Wat ons in die hemel gaan doen

2019-03-06
Filippense 1:23 NLV

Verbeel jouself jy klim op die vliegtuig na jou droomvakansie, wanneer die vlieënier skielik aankondig: ‘Welkom aanboord. Nadat ons opgestyg het, sal ons ‘n wonderlike maaltyd bedien en alles in ons vermoë doen om jou vlug genotvol te maak. Ek moet egter noem dat ons geen bestemming het nie. Dis reg; ons gaan net aanhou vlieg totdat ons petrol opraak en ons in die oseaan neerstort.’ Maak nie saak hoe wonderlik die reis is nie, wat is die punt daarvan as ons geen bestemming het nie? God se Woord sê: ‘As ons egter op niks meer sou kon hoop as dat Christus ‘n verskil sal maak aan ons huidige lewe nie, sou ons definitief die bejammerenswaardigste mense onder die son wees!’ (1 Korintiërs 15:19 NLV). Dank Vader daar is meer! Dit word die hemel genoem, en dit is ‘verreweg die beste.’ As jy wonder wat ons gaan doen as ons daar aankom, sê die Bybel dat ons die Here sal dien (sien Openbaring 22:3). Jy gaan nie ‘n stralekrans, ‘n wollerige kleed en ‘n harp ontvang om vir ewig op ‘n wolk te sit nie. Nee, ons sal die Here in verskillende kapasiteite dien. Dink daaraan: geen middeljarige krisis nie, geen afskaling by die werk nie en geen uitbranding nie. Op aarde misluk ons en raak moeg en gefrustreerd. Nie in die hemel nie! Kan jy jou indink om die Een vir wie jy die liefste is, te dien, deur die ding te doen wat jy die meeste geniet, in ‘n liggaam wat vir ewig energie het? Dis die hemel! Die wonderlikste geluk sal wees om Jesus van aangesig tot aangesig te sien. ‘Maar omdat ek reg gedoen het, sal ek U sien. Wanneer ek wakker word, sal ek tevrede wees in U teenwoordigheid’ (Psalm 17:15 NLV).

Sielskos: Eks 30-32; Luk 14:15-24; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5