Vertraagde geestelike ontwikkeling (1)

2020-06-04
Hebreërs 5:12 NLV

Paulus het vir die vroeë kerk gesê: ‘Ek kan nog baie hieroor sê, maar dit is vir my moeilik om dit behoorlik by julle tuis te bring, omdat julle nie eintlik wil luister nie. Om die waarheid te sê, behoort julle eintlik self al mense te gewees het wat ander van die dieper dinge van die godsdiens kon vertel. Maar kyk net na julle: ‘n mens moet julle weer van die begin af al die basiese dinge oor God en sy boodskap leer. Op geestelike gebied is julle soos regte babatjies wat net melk drink en geen vaste kos kan eet nie…’ (Hebreërs 5:11-13 DB). Dit staan as ‘vertraagde ontwikkeling’ bekend en kan met enigeen van ons gebeur. Een van die eerste bewyse dat ‘n kind gesond is en goed groei, is wanneer hulle nie meer nodig het om uit ‘n bottel te drink nie en kan begin om vaste kos te eet. As die enigste tyd wanneer jy geestelik gevoed word Sondagoggend in die kerk is, hoekom is jy dan verras wanneer jy nie die geloof om God vir antwoorde op jou gebede te glo, die krag om versoeking te weerstaan of ‘n sin van God se leiding in jou lewe, het nie? Hoe lank dink jy sal jy hou as jy net een keer ‘n week eet? Dawid het gesê: ‘Hoe aangenaam is u woorde vir my; dis soeter as heuning in my mond’ (Psalm 119:103 NLV). Jeremia het geskryf: ‘Toe U met my gepraat het, was u woorde vir my soos kos wat ek kon eet. Ek was bly, want Here, God wat oor alles regeer, U het gesê ek behoort aan U’ (Jeremia 15:16 ABA). Om geestelik te groei, het jy die ‘vaste kos’ van God se Woord nodig (sien Hebreërs 5:14 NLV).

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Mark 14:12-26; Ps 124; Spr 12:26