Mik vir die doel

2022-05-10
Filippense 3:14 AFR53

Paulus skryf: ‘…ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar’ (verse 14-15 AFR53).

Paulus beskryf die Christen as ‘n skerpskutter. In Paulus se tyd sou die doel of teiken deur ‘n pyl getref word, maar in ons tyd kan die doel ook by ‘n skietbaan getref word. As jy al ooit op ‘n teiken geskiet het, weet jy die volgende:

1) Jy moet afleidings ignoreer. Wanneer jy die teiken in die oog het, kan iets so onbeduidend soos om op die verkeerde plek asem te haal, veroorsaak dat jy dit mis. Wat sê Paulus dus? Eenvoudig die volgende: ‘Vergeet wat agter jou en rondom jou is en bly daarop gefokus om die prys te verkry.’ Hy verwys nie hier na jou verlossing nie. Jesus het dit alreeds gekoop en vrylik deur genade aan jou gegee. Nee, hy verwys hier na die vervulling van jou Godgegewe doelwit en die beloning wat daarna op jou wag.

2) Jou koeël moet die regte hoeveelheid buskruit bevat. Anders sal dit nie die teiken haal nie. Kry jy die idee? Jou buskruit is jou krag! Waar kom jou krag vandaan? Van die Heilige Gees! Jesus het gesê: ‘Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, [en by die werk en in jou verhoudings], en tot die uithoeke van die aarde’ (Handelinge 1:8 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – mik vir die doel.

Sielskos: Num 14-15; Matt 7:15-29; Ps 37:32-40; Spr 11:7-8

Die waarheid van die skepping (3)

2021-02-14
Genesis 1:2 NLV

Die wetenskap definieer die heelal deur middel van vyf komponente waaruit dit bestaan: tyd, ruimte, materie, krag en beweging. Met dit in gedagte, lees die volgende: ‘In die begin [tyd] het God die ganse heelal gemaak [krag], die hemel [ruimte] daarbo en die aarde [materie] hieronder. Maar die aarde was ‘n vormlose, onbewoonbare massa, en die diep waters was toegevou in duisternis. Tog het die kragtige, skeppende Gees van God oor die oppervlakte van die water gesweef [beweging]. Toe beveel God: ‘Laat daar lig wees!’ en dit was so’ (verse 1-3 NLV).

Dink nou oor hierdie aanhalings na: 1) ‘Die meeste kosmoloë (wetenskaplikes wat die strukture en evolusie van die heelal bestudeer), stem saam dat die Genesis weergawe van die skepping, in die idee van ‘n aanvanklike leemte, ongelooflik naby aan die waarheid kan wees’ (die tydskrif Time).

2) ‘Die heelal het skielik in bestaan in ontplof. Die ‘Big Bang’ teorie het ‘n ongelooflike ooreenkoms met die bevel in Genesis’ (Jim Holt, wetenskaplike skrywer: The Wall Street Journal).

3) ‘Nuwe wetenskaplike openbarings oor supernovas, swart gate, kwarke en selfs die ‘big bang’ stel aan sommige wetenskaplikes voor dat daar ‘n ‘meestersplan’ vir die heelal is’ (U.S. News & World Report).

Jou oog se retina bevat 137 miljoen lig-sensitiewe selle, terwyl die spiere wat jou oë fokus ongeveer 100,000 keer ‘n dag beweeg. Raai wat? Charles Darwin het in sy boek, On the Origin of the Species by Means of Natural Selection, die volgende geskryf: ‘Ek moet bieg dat om te veronderstel dat die oog deur natuurlike seleksie (evolusie) gevorm kon word, absurd in die hoogste graad lyk.’

Die waarheid is as volg: God het jou gemaak en Hy het ‘n plan vir jou lewe.

Sielskos: Ef 5:21-33; Hoogl 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19

Volgehoue genade

2021-02-03
2 Korintiërs 12:9 NLV

Daar is twee tipes genade: 1) Reddende genade. Die oomblik wat jy jou vertroue in Christus plaas, wis God die hele rekord van jou sonde uit. 2) Volgehoue genade. Paulus skryf: “…Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ‘n doring in die vlees gegee… Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: ‘My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking'” (verse 7-9 NLV).

Wat ‘n helder beeld! ‘n Doring steek in die sagte vel tot onder die oppervlakte in. Elke tree is ‘n herinnering daaraan: Die kind in die rehabilitasiesentrum. Die rooi ink op die lêer. Die misdaadrekord. Die smagting na alkohol in die middel van die dag. Die trane in die middel van die nag. ‘Here, neem dit weg?’ Jy hoor egter die volgende: ‘My genade is genoeg vir jou.’ Volgehoue genade beloof ons nie die afwesigheid van beproewing nie, maar die versterkende teenwoordigheid van God.

