Wil jy die regte ding doen?
2021-08-08Spreuke 4:23 NLV
Salomo sê: ‘Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.’ Let die verloop van gebeurtenisse op wat tot Dawid se ondergang gelei het. ‘…Van die dak af sien hy ‘n besonder mooi vrou wat besig was om te bad. Hy stuur toe iemand om uit te vind wie sy is… Dawid het haar laat haal…’ (2 Samuel 11:2-4 NLV). Hy het gesien… hy het uitgevind… hy het haar laat haal. As jy na iemand hunker wat nie joune is nie, neem dadelik jou oë van daardie persoon af. ‘…Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:5 NLV).
Bewaak jou gedagtes. In plaas daarvan om dit met fantasieë uit tydskrifte, televisie of die internet te vul, vul dit met God se Woord en herinneringe van jou en jou maat se beste oomblikke saam. Werk daaraan om jou huweliksband te versterk. Besluit om lief te hê, selfs wanneer jy nie lus is nie, en julle liefde sal begin blom. Jesus het gesê: ‘…elke man wat met ‘n wellustige oog na ‘n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg’ (Matteus 5:28 NLV).
Hoe minder jy jou maat begeer, hoe meer sal jy redes soek om jou fantasieë te regverdig. Die hartseerste deel is dat jy nooit sal weet hoe goed jou verhouding kon wees nie. As jy ‘n probleem met wellus het, vind ‘n pastoor, berader of vriend wat jou kan help. Die Bybel sê: ‘…Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is’ (Spreuke 17:17 NLV). Soms is die verskil tussen oorwinning en mislukking ‘n paar minute op die foon om met iemand wat verstaan, te praat en te bid. Die vraag is egter – wil jy waarlik die regte ding doen?
Sielskos: Est 4:13-5:3; Matt 6:16-21; Mark 2:18-22