2022-09-11
Spreuke 13:3 NLV
Bitsige woorde kan ‘n persoon se vermoë om te hoor wat jy te sê het, ‘afsny.’ Toe Jesus deur Judas verraai is, het Hy nie weerwraak geneem nie, selfs al kon Hy twaalf legioene engele tot sy verdediging geroep het (sien Matteus 26:53). Toe die skare kom, het hulle Hom gegryp en gearresteer. Op daardie punt het Petrus sy swaard uitgepluk en die slaaf van die hoëpriester se oor afgesny. Petrus het seker gedink: ‘Ons moet terugbaklei!’ Jesus het egter gesê dat dit nie die manier is hoe mens dinge moet hanteer nie. ‘…Daarna het Hy die oor aangeraak en dit gesond gemaak’ (Lukas 22:51 NLV).
Petrus het die neiging gehad om te praat wanneer hy eintlik moes luister en betrokke te raak by situasies wat nie sy besigheid was nie. Hy moes leer om op God te wag en nederigheid en onderskeidingsvermoë uit te oefen. God het groot planne vir hom gehad, maar hy kon dit nie vervul as hy rondgeloop het en mense se ore afgekap het nie.
Daar is ‘n les hier te leer. Jy kan nie jou humeur verloor soos jy lus het nie. Jy moet sensitief vir God se Gees word: As Hy vir jou sê: ‘Moet niks sê nie,’ moet jy stilbly, selfs al beteken dit dat jy iemand laat dink hulle is reg wanneer jy weet dat hulle verkeerd is. Jy moet leer dat God jou nie ‘n verduideliking skuld nie. Jy kan jou geestelike groei of God se seën in jou lewe verhinder wanneer jy nie dit wat jy sê, beheer nie. Miskien dink jy dat, in vergelyking met owerspel of steel, dit nie so erg is nie. Dink weer: ‘Iemand wat op sy woorde let, bevorder die lewe. ‘n Bitsige antwoord kan alles ruïneer’ (Spreuke 13:3 NLV).
Sielskos: 2 Kon 6:8-20; Ef 1:15-23
2022-06-29
Spreuke 23:7 AFR53
c besigheid.’ Hier is egter wyse raad wat op alles in die lewe betrekking het: ‘Let op jou gedagtes!’ Wanneer jy in hierdie area verloor, verloor jy orals anders! Salomo bespreek in Spreuke 23 ses beginsels waarvolgens om te te lewe wanneer dit by jou denkwyse kom.
1) Jou gedagtes bepaal jou karakter. ‘Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…’ Voor jy ‘n leuen vertel, moet jy dit eers oorweeg en soos ‘n leuenaar dink. Voor jy egbreuk pleeg, moet jy eers ‘n fantasie daaroor hê. As jy dus nie iets wil doen nie, hou op om daaraan te dink!
2) Moenie jou gedagtes mors op mense wat dit nie waardeer nie. ‘Moenie ‘n dwaas reghelp nie. Jou goeie raad behandel hy met minagting’ (vers 9 NLV).
3) Die eerste persoon wat jy moet lei, is jouself. ‘Maak alles wat die spreuke jou leer jou eie. Spits jou ore om nog meer van die lewe te leer’ (vers 12 DB). Solank as wat jy aanhou groei, kan jy aanhou lei.
4) Maak seker dat jou rolmodelle mense met beginsels en integriteit is. ‘Moenie jaloers word op sondaars nie…’ (vers 17 NLV).
5) Bly vol vertroue dat die visie wat God vir jou gegee het, sal gebeur. ‘Hou altyd jou ontsag vir die Here. Jy sal altyd ‘n toekoms hê. Jou hoop sal nooit beskaam word nie (verse 17-18 NLV).
6) Bly standvastig in dit wat jy weet reg is. Moenie die pad byster raak nie. ‘…luister… dat jy wys kan word. Hou jou hart op die regte koers’ (vers 19 NLV).
Let dus op jou gedagtes.
Sielskos: Jer 4-6; Matt 22:15-22; Ps 59:1-8; Spr 14:21-22
2022-06-21
Prediker 5:1 DB
Wanneer dit kom by beloftes maak en die nakoming daarvan, draai Salomo nie doekies om nie: ‘Dink mooi voordat jy met die Here praat. Moenie sommer vinnige beloftes aan God maak nie… As jy God iets belowe het, moet jy dit so gou moontlik doen. God hou nie van mense wat los en vas beloftes maak nie. Doen wat jy belowe het. Moenie dat baie praat jou in die moeilikheid bring nie, want dan moet jy weer… sê jy het dit nie so bedoel nie…’ (verse 1, 3-5 DB). Dit beteken dat jy nie impulsief moet wees nie, net soveel moet luister as wat jy praat, soveel informasie moet bymekaar maak as wat jy kan en God dan in gebed moet raadpleeg voor jy ‘n belofte maak.
