Die belangrikheid van slaap

2022-12-08
Jeremia 31:26 NLV

Soms is die mees ‘geestelike’ ding wat jy kan doen om vroeg bed toe te gaan en verfris wakker te word, sodat jy gereed is om God se doelwitte vir die dag te vervul. Wