‘n Veilige plek om af te pak

2022-04-11
Galasiërs 6:2 AFR83

Het jy al ooit iets gesê wat jy gewens het jy kon terugneem? Jy het al, né? Chuck Swindoll skryf: ‘Ons tree impulsief op en besef, na die tyd, hoe dwaas ons was. Boonop maak ons die mense vir wie ons die liefste is, seer. Al hierdie dinge druk swaar op ons gemoed en ons wonder hoe enigiemand, veral God, vir ons kan lief wees. Wanneer ons so begin dink, moet ons ons gedagtes op die ‘mekaar’ in die Nuwe Testament rig. Wees lief vir mekaar, bou mekaar op, wys mekaar tereg, bemoedig mekaar, lewe in vrede met mekaar, bely julle sondes teenoor mekaar, praat met mekaar, bid vir mekaar. ‘Dra mekaar se laste…’ (Galasiërs 6:2 AFR83).

Dink aan twee bergklimmers. Een het ‘n ligte rugsak terwyl die ander arme siel onder sy bagasie steier. Dit kan ‘n langslewende wrok wees wat sy binneste vergiftig. Of ‘n gebroke verhouding met sy vrou of een van sy kinders wees. Die rugsak kan met onbetaalde rekeninge oorlaai wees. Die vraag is: Waar kan hy gaan om af te pak? Wat hy nodig het, is ‘n plek waar daar persoon-tot-persoon omgee en opregte deelname is. Waar hy vry, sonder skaamte, kan voel om sy geheim of stryd te deel. Waar iemand na hom sal luister, hom sal help afpak en hom nuwe krag sal gee.

Volwasse selgroepe is nie miniatuur kerkdienste nie. Hulle is groepe mense wat Christus liefhet en daarin glo om mekaar te help. Hulle wys nie vinger of preek of vergelyk nie. Hulle is jou broers en susters in Christus. Is jy by ‘n selgroep betrokke? Indien nie, oorweeg dit om by een aan te sluit of een te begin.’ Sodra jy begin afpak, sal jy agterkom hoeveel makliker die reis voel.

Sielskos: Lev 18-19; Luk 22:63-71; Ps 25:8-15; Spr 10:2

Weeg jou woorde versigtig op

2022-01-07
Jakobus 3:2 NLV

Wanneer dit by jou tong kom, is daar drie reëls: 1) Moenie te gou praat nie. ‘Ons maak almal baie foute. Maar ‘n mens wat sy tong in toom kan hou, kan dit ook met sy hele liggaam regkry’ (vers 2 NLV). Omdat jy nooit heeltemal bewus kan wees van alles waaroor ‘n persoon sensitief is nie, moet jy op die Heilige Gees staatmaak om jou woorde op so ‘n manier te rig dat dit nie pyn veroorsaak of hulle aan negatiewe ervarings herinner nie. Die teenoorgestelde is ook waar. Oefen om nie maklik aanstoot te neem nie en gee aan ander die voordeel bo die twyfel wanneer hulle iets sê wat verkeerdelik kan aanstoot gee.

2) Moenie te vinnig reageer nie. ‘Iemand wat ‘n antwoord gee voor hy die vraag gehoor het, is dwaas…’ (Spreuke 18:13 NLV). Voor jy praat, luister eers versigtig en maak seker dat jy verstaan wat gesê word. As jy nie verstaan nie – sê so. Jou behoefte om ‘goed te lyk’ kan veroorsaak dat jy die respek van die persoon wat jy probeer beïndruk, verloor.

3) Moenie jouself te vinnig verbind nie. Salomo skryf: ‘Moenie te gou praat nie. Moenie oorhaastig iets aan God belowe nie…’ (Prediker 5:1 NLV). Hy gaan voort deur te verduidelik dat ons nie moet probeer om ‘n belofte te verbreek deur te sê dat ons ‘n fout gemaak het nie. Jou woord is jou eer en wanneer jy ‘n belofte verbreek, maak jy mense seer en gee jy hulle vertroue prys.

Neem dus ‘n oomblik voor jy praat en indien nodig, neem tyd om daaroor te bid. Jou tyd en jou woorde is twee dinge wat nooit teruggeneem kan word nie, weeg dus jou woorde versigtig op.

Sielskos: Gen 13-16; Luk 1:57-66; Ps 42:1-5; Spr 1:20-27

Liefde luister

2020-12-18
Jakobus 1:19 NLV

Die meeste mans is van nature ‘regmakers’. Hulle maak karre, wasmasjiene en die druppende kraan reg. Wanneer dit dus voorkom of hulle vrouens oor hulle probleme wil praat, eerder as om dit reg te maak, raak hulle gefrustreerd. Dikwels besef hulle nie dat sy emosionele bekragtiging, eerder as ‘n oplossing, nodig het nie. Dit beteken dat jy moet sit en geduldig moet luister hoe sy voel. Wanneer mans dit doen, verander hulle vrouens se hele uitkyk op die situasie.

Is die probleem opgelos? Nie noodwending nie. ‘n Belangrike behoefte is egter vervul. In die vrou se oë wys die man wat haar op romantiese afsprake geneem het en aan haar lippe gehang het, dat haar gevoelens steeds vir hom saak maak. Die man wat dit gouer, eerder as later, leer, sal ‘n gelukkiger vrou hê.

