Verstaan Satan se planne
2021-11-112 Korintiërs 2:11 NLV
Een van Satan se gunsteling planne is om ons sover te kry om normale dinge op ‘n abnormale manier te gebruik. Gedurende die versoeking in die woestyn, het hy probeer om Christus se hongerpyne tot sy voordeel te gebruik deur te sê: ‘…beveel hierdie klippe om brode te word’ (Matteus 4:3 NLV). Jesus het egter die Skrif geken, dus het Hy geantwoord: “…Nee! Daar staan in die Skrif geskryf: “‘n Mens het meer as brood nodig om van te lewe. Wat jy eintlik nodig het, is om te leef van elke woord uit God se mond'” (vers 4 NLV).
Ons almal het geld nodig, maar Satan sal jou in die versoeking bring om op jou belastingopgawe te kul, jou werk af te skeep of jou tiende te weerhou. Ons is almal met die behoefte aan geselskap en seksuele vervulling geskape. Satan sal jou egter in die versoeking bring om aan hierdie behoeftes te voldoen deur ‘n buite-egtelike verhouding te hê of om jou in aanlyn pornografie vas te vang. Ons almal wil graag suksesvol in ons beroepe wees. Satan sal jou egter in die versoeking bring om sukses te behaal deur te lieg, te manipuleer of iemand anders se lig te demp sodat jou lig helderder kan skyn.
Een van sy oudste planne is om ons verward oor ons waardes te maak, sodat goeie dinge boos voorkom, of bose dinge goed voorkom. Wat is dus die antwoord? Paulus sê: ‘Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek’ (Efesiërs 6:11 NLV). Daar is net een manier om Satan te ontmasker en sy planne te oorwin, en dis deur ‘n hegte wandel met God, daaglikse bestudering van die Skrif en ‘n konsekwente gebedslewe. Dis hoe jy oor jou gedagtes, jou mond en jou morele waardes, waghou.
Sielskos: 1 Kro 23:21-26:19; Joh 10:1-10; Ps 99; Spr 26:1-6