kolonie in Pennsylvania in 1677 (die Amerikaanse staat van Pennsylvania is na hom vernoem), het ses beginsels vir gesprekke geformuleer:
‘1) Vermy geselskap waar dit nie winsgewend of noodsaaklik is nie, maar wanneer jy jou in so ‘n gesprek bevind, praat min en praat laaste.
2) Stilte is wysheid, waar om te praat dwaasheid sal wees. Stilte is altyd veilig.
3) Sommige mense is so dwaas dat hulle die gesprek onderbreek en aanneem wat die een wat praat wil sê, in plaas daarvan om te luister en te dink voor hulle antwoord. Dis nie net ongeskik nie, maar dom.
4) As jy twee keer dink voor jy praat, sal jy twee keer beter praat.
5) Dis beter om niks te sê as om nie tot die punt te kom nie. 6) Laat die waarheid altyd jou doelwit in alle gesprekke wees, nie oorwinning of onregverdige selfbelang, winsbejag of om jou kritici te ontbloot nie.’
In kort: Dink voor jy praat! Gee jouself tyd om wysheid in jou woorde te inkorporeer en vermy woorde wat ander mense minderwaardig laat voel of wat hulle sal intimideer.
Een van die beste manier om ander mense te oortuig, is om na hulle te luister. ‘n Skinderbek praat oor ander mense en ‘n vervelige mens praat oor homself, maar ‘n goeie gesprekvoerder praat oor dit wat jou interesseer en luister aandagtig na wat jy te sê het.
Die waarheid is dat mense soms minder onthou hoe meer jy praat. Hulle is meer geneig om jou woorde te onthou as hulle voel dat jy genoeg omgee om na hulle gedagtes en bekommernisse te luister. Die Bybel sê: ‘Daar is vreugde daarin om die regte antwoord te hê; wat is beter as die regte woord op die regte tyd?’
Sielskos: Esra 3-5; Joh 7:25-44; Ps 108; Spr 24:29
2020-10-21
Spreuke 2:6 NLV
Wat sê die mense in jou lewe vir jou? Versterk hulle jou geloof of laat hulle jou aan jouself twyfel? Net omdat mense vir jou iets sê, beteken nie dat dit so is nie.
In 1492 het die mense rondom Columbus gedink dat die aarde plat is. Die ‘kundiges’ het sy reisplanne ondersoek en gesê dat sy idee onmoontlik was. Columbus het egter nie van die kant van die aarde afgeval soos hulle voorspel het nie – hy het Amerika ontdek!
In dieselfde trant het Thomas Edison vir Henry Ford probeer oortuig om sy idee van ‘n motorkar te laat vaar, omdat hy oortuig was dat dit nie sou werk nie. Hy het vir Ford gesê: ‘Kom werk vir my en doen iets wat die moeite werd is.’ Alhoewel Edison ‘n groot uitvinder was, klink dit asof hy positief was oor wat hy kon doen en negatief was oor wat ander mense kon vermag. Die volgende keer wat jy in jou kar klim om êrens heen te gaan, moet jy bly wees dat Ford nie Edison se negatiewe uitkyk oor karre gehad het nie.
Moenie dat iemand anders se beperkende denke jou beperk nie. Selfs al is jy die enigste positiewe persoon in jou familie, wees die een wat ‘n optimistiese uitkyk in elke situasie het. Wat ons ‘algemene kennis’ noem, is oor die algemeen dikwels verkeerd! ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig.’
Het die mense wat vir jou sê: ‘Dit kan nie gedoen word nie,’ vir God by die situasie ingereken? Indien hulle nie het nie, moenie daaraan aandag gee nie. In plaas daarvan om na mense te luister wat jou laat twyfel, moet jy na die mense luister aan wie God wysheid, kennis en begrip gegee het.
Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Joh 5:16-30; Ps 5; Spr 24:8-9
2020-06-04
Hebreërs 5:12 NLV
Paulus het vir die vroeë kerk gesê: ‘Ek kan nog baie hieroor sê, maar dit is vir my moeilik om dit behoorlik by julle tuis te bring, omdat julle nie eintlik wil luister nie. Om die waarheid te sê, behoort julle eintlik self al mense te gewees het wat ander van die dieper dinge van die godsdiens kon vertel. Maar kyk net na julle: ‘n mens moet julle weer van die begin af al die basiese dinge oor God en sy boodskap leer. Op geestelike gebied is julle soos regte babatjies wat net melk drink en geen vaste kos kan eet nie…’ (Hebreërs 5:11-13 DB). Dit staan as ‘vertraagde ontwikkeling’ bekend en kan met enigeen van ons gebeur. Een van die eerste bewyse dat ‘n kind gesond is en goed groei, is wanneer hulle nie meer nodig het om uit ‘n bottel te drink nie en kan begin om vaste kos te eet. As die enigste tyd wanneer jy geestelik gevoed word Sondagoggend in die kerk is, hoekom is jy dan verras wanneer jy nie die geloof om God vir antwoorde op jou gebede te glo, die krag om versoeking te weerstaan of ‘n sin van God se leiding in jou lewe, het nie? Hoe lank dink jy sal jy hou as jy net een keer ‘n week eet? Dawid het gesê: ‘Hoe aangenaam is u woorde vir my; dis soeter as heuning in my mond’ (Psalm 119:103 NLV). Jeremia het geskryf: ‘Toe U met my gepraat het, was u woorde vir my soos kos wat ek kon eet. Ek was bly, want Here, God wat oor alles regeer, U het gesê ek behoort aan U’ (Jeremia 15:16 ABA). Om geestelik te groei, het jy die ‘vaste kos’ van God se Woord nodig (sien Hebreërs 5:14 NLV).
Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Mark 14:12-26; Ps 124; Spr 12:26