2018-09-04
2 Kronieke 20:15 NLV
Toe Israel deur die magtige soldate van Amalek by Refidim bedreig is, het God aan hulle ‘n bonatuurlike oorwinning gegee. Toe Moses besef dat God die stryd vir hulle veg, het hy ‘n altaar aan Jehova Nissi gebou: Die Here is my banier. Hoor sy woorde: ‘Wees julle maar net kalm. Die Here sal in julle plek veg’ (Eksodus 14:14 DB). ‘…Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n.’ Hoekom probeer jy dan die stryd met jou eie krag wen? Jy raak in ‘n eindelose siklus van berou, besluite, stryd, nederlaag en ontmoediging vasgevang, wat tot meer berou lei. Die enigste tipe geestelike konflik wat al ooit suksesvol gewen is, is die een wat God namens jou veg. Hy verwag nie van jou om die stryd te wen nie, net om jouself totaal aan Hom oor te gee en Hom toe te laat om dit namens jou te wen! ‘So moet ek dan glad nie veg nie?’ vra jy. Ja jy moet ‘…die goeie stryd vir dit waarin ons glo…’ (1 Timoteus 6:12 NLV), stry. ‘Moet ek dan nie soos Jakob stoei nie?’ Let twee dinge op: Eerstens, het Jakob nie gewen deur te stoei nie, hy het gewen toe hy te swak geraak het om aan te hou stoei. Paulus het gesê, ‘…wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk’ (2 Korintiërs 12:10 NLV). Tweedens, het Jakob se oorwinning in sy oorgawe gelê. Is jy uitgeput van jou stryd – moeg tot op die been? Dan mag jy dalk wees waar God jou wil hê! Laat gaan en vertrou op jou Jehova Nissi om namens jou te seëvier, want ‘…die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n.’
Sielskos: Jos 8:30-10:43; Luk 19:28-40; Ps 103:13-22; Spr 23:1-3
2018-06-04
2 Timoteus 3:16 DB
Paulus het aan Timoteus geskryf: ‘Die klomp skelms gaan net woester en slegter word… Hulle lei ander op die verkeerde pad omdat die duiwel húlle op die verkeerde pad gelei het. Maar jy, Timoteus, moet jou nie ‘n duim van koers af laat bring nie. Bly by die dinge wat vir jou geleer is en wat jy weet waar is…Toe jy nog klein was, het jy al die Skrif gelees. Jy kan baie daaruit leer, soos hoe ‘n mens se saak met God weer reggemaak kan word deur op Christus Jesus te vertrou. Die hele Skrif kom direk van God af… Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak en om hulle weer reg te help. Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef. Op dié manier sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te kan werk’ (verse 13-17 DB). Hier is hoekom jy jou Bybel moet lees: 1) Sodat jy nie die pad byster raak nie. God sal nooit iets vir jou sê wat nie in lyn is met dit wat Hy duidelik in sy Woord bekend gemaak het nie. 2) Sodat jy weet dat jy waarlik gered is. Die apostel Johannes skryf: ‘Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God’ (1 Johannes 5:13 NLV). 3) Om jou roeping te identifiseer. Paulus sê, ‘…Uit die Skrif… sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te kan werk’ (2 Timoteus 3:16-17 DB). Die Bybel is jou handleiding om ‘n Christelike lewe te lei, lees dit dus elke dag!
Sielskos: Amos 5:18-9:15; Mark 13:24-37; Ps 117; Spr 14:9-12
2018-05-24
Spreuke 22:29 NLV
Hier is ‘n gebed vir sukses by die werk: ‘Here, ek dank U vir die manier wat U my gemaak het, vir die baie gawes en talente wat U in my geplaas het en ek vertrou dat ek die beste persoon vir die werk is. Ek is dankbaar vir ieder en elke persoonlikheid waarmee ek werk, selfs diegene wat ek nie regtig van hou of verstaan nie. Ek vra dat my fokus gedurende my tyd in hierdie posisie, op die doelwitte wat U vir my gestel het, sal wees. Gee my die wysheid en insig om die werk te kan doen, selfs te midde van ‘n vyandige omgewing. Help my om te verstaan wat U my hier wil leer en gee my geduld soos U my vir die toekoms voorberei. Help my om my beste te lewer en altyd positief en hoopvol te bly. Stil die klagtes en teleurstellings van my hart deur U perfekte vrede en laat my toe om U met my werk te vertrou. Klee my in die kledingstukke van lof en die regverdigheid van Christus sodat ek U by die werk kan verheerlik. Laat my toe om my ware identiteit te ken, om in U guns te wandel en om U, meer as die mense waarmee ek werk, te probeer tevrede stel. Waar daar twis is, laat my ‘n vredemaker wees. Waar daar bedrog is, laat my die waarheid praat. Waar daar wanhoop is, laat my hoop bring. Waar daar vrees is, laat my geloof bring. Waar daar donkerte is, laat my lig bring. Waar daar hartseer is, laat my vreugde bring. Hierdie dinge vra ek in Jesus se Naam. Amen.’
