2020-10-08
1 Tessalonisense 5:16 NLV
Het jy al ooit jouself gevang waar jy vra: ‘Hoekom ek, Here? Hoekom antwoord U nie my gebede nie? Hoekom werk u Woord nie vir my soos dit vir ander mense werk nie?’
Vriende wat goed bedoel, sê vir jou om jou kop op te tel, dinge sal beter raak, maar jy kan nie lig aan die einde van die tonnel sien nie. Net wanneer jy dink dat dinge nie erger kan raak nie, tel jy jou Bybel op en lees: ‘Wees altyd vol blydskap… Wees in alle omstandighede dankbaar…’ (verse 16-18 NLV), asof jy veronderstel is om jou situasie te geniet!
Alexander MacLaren het gesê: ‘Probeer om ‘n lewendige, vreugdevolle sin van die oormatige goedheid van God in jou daaglikse lewe te ontwikkel.’ Wanneer die lewe jou oorweldig is die laaste ding wat jy wil doen om dankbaarheid te betuig, nie waar nie?
Soos Nancy Leigh DeMoss egter opmerk: ‘Tensy jy mal is oor die gevoel wanneer verantwoordelikhede jou drie uur in die oggend wakker maak, of jou planne vir jou af dag fnuik, of vir jou ‘n onverwagte rekening gee wat nie in jou begroting was nie, moet jy nie probeer om die Christelike lewe sonder dankbaarheid te leef nie. Deur brute wilskrag en inspanning mag jy dalk die regte resultate kry, maar jou geestelike lewe sal hol, skerp en onaanloklik wees. Ware Christelik-gesentreerde, genade-gemotiveerde dankbaarheid pas by die lewe se desperaatste oomblikke en moeilikste situasies. Wanneer daar geen antwoorde is nie, gee dit hoop. Dit transformeer oorweldigde sukkelaars in triomfantlike oorwinnaars. Dankbaarheid is ‘n Bybelse leefstyl wat deur genade deurtrek is en die transformerende krag daarvan word vir diegene wat die Gewer van elke goeie gawe ken en erken; en wat ontvangers van sy reddende genade is, gereserveer.’
Sielskos: 1 Sam 24-26; Joh 1:29-42; Ps 131; Spr 23:1-3
2020-05-23
Deuteronomium 8:18 NLV
Wanneer dit by God en jou geld kom: 1) Sal Hy jou seën wanneer jy doen wat Hom behaag. Hoekom? Omdat jy met jou dade bewys dat dit vir jou belangriker is om sy wil te doen, as om jou eie dinge te doen. ‘…Uitstekend!.. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou…’ (Matteus 25:23 NLV). Daar is egter ‘n ander kant van die muntstuk. Wanneer jy willens en wetens dit doen wat God nie behaag nie, sal Hy ophou om jou te seën. ‘…Vat die muntstuk by hom en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het. Aan hulle wat dit wat aan hulle toevertrou is goed gebruik, sal nog meer gegee word… Maar van hulle wat niks kan wys nie, sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word’ (verse 28-29 NLV). 2) Sal Hy jou wys hoe om meer geld te maak. Hy het vir Josef gewys hoe om te midde van ‘n wêreldwye hongersnood voorspoedig te wees en die nasies rondom hom te seën. Toe die visse nie wou byt nie, het Jesus vir die dissipels gewys waar om ‘n bootvrag visse te kry. God werk deur onwaarskynlike kanale en Hy wil hê dat jy op Hom moet vertrou as die bron van alles wat jy nodig het. Die Bybel sê: ‘Onthou altyd dat dit die Here jou God is wat vir jou die krag gee om ryk te word…’ Die woord ‘krag’ sluit idees, strategieë, planne, verhoudings en beleggings in. Ja, God kan vir jou ‘n onverwagte tjek in die pos stuur wat jou probleem tydelik sal oplos, maar jy moet Hom vertrou vir ‘n plan wat jou probleem permanent sal oplos.
