Liefde luister

2020-12-18
Jakobus 1:19 NLV

Die meeste mans is van nature ‘regmakers’. Hulle maak karre, wasmasjiene en die druppende kraan reg. Wanneer dit dus voorkom of hulle vrouens oor hulle probleme wil praat, eerder as om dit reg te maak, raak hulle gefrustreerd. Dikwels besef hulle nie dat sy emosionele bekragtiging, eerder as ‘n oplossing, nodig het nie. Dit beteken dat jy moet sit en geduldig moet luister hoe sy voel. Wanneer mans dit doen, verander hulle vrouens se hele uitkyk op die situasie.

Is die probleem opgelos? Nie noodwending nie. ‘n Belangrike behoefte is egter vervul. In die vrou se oë wys die man wat haar op romantiese afsprake geneem het en aan haar lippe gehang het, dat haar gevoelens steeds vir hom saak maak. Die man wat dit gouer, eerder as later, leer, sal ‘n gelukkiger vrou hê.

Dink so daaroor: Soms verander ons gebede nie die omstandighede nie, maar ons voel beter omdat ons gebid het, nie waar nie? Dis omdat ons dit met die Een wat dit kan verander en genoeg omgee om te luister, gedeel het, dus gaan ons met ‘n ander uitkyk op die situasie weg.

Dis die rede hoekom Paulus geskryf het: ‘Getroude mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het’ (Efesiërs 5:25 NLV). Mans wat in hul beroepe uitblink, is dikwels onbewus van hierdie huweliksbeginsel. Dis egter nie te laat om te leer nie. Moet egter nie verras wees as jou vrou versigtig of verward lyk of flou neerval die eerste keer wat jy dit probeer nie! Haar reaksie sal in verhouding wees met die lengte van die tyd wat jy emosioneel afwesig was. Byt dus vas en gee dit tyd. Die beloning sal veel meer as die belegging wees.

Sielskos: Miga 1-4; Joh 20:19-31; Ps 67; Spr 30:29-33