Besin voor jy begin

2022-06-21
Prediker 5:1 DB

Wanneer dit kom by beloftes maak en die nakoming daarvan, draai Salomo nie doekies om nie: ‘Dink mooi voordat jy met die Here praat. Moenie sommer vinnige beloftes aan God maak nie… As jy God iets belowe het, moet jy dit so gou moontlik doen. God hou nie van mense wat los en vas beloftes maak nie. Doen wat jy belowe het. Moenie dat baie praat jou in die moeilikheid bring nie, want dan moet jy weer… sê jy het dit nie so bedoel nie…’ (verse 1, 3-5 DB). Dit beteken dat jy nie impulsief moet wees nie, net soveel moet luister as wat jy praat, soveel informasie moet bymekaar maak as wat jy kan en God dan in gebed moet raadpleeg voor jy ‘n belofte maak.

Mense sê dikwels dit wat hulle dink ander mense wil hoor, maar dit kan hulle in baie moeilikheid bring. Moenie iets beloof wat jy nie kan nakom nie. Moet ook nie verskonings maak nie. Niks verminder jou invloed meer as wat jy ‘n fout met ‘n flou verskoning probeer wegpraat nie. Wanneer jy ‘n belofte maak wat op emosie gebaseer is, sal jy dit net nakom wanneer jy op ‘n sekere manier voel. Ware beloftes werk nie so nie. Dis nie ‘n gevoel nie; dis ‘n karaktereienskap. Menslike emosies fluktueer, maar beloftes moet stabiel wees.

Ware toewyding kom in tye van moeilikheid en teenstand na vore. Dit maak nie op gawes of vermoëns staat nie, maar op integriteit. Dis die resultaat van keuses, nie voorwaardes nie. Dit bly net in stand wanneer dit op waardes gebaseer is. ‘Dink mooi voordat jy met die Here praat. Moenie sommer vinnige beloftes aan God maak nie…’ (vers 1 DB). Besin dus eers voor jy begin en dink mooi voor jy ‘n belofte maak.

Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Matt 20:1-16; Ps 139:7-12; Spr 13:24