John Newton, die Anglikaanse predikant wat ‘Amazing Grace’ geskryf het, het gevind dat God se genade genoeg is. Op die dag wat sy geliefde vrou, Mary, oorlede is, het hy die krag ontvang om ‘n Sondagpreek te lewer. Die volgende dag het hy kerklede besoek en later haar begrafnis waargeneem. Toe hy terugkyk op daardie tyd, het hy geskryf: ‘Die Bank van Engeland is te arm om vir so ‘n verlies soos myne te vergoed. Maar die Here, algenoegsame God, spreek, en dit word gedaan. Laat hulle wat Hom ken en vertrou, moed skep. Hy kan hulle krag volgens hulle dag gee. Hy kan hulle krag vermeerder soos hulle beproewings vermeerder. Dit wat Hy kan doen, het Hy beloof dat Hy sal doen.’

Sielskos: Jes 53-57; Matt 12:15-21; Ps 111; Spr 3:29-30

Krag deur mededeling

2021-02-02
Handelinge 19:18 NLV

Met betrekking tot die kerk in Efese, skryf Paulus: ‘Baie van dié wat gelowig geword het, het hulle aangemeld en al hulle praktyke openlik bely… So het die Woord van die Here kragtig gegroei en sterk geword’ (verse 18-20 NLV). Geestelike genesing vind in kerke soos dié plaas. Wanneer jy dus in dieselfde patroon van sonde en mislukking vasgevang is, moet jy volwasse, toegewyde Christene soek wat nie deur jou probleem geskok sal word nie, wat nie jou vertroue sal skend nie en wat weet hoe om vir jou en saam met jou te bid.

Jesus het sy volgelinge die outoriteit gegee om belydenisse aan te hoor en genade uit te spreek. ‘Wie se sondes julle ook al vergewe, dit word hulle vergewe; wie s’n julle ook al handhaaf, word gehandhaaf’ (Johannes 20:23 NLV). ‘n Geestelike katarsis vind plaas wanneer iemand jou in die oë kyk en sê: ‘God vergewe jou, ek vergewe jou, vergewe nou jouself en wandel in God se vergifnis!’ Vergifnis is so ‘n sterk krag dat dit genesing kan fasiliteer.

Jakobus skryf: ‘Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan. En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word. Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige uitwerking’ (Jakobus 5:14-16 NLV). Indien jy nie seker is met wie jy moet praat, of wie jy kan vertrou nie, begin by jou pastoor.

Sielskos: Jes 49-52; Matt 12:1-14; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28

Hoe om moedeloosheid te oorkom (2)

2020-11-12
Nehemia 4:14 NLV

Moenie net aan die probleem dink nie, dink aan die Here. Nehemia het gesê: ‘Ek het sake dopgehou en toe die leiers, die amptenare en die res van die volk bymekaargeroep en gesê: ‘Moenie vir die vyand bang wees nie! Hou in gedagte dat die Here groot en vreesaanjaend is’…’

Wat moet jy spesifiek onthou? Drie dinge: 1) Onthou die Here se goedheid aan jou in die verlede. Wanneer jy aan al die goeie dinge wat Hy reeds in jou lewe gedoen het begin dink, sal jou gees opgebeur word en jou angs verminder.

2) Onthou God se nabyheid in die hede. Wat is Hy besig om tans in jou lewe te doen? Die waarheid is dat Hy by jou is, of jy nou sy nabyheid voel of nie. Hy het gesê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV).

3) Onthou God se krag vir die toekoms. Hy sal jou krag vir jou behoeftes gee.

Wanneer jy moedeloos raak, neem jou gedagtes van die omstandighede af en fokus op die Here, want omstandighede kan jou depressief maak en jou ontmoedig. Die kans is goed dat jy moedeloos voel, omdat jy negatiewe gedagtes dink.

Kies ‘n paar bemoedigende Bybelverse om te memoriseer en vir jouself aan te haal: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). ‘…As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?’ (Romeine 8:31 NLV). ‘…As ‘n mens glo, is álles moontlik!’ (Markus 9:23 NLV). Hou in gedagte dat dit jou gedagtes is wat jou gevoelens bepaal en wanneer jy jou gedagtes met beloftes uit God se Woord vul, kan jy moedeloosheid oorkom.

Sielskos: 1 Kro 12:23-15:29; Joh 10:11-21; Ps 83:1-8; Spr 26:7-12