Wat is jou sterkpunte?

2018-02-14
Romeine 12:6 NLV

Paulus skryf: ‘Ons besit een liggaam wat uit baie ledemate bestaan en wat elkeen sy eie funksie het. Net so is dit ook met Christus se liggaam. Al is ons baie, vorm ons saam een liggaam… Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het…’ (verse 4-6 NLV). Dr John Maxwell stel voor dat jy êrens werk waar jy 80 persent van die tyd die sterkste is, waar jy 15 persent van die tyd leer en waar jy 5 persent van die tyd die swakste is. So, wat is jou sterkpunte? Om die antwoord op hierdie vraag te ontdek, moet jy: 1) Selfversekerd wees. As jy toelaat dat jou onsekerhede jou regeer, sal jy onbuigbaar wees en teen verandering vasskop. As jy nie verander nie, sal jy nie groei nie. 2) Jouself leer ken. Spandeer tyd om jou gawes te verken, vra vir terugvoer en wees eerlik oor jou blinde kolle. 3) Jou leier vertrou. As jy nie die persoon wat jy volg kan vertrou nie, moet jy iemand soek wat jy kan vertrou, of ‘n ander span kry. 4) Die groter prentjie sien. Jou plek in enige span maak net in die konteks van die groter prentjie sin. As jou enigste rede om jou niche te vind persoonlike wins is, sal jou verkeerde motiewe die einste vreugde, vervulling en sukses wat jy begeer, steel. 5) Op jou ervarings staatmaak. Die enigste manier om te weet of jy jou niche ontdek het is om dinge te probeer, risiko’s te neem, uit jou suksesse en mislukkings te leer en te ontdek watter gawes God vir jou gegee het.

Sielskos: Num 6:1-21; Matt 4:1-17; Mark 2:18-22; Luk 9:23-26