Luister, en wees gewillig om raad aan te neem
2018-12-28Spreuke 29:1 NLV
Jare gelede het siviele ingenieurs ‘n dam ondersoek. Hierdie dam het die waters van verskeie riviere wat deur ‘n vallei, waarin daar ‘n dorp geleë is, gevloei het, beheer. Hulle was bekommerd oor wat hulle gesien het en het vir die stadsamptenare gesê, ‘Die dam is onveilig en julle is in groot gevaar. Julle moet die inwoners verskuif.’ Die amptenare het geantwoord, ‘Ons het dit alles al gehoor. Die dam is nie ‘n gevaar nie.’ ‘n Jaar later het die ingenieurs weer die dam besoek en gesê, ‘Ons waarsku julle, julle is elke uur in groot gevaar.’ Teen hierdie tyd het die ingenieurs se verslag na die dorpsinwoners toe versprei, wat dit afgelag het en gesê het, ‘Hulle probeer ons net bangpraat.’ ‘n Paar maande later het die ingenieurs hulle weer gewaarsku en weer is hulle raad van die hand gewys. Vyftien dae later het ‘n seun op ‘n perd deur die dorp gejaag en geskree, ‘Hardloop vir julle lewens! Die dam het gebreek en die water is op pad.’ Die inwoners het egter vir hom gelag en gedink dat hy hulle net probeer skrikmaak. Toe het ‘n muur vuil water hulle egter getref en minder as dertig minute later was Johnstown in puin gelê. Meer as 3700 mense het daardie dag gesterf. Het God jou al ‘n paar keer oor sekere dinge in jou lewe gewaarsku: verhoudings, gewoontes, houdings? Indien dit die geval is, is hier twee Skrifgedeeltes wat jy versigtig moet oordink: ‘Vir ‘n dwaas is net sy eie pad die regte een. Iemand wat wys is, luister na ander se raad’ (Spreuke 12:15 NLV). ‘Wie hom teen teregwysings bly verset, stort skielik ineen. Niks kan dan weer vir hom herstel bring nie.’ Die woord vir jou vandag is: Luister, en wees gewillig om raad aan te neem.
Sielskos: Job 32-35; Luk 2:21-33; Ps 97; Pred 10:15-11:3