2020-02-04
Prediker 9:9 NLV
Drie dinge gebeur in ‘n goeie huwelik: 1) Jy leer jouself ken. Om te groei, moet jy in staat wees om realisties na jouself te kyk en die beste plek om dit te doen, is in ‘n huis gevul met liefde. Dit laat jou toe om eerlik oor jou foute en jou tekortkominge te wees. Dis ‘n veilige plek om te faal. Dit skep ‘n omgewing gevul met begrip en ondersteuning. Die mense die naaste aan ons, vorm ons. Toe Moeder Teresa die Nobelprys vir vrede gewen het, is sy gevra: ‘Wat kan ons doen om wêreldvrede te bevorder?’ Sy het geantwoord: ‘Gaan huis toe en wees lief vir jou familie.’ As jy die wêreld wil verander, moet jy by die huis begin. 2) Jy begin jou karakter ken. ‘n Huis wat om Christus gesentreerd is, help nie net om jou kinders se karakters te vorm nie, maar dit versterk ook joune. Karakter word op die keuses wat jy maak en die gewoontes wat jy kweek, gebou. Omdat jou familie jou primêre omgewing skep, beïnvloed dit daardie keuses en gewoontes. Sterk families moedig ons aan om goeie keuses te maak en die regte dissiplines te ontwikkel. 3) Jy het ‘n veilige hawe. Dit voel of die pas van die lewe daagliks hewiger raak. Om op oorvol paaie te bestuur is stresvol. Die werkplek is veeleisend. Die skoolterrein is ‘n toenemend vyandige omgewing. Waar kan jy skuiling vind? Theodore Roosevelt het gesê: ‘Ek sal eerder met my familie tyd spandeer as met enige van die wêreld se belangrikes.’ Sy huis was ‘n veilige hawe te midde van die lewe se storms – en joune kan ook wees. Die vraag is: Wat doen jy om dit so te maak?
Sielskos: Jes 38-41; Matt 12:15-21; Ps 111; Spr 3:29-30
2018-05-20
Spreuke 31:11 NLV
As jy ‘n gelukkige huwelik wil hê, moet jy altyd hierdie twee dinge in gedagte hou: 1) Moet nooit jou maat in die openbaar verneder nie. Wanneer jy dit doen, verneder jy jouself. Salomo skryf, ‘Waar sal jy ‘n knap vrou kry? ‘n Goeie vrou is meer werd as edelstene. Haar man het volkome vertroue in haar… Haar hele lewe lank bring sy vir hom net voordeel…’ (verse 10-12 NLV). Iemand het gesê, ‘Voor jy jou maat se smaak kritiseer, stop en onthou dat hy/sy jou gekies het!’ Die feit is dat ons almal diep binne in ons gewoontes, swakhede, worstelinge, fantasieë, herinneringe uit ons kindertyd en onuitgesproke begeertes het. Ons hunkering na iemand om te vertrou is diep en onveranderlik. Dis hoekom God die huwelik ontwerp het om ‘n veilige hawe in ‘n gevaarlike wêreld te wees. As jy nie jou maat kan vertrou nie – wie kan jy dan vertrou? 2) Koester altyd gedeelde drome en doelwitte. Deesdae skei ‘n skokkende hoeveelheid paartjies tussen die sewentiende en vyf-en-twintigste huweliksjaar. Weet jy hoekom? Dis gewoonlik wanneer die laaste kind met skool of universiteit klaar maak en die huis verlaat. Nou is dit net die twee van julle. As jy al jou tyd spandeer het om op jou kinders te fokus en mekaar verwaarloos het, word jy eendag wakker en voel of jy saam met ‘n vreemdeling leef. Hoe vermy mens dus hierdie situasie? Deur lewenslange doelwitte en drome te hê waarnatoe beide van julle werk. Onthou, julle is meer as net ouers – julle is mense – en God het ‘n plan vir julle lewens as paartjie. As julle dit nog nie ontdek het nie, praat daaroor en bid dan en vra dat God dit aan julle sal openbaar. Dis ‘n gebed wat Hy sal beantwoord!
Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18