Die transformerende waarheid van Golgota (4)
2019-04-19Johannes 19:30 NLV
Golgota was seëvierend! Nooit was moed groter of krag sterker nie. Toe Hy gesê het: ‘Dit is nou afgehandel’ (sommige vertalings lees ‘Dit is volbring’), het Hy nie bedoel dat Hy klaar of oorwonne was nie. Jesus is glad nie deur Golgota verpletter nie, Hy het op drie maniere geseëvier: 1) Hy het sy eie menslike begeerte om onbeskryflike lyding te vermy, oorkom: “Hy het… met sy gesig plat teen die grond gebid: ‘O my Vader! As dit moontlik is, neem tog hierdie lydensbeker van My weg. Doen nogtans nie soos Ék wil nie, maar soos Ú wil'” (Matteus 26:39 NLV). 2) Hy het die demoniese magte van die duisternis oorwin. ‘So het Hy die hemelse en aardse magte ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer’ (Kolossense 2:15 NLV). 3) Hy het die wet se hardkoppige eise teen sondaars oorwin. ‘Christus is immers die eindbestemming van die wet sodat elkeen wat in Hom glo, vrygespreek kan word’ (Romeine 10:4 NLV). By Golgota het liefde oor die wet geseëvier en ons wat nooit God se wet ten volle sou kon onderhou nie, is vrygemaak. ‘Dit is nou afgehandel!’ was die uitroep van ‘n oorwinnaar, nie van ‘n slagoffer nie! Dit het nie so vir die skare of sy geskokte en hartseer dissipels gelyk nie. Drie dae later het dit egter so gelyk toe die leë graf bewys het dat Jesus die dood oorwin het. Dit kom alles neer op die volgende: ‘Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word’ (Romeine 10:9 NLV).
Sielskos: Gen 22:1-18; Luk 23:26-49; Ps 22; Jes 53