Fokus op jou Godgegewe visie

2023-03-13
Handelinge 26:19 NLV

Wanneer God jou ‘n visie gee van wat Hy wil hê jy moet doen, sal jy teen die stroom van die wêreld moet skop. Die samelewing wil jou in ‘n boks hou. Die meeste mense is geestelik aan die status quo getrou. Hulle wil hê wat was, nie wat kan wees nie. Hulle soek veiligheid en eenvoudige antwoorde. Jy moet jouself dus toestemming gee om ‘n ander rigting in te slaan en nuwe grond te ontdek.

Paulus het gesê: ‘…ek [was] nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam… nie.’ Dit was sy verterende passie en die sentrale fokus van sy lewe. Hy het elke oggend opgestaan en daaraan gedink en elke aand met dit in sy gedagtes gaan slaap. Aan die einde van sy lewe, kon hy sê: ‘…ek het die wedloop voltooi… En nou wag die prys vir my: die lourierkrans van geregtigheid…’ (2 Timoteus 4:7-8 NLV). Of jou visie nou is om ‘n groot familie, ‘n groot kerk, ‘n groot besigheid, of ‘n groot ‘enigiets’ op te bou, jy sal daarop moet fokus.

Die skrywer Harry A. Overstreet het opgemerk: ‘Die onvolwasse verstand spring van een ding na die volgende; die volwasse verstand wil graag volhard.’ Verdien elke area van jou lewe gefokusde dinktyd? Nee. Wees selektief in jou denke. Wat het God jou geroep om te doen? Wat is jou rol daarin? Watter vaardighede moet jy opskerp? Watter kennis moet jy opdoen? Watter verhoudings moet jy bou?

Die eerste vraag wat Paulus gevra het toe God vir hom sy visie gegee het, was: ‘…Here, wat wil U hê moet ek doen?..’ (Handelinge 9:6 AFR53). Dis die vraag wat jy ook vandag vir God moet vra.

Sielskos: Eks 39-40; Luk 16:1-18; Ps 135; Spr 7:21-23

Gaan na jou ‘God plek’

2020-04-07
Genesis 19:27 NLV

Abraham het ‘n spesiale plek gehad waar hy God ontmoet het. Daniël het ook so ‘n plek gehad toe sy lewe in gevaar was: ‘…Hy het daar ‘n venster gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem. Hy het daar drie maal ‘n dag op sy knieë gegaan om vir sy God te bid en om Hom te loof, soos hy gewoond was om te doen’ (Daniël 6:11 NLV). Jesus het ook ‘n spesiale plek gehad: ‘Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ‘n stil plek gaan bid’ (Markus 1:35 NLV). Vestig ‘n ‘God plek’ in jou lewe. Wanneer probleme en druk dreig om jou te oorweldig, gaan na jou God plek toe. Wanneer jy leiding nodig het, gaan na jou God plek toe. Die gesangedigter, William Walford, het hierdie tydlose woorde geskryf: ‘Sweet hour of prayer! Sweet hour of prayer! That calls me from a world of care, and bids me at my Father’s throne make all my wants and wishes known. In seasons of distress and grief, my soul has often found relief; and oft escaped the tempter’s snare, by thy return, sweet hour of prayer!’ Jou God plek kan enige plek wees, maar dit moet net êrens wees. Nadat jy ‘n wyle daar vertoef het, sal ‘n tipe teenwoordigheid dit omring. Jy sal herinneringe van intieme tye met God daar skep. Dit sal jou heiligdom word, ‘n plek van toevlug en veiligheid. Dawid het geskryf: ‘Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige’ (Psalm 91:1 NLV). Noem dit jou God plek, jou geheime plek, jou heiligdom of wat ook al, maar vestig so ‘n plek in jou lewe.

Sielskos: Lev 5-7; Matt 27:27-32; Ps 25:8-15; Spr 9:18