Sielskos: Rig 9:34-11:40; Mark 10:35-52; Ps 129; Spr 20:25; Pred 5:4-6
2018-05-20
Spreuke 31:11 NLV
As jy ‘n gelukkige huwelik wil hê, moet jy altyd hierdie twee dinge in gedagte hou: 1) Moet nooit jou maat in die openbaar verneder nie. Wanneer jy dit doen, verneder jy jouself. Salomo skryf, ‘Waar sal jy ‘n knap vrou kry? ‘n Goeie vrou is meer werd as edelstene. Haar man het volkome vertroue in haar… Haar hele lewe lank bring sy vir hom net voordeel…’ (verse 10-12 NLV). Iemand het gesê, ‘Voor jy jou maat se smaak kritiseer, stop en onthou dat hy/sy jou gekies het!’ Die feit is dat ons almal diep binne in ons gewoontes, swakhede, worstelinge, fantasieë, herinneringe uit ons kindertyd en onuitgesproke begeertes het. Ons hunkering na iemand om te vertrou is diep en onveranderlik. Dis hoekom God die huwelik ontwerp het om ‘n veilige hawe in ‘n gevaarlike wêreld te wees. As jy nie jou maat kan vertrou nie – wie kan jy dan vertrou? 2) Koester altyd gedeelde drome en doelwitte. Deesdae skei ‘n skokkende hoeveelheid paartjies tussen die sewentiende en vyf-en-twintigste huweliksjaar. Weet jy hoekom? Dis gewoonlik wanneer die laaste kind met skool of universiteit klaar maak en die huis verlaat. Nou is dit net die twee van julle. As jy al jou tyd spandeer het om op jou kinders te fokus en mekaar verwaarloos het, word jy eendag wakker en voel of jy saam met ‘n vreemdeling leef. Hoe vermy mens dus hierdie situasie? Deur lewenslange doelwitte en drome te hê waarnatoe beide van julle werk. Onthou, julle is meer as net ouers – julle is mense – en God het ‘n plan vir julle lewens as paartjie. As julle dit nog nie ontdek het nie, praat daaroor en bid dan en vra dat God dit aan julle sal openbaar. Dis ‘n gebed wat Hy sal beantwoord!
Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18
2018-05-18
Genesis 22:16-17 NLV
God het vir Abraham gesê, …’Omdat jy My gehoorsaam het en nie eens jou geliefde seun van My weerhou het nie, neem Ek ‘n eed dat Ek jou oorvloedig sal seën. Ek sal jou nageslag vermenigvuldig tot ‘n ontelbare menigte, soos die sterre aan die hemel…’ Isak was die lewenslange droom van ‘n onvrugbare vrou genaamd Sara en ‘n impotente man genaamd Abraham. Hoe meer God jou seën, hoe moeiliker is dit egter om te keer dat daardie seëning ‘n afgod in jou lewe word. Geld kan dalk die beste voorbeeld hiervan wees. Hoe meer geld jy maak, hoe moeiliker is dit om die Almagtige God te vertrou en hoe makliker is dit om die almagtige rand te vertrou. As jy finansieel geseën is, is dit ‘n gawe van God (sien Deuteronomium 8:18). God seën ons egter nie finansieel sodat ons dit selfsugtig kan gebruik nie. Hy seën ons meer, sodat ons ‘n groter seën vir ander kan wees (sien Genesis 12:2). Die waarheid is dat dit waarvan jy bereid is om weg te stap, dit is wat God gewillig is om aan jou toe te vertrou. Hy wil hê dat jy op ‘n plek moet kom waar jy jou identiteit op Wie s’n jy is vind, eerder as wie jy is. Jy kan jou identiteit op ‘n duisend verskillende dinge baseer – die grade wat jy behaal het, die posisie wat jy beklee, die salaris wat jy verdien, ens. As jy jou identiteit egter op iets tydelik baseer, is jou identiteit ‘n huis van kaarte. Daar is net een soliede fondasie: Jesus Christus. Wat staan dus tussen jou en God? Wat voed jou ego? Waar vind jy jou identiteit buite Christus? Dis wat jy vandag op die altaar moet plaas.
Sielskos: Obad; Mal 1-4; Mark 9:30-37; Ps 18:1-29; Spr 12:23-24