Mense sê dikwels dit wat hulle dink ander mense wil hoor, maar dit kan hulle in baie moeilikheid bring. Moenie iets beloof wat jy nie kan nakom nie. Moet ook nie verskonings maak nie. Niks verminder jou invloed meer as wat jy ‘n fout met ‘n flou verskoning probeer wegpraat nie. Wanneer jy ‘n belofte maak wat op emosie gebaseer is, sal jy dit net nakom wanneer jy op ‘n sekere manier voel. Ware beloftes werk nie so nie. Dis nie ‘n gevoel nie; dis ‘n karaktereienskap. Menslike emosies fluktueer, maar beloftes moet stabiel wees.
Ware toewyding kom in tye van moeilikheid en teenstand na vore. Dit maak nie op gawes of vermoëns staat nie, maar op integriteit. Dis die resultaat van keuses, nie voorwaardes nie. Dit bly net in stand wanneer dit op waardes gebaseer is. ‘Dink mooi voordat jy met die Here praat. Moenie sommer vinnige beloftes aan God maak nie…’ (vers 1 DB). Besin dus eers voor jy begin en dink mooi voor jy ‘n belofte maak.
Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Matt 20:1-16; Ps 139:7-12; Spr 13:24
2022-06-13
Spreuke 4:1 NLV
Jim Killam skryf: ‘Oor ‘n paar dae sal ons oudste seun in die huwelik tree. Ek het geen raad oor trouebeplanning nie, maar gebaseer op 24 jaar se ondervinding, kan ek ‘n paar stukkies raad gee oor hoe om die huwelik te navigeer.
1) Dit doen wondere vir jou vrou se selfbeeld om haar voor ander mense te prys.
2) Om haar voor ander mense te kritiseer, selfs as ‘n grap, is altyd ‘n slegte idee.
3) Soms wil sy nie hê dat jy haar probleme moet oplos nie, sy wil net hê dat jy luister. Ek weet; ek verstaan dit ook nie!
4) Moenie daardie simpel gesegde glo dat die huwelik ‘n meulsteen om jou nek is nie. Die mense wat dit vir jou vertel, sal enigiets gee om te hê wat jy het.
5) Soms, so onprakties soos dit mag klink, is dit beter om die geld op ‘n vakansie eerder as meubels te spandeer – mits jy dit kan bekostig.
6) Kredietkaartskuld is ‘n monster. Moenie daarvoor val nie. Moet ook nooit finansiële geheime hou nie; dit bly nooit geheim nie. Lewe op minder as wat jy maak; indien moontlik, lewe op een inkomste.
7) Gee jou tiende. Dit eer nie net God nie, maar fokus die res van jou besluite oor jou geld.
8) Om saam te lag is beter vir julle as om saam te oefen.
9) Moenie so bang wees om mekaar se gevoelens seer te maak dat julle nooit praat oor hoe julle regtig voel nie. (Dit het my 5 jaar geneem om vir jou ma te sê dat ek nie van die konfyt wat sy op my grondboontjiebotter broodjies smeer, hou nie!)
10) Moenie te skaam wees om saam oor seks te praat nie.’
Sielskos: Op 19-22; Matt 17:1-13; Ps 132:11-18; Spr 13:7-8
2022-04-28
1 Johannes 5:14 NLV
‘n Leier het hierdie woorde geskryf: ‘My pa was ‘n besige man. Om hom by die werk op te spoor moes jy deur die skakelbord gaan, tensy jy sy private nommer geken het. Hy het dit net vir ‘n paar besigheidsvennote gegee, maar al sy kinders het die nommer geken. Maak nie saak hoe besig hy was nie, ons kon hom enige tyd op sy direkte lyn bel. My kinders ken ook my nommer en hulle weet dat hulle my enige tyd oor enigiets kan bel. Daar is geen stem wat soeter as my kinders se stemme klink nie. Wanneer een van hulle sê: ‘Hallo, Pappa,’ maak dit nie saak waarmee ek besig is nie. Hulle is my absolute prioriteit. Maal dit nou eksponensieel. Niks klink soeter vir God as jou stem wat sê: ‘Hallo, Vader,’ nie. Daar is niks wat tans in die kosmos aan die gang is wat Hom daarvan sal weerhou om sy volle aandag aan jou gesprek of versoek te gee nie.’
Dit beteken dat wanneer God jou Vader is, kan jy Hom enige tyd bel. Hy is net ‘n gebed weg! Jesus het gesê: ‘Hou aan met vra, en God sal vir julle gee… Julle as ouers sal tog nie vir julle kinders as hulle brood vra, klippe gee nie… As sondige mense soos julle dan goed weet om goeie dinge aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan hulle wat dit van Hom vra!’ (Matteus 7:7, 9-11 NLV).
‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister… weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV). Glo vandag in jou gebede.
Sielskos: Dan 8-10; Matt 3:1-17; Ps 144:1-8; Spr 10:19-21