Dink so daaroor: Soms verander ons gebede nie die omstandighede nie, maar ons voel beter omdat ons gebid het, nie waar nie? Dis omdat ons dit met die Een wat dit kan verander en genoeg omgee om te luister, gedeel het, dus gaan ons met ‘n ander uitkyk op die situasie weg.

Dis die rede hoekom Paulus geskryf het: ‘Getroude mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het’ (Efesiërs 5:25 NLV). Mans wat in hul beroepe uitblink, is dikwels onbewus van hierdie huweliksbeginsel. Dis egter nie te laat om te leer nie. Moet egter nie verras wees as jou vrou versigtig of verward lyk of flou neerval die eerste keer wat jy dit probeer nie! Haar reaksie sal in verhouding wees met die lengte van die tyd wat jy emosioneel afwesig was. Byt dus vas en gee dit tyd. Die beloning sal veel meer as die belegging wees.

Sielskos: Miga 1-4; Joh 20:19-31; Ps 67; Spr 30:29-33

Draai briek aan! (2)

2020-11-29
Romeine 12:2 NLV

Ons hoë-tegnologiese leefstyl produseer mense wat gestres is. Volgende jaar sal ons nog minder tyd hê, omdat tegnologie statisties twee ure van jou tyd opneem, vir elke uur wat dit jou spaar.

Keri Wyatt skryf: ‘Elke keer wat jy vir iets ‘ja’ sê, sê jy vir ander opsies ‘nee.’ Moenie die gedrag van hierdie wêreld namaak nie; ons wêreld is gejaagd. Neem tyd om te luister en te sorg. Die kenmerk van ‘n Christen is liefde, en jy kan nie iemand gejaagd liefhê nie.’

Om dus briek aan te draai, moet jy die volgende doen: 1) Vereenvoudig jou lewe. ‘…hou op om julle te bekommer oor… wat julle sal eet of drink; of… oor wat julle sal aantrek…’ (Matteus 6:25 NLV). Stel God eerste en alle ander dinge sal volg. Toe Marlene Eissens besluit het om van beroep te verander, het sy terug Universiteit toe gegaan met net die goed wat in haar kar kon pas. Vandag het sy ‘n bediening en ‘n huis, maar weerhou haar daarvan om dit vol besittings te maak en skenk alles wat sy nie in ses maande gebruik het nie, aan liefdadigheid. Sy sê: ‘Ek voel ware vryheid, omdat ek met minder goed meer tyd het om op God te fokus.’

2) Onderhou die Sabbat. Sit een dag ‘n week eenkant om te rus en tyd met jou geliefdes en in gemeenskap met jou kerkfamilie, te bestee.

3) ‘…Laat wat julle het, vir julle genoeg wees…’ (Hebreërs 13:5 NLV). Jy sal nog steeds in die versoeking kom om te jaag en vir meer en beter dinge te wens, maar jy sal nader aan God groei wanneer jy meer ruimte in jou lewe vir Hom maak. Soos J.I. Packer sê: ‘Ons bring God in oneer wanneer ons ‘n Redder wat voldoen aanroep, maar dan in ontevredenheid rondloop.’

Sielskos: Jos 1; Ps 27:11-14; 2 Tim 2:1-13

Draai briek aan! (1)

2020-11-28
Filippense 3:13 NLV

Ons lewe in die dae van ‘multitasking’. Ons praat op die foon, sit grimering aan, drink koffie, eet middagete, voer die kinders en lees selfs teksboodskappe terwyl ons by die hoofweg afjaag. Dr Richard Swenson sê: ‘In sommige gevalle is ons meer produktief. Sommige mense hekel terwyl hulle nuus kyk. In sommige werke word dit as noodsaaklik gesien; klerke op die vloer van die aandelemark moet rondhardloop terwyl hulle vyf dinge gelyk doen. Is dit egter nie bisar dat wanneer ‘n 48-jarige makelaar dood neerslaan, sy kollegas aanhou om rondom sy lewelose liggaam te werk terwyl hy noodhulp ontvang nie?

Die dramatiese eskalasie van besig wees het ons te veel dinge gegee om in ‘n te kort tyd te doen. Die standaard strategie is om twee, drie of selfs vier dinge op ‘n slag te doen, in plaas daarvan om te weier om meer dinge op jou skouers te neem. Iemand het egter vergeet om die somme te maak! Deur twee dinge gelyk te doen, word 30 persent van jou aandag van die primêre taak afgetrek; jy offer kwaliteit vir kwantiteit op, wat tot meer foute lei. Jy mag dalk meer take klaarmaak, maar met slegter resultate en senuwees wat gedaan is.

Wanneer dit egter by verhoudings kom, kan ‘multitasking’ rampspoedig wees. Ons luister nie, want dit neem te veel tyd. Families het fokus nodig, babas het dinge dadelik nodig wanneer hulle dit nodig het. Jy voed hulle op, of jy doen dit nie.

Paulus het nie so gelewe nie. Een ding op ‘n slag was vir hom belangrik – die persoon voor hom.’ ‘n Hond het vier voete, maar probeer nie op vier verskillende paaie loop nie. Draai dus briek aan en vestig ‘n pas wat verstandig en volhoubaar is.

Sielskos: 2 Kro 32-34; Joh 14:15-25; Ps 118:19-29; Spr 28:5-8