Verstaan God se liefde vir jou

2022-05-21
1 Johannes 4:18 NLV

Vraag: Aangesien ons natuurlik aangetrokke is tot mense wat lief is vir ons, hoekom is dit so moeilik vir ons om in gebed na God toe te gaan? Antwoord: Omdat ons ‘n vars openbaring van sy liefde vir ons nodig het! Paulus het gebid dat die kerk in Efese sal ‘…kan ervaar hoe lief Christus ons regtig het. Sy liefde kan ons nie met woorde beskryf nie: dit is te groot en wonderlik…’ (Efesiërs 3:18 DB).

Die waarheid is dat God nie liewer vir jou kan wees as wat Hy op die oomblik is nie. ‘Hoe lyk sy liefde?’ vra jy. Kyk na die kruis. Selfs al was jy die enigste persoon wat nog ooit gelewe het, sou Jesus vir jou gesterf het. ‘Wat kos sy liefde?’ vra jy. Niks! Daar is geen voorwaardes daaraan verbonde nie. Jy het niks gedoen om dit te verdien nie en jy kan dit ook nie verbeur wanneer jy foute maak nie. ‘…hoegenaamd niks… sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie’ (Romeine 8:39 NLV). Sodra jy dit aanvaar, kan jy jou swakpunte erken, God se hulp vra, sterker groei en die talente wat Hy vir jou gegee het, gebruik.

Omdat sy liefde die enigste perfekte liefde is, dryf dit jou ‘vrees’ uit. Waarvoor is jy dus bang? Dat jy nie sal kry wat jy nodig het nie? Dat jy iets sal verloor? Johannes sê vir ons: ‘Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volwasse liefde bemeester nie’ (1 Johannes 4:18 NLV). Vra God vandag vir ‘n nuwe openbaring van sy liefde vir jou, met die wete dat Hy vir diegene vir wie Hy lief is voorsien, koester en beskerm.

Sielskos: Jona 1-4; Matt 11:1-19; Ps 88:1-9a; Spr 11:24-26