Sielskos: Heb 11:17-13:25; Mark 11:1-11; Ps 47; Spr 12:4-6
2019-11-16
Psalm 39:2 DB
Die Psalmdigter het baie oor die gevare van die tong te sê gehad. ‘Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou wag oor wat ek sê’ (Psalm 141:3 NLV). ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here…’ (Psalm 19:15 NLV). Net omdat ‘n gedagte by jou opkom, beteken dit nie dat jy dit moet uitblaker nie! ‘Wanneer ‘n dwaas kwaad is, dan sê hy alles wat hy dink, ‘n wyse mens bly kalm’ (Spreuke 29:11 ABA). Jy sê: ‘Maar ek het dit nie regtig bedoel nie. Ek het net afgekoel!’ Jy mag dalk dink dat jy dit nie bedoel het nie, maar die Bybel sê: ‘…Waar die hart van vol is, loop die mond van oor’ (Matteus 12:34 NLV). Wat in jou binneste weggesteek word, eindig onvermydelik aan die buitekant op. Plaas jouself in die ander persoon se plek, luister na wat jy sê en vra jouself af hoe jy sou reageer. Wanneer jy met iemand anders praat, hang hulle aanvaarding nie af van jou verhoogde desibelvlak nie, maar van jou vermoë om te luister, te verstaan, om te gee, te empatiseer en met wysheid te reageer. As geeneen van hierdie dinge werk nie, doen wat Jesus gedoen het toe Hy voor Pilates gestaan het: ‘…só het Hy sy mond nie oopgemaak nie’ (Handelinge 8:32 NLV). Wonderlik! Hy het die mag en gesag gehad om twaalf legioene engele (72,000 plus) tot sy verdediging te roep, maar Hy het dit nie gedoen nie. Dis krag, nie swakheid nie! Nog ‘n wyse woord: Moet nooit tot die vlak van ‘n gevloekery daal nie. ‘Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel’ (Efesiërs 4:29 NLV).
Sielskos: 2 Kro 16-18; Joh 11:38-57; Ps 81; Spr 27:1-3
2019-04-19
Johannes 19:30 NLV
Golgota was seëvierend! Nooit was moed groter of krag sterker nie. Toe Hy gesê het: ‘Dit is nou afgehandel’ (sommige vertalings lees ‘Dit is volbring’), het Hy nie bedoel dat Hy klaar of oorwonne was nie. Jesus is glad nie deur Golgota verpletter nie, Hy het op drie maniere geseëvier: 1) Hy het sy eie menslike begeerte om onbeskryflike lyding te vermy, oorkom: “Hy het… met sy gesig plat teen die grond gebid: ‘O my Vader! As dit moontlik is, neem tog hierdie lydensbeker van My weg. Doen nogtans nie soos Ék wil nie, maar soos Ú wil'” (Matteus 26:39 NLV). 2) Hy het die demoniese magte van die duisternis oorwin. ‘So het Hy die hemelse en aardse magte ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer’ (Kolossense 2:15 NLV). 3) Hy het die wet se hardkoppige eise teen sondaars oorwin. ‘Christus is immers die eindbestemming van die wet sodat elkeen wat in Hom glo, vrygespreek kan word’ (Romeine 10:4 NLV). By Golgota het liefde oor die wet geseëvier en ons wat nooit God se wet ten volle sou kon onderhou nie, is vrygemaak. ‘Dit is nou afgehandel!’ was die uitroep van ‘n oorwinnaar, nie van ‘n slagoffer nie! Dit het nie so vir die skare of sy geskokte en hartseer dissipels gelyk nie. Drie dae later het dit egter so gelyk toe die leë graf bewys het dat Jesus die dood oorwin het. Dit kom alles neer op die volgende: ‘Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word’ (Romeine 10:9 NLV).
Sielskos: Gen 22:1-18; Luk 23:26-49; Ps 22; Jes 53
2019-03-30
Psalm 118:6 NLV
Jy sal altyd vrees in een of ander vorm moet hanteer. Jou vrese sal ook verskil in jou verskillende lewenseisoene. Sodra jy dit aanvaar, kan jy vooruitgang maak. Julius Ceasar het byvoorbeeld die wêreld oorwin, maar hy was bang vir donderweer. Petrus die Grote van Rusland, het soos ‘n kind gehuil wanneer hy brûe moes oorsteek. Die gevierde Britse skrywer, dr Samuel Johnson, moes met sy linkervoet ‘n kamer binnegaan. As hy per ongeluk sy regtervoet gebruik het, het hy uitgegaan en weer met sy linkervoet binne gekom. (Praat van jou beste voetjie voorsit!). As jy toelaat dat vrees jou beheer, sal vrees jou daarvan weerhou om jou lewe ten volle uit te leef. Vrees teel onaktiwiteit, onaktiwiteit teel gebrek aan ervaring, gebrek aan ervaring teel onkunde en onkunde teel vrees. As jy in hierdie siklus vasgevang is, is hier ‘n paar Skrifgedeeltes wat jou kan help: 1) ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV). 2) ‘Ek laat vir julle my vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). 3) ‘As die Here gelukkig is met die manier waarop iemand lewe, sal Hy selfs sy vyande in vrede met hom laat lewe’ (Spreuke 16:7 NLV). 4) ‘…in God is my vertroue; ek sal nie vrees nie. Wat kan mense aan my doen?’ (Psalm 56:5 NLV). 5) ‘Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Verpersoonlik hierdie Skrifgedeeltes in gebed, steun op hulle en moenie ‘n sentimeter aan vrees toegee nie.
Sielskos: Lev 5-7; Luk 20:27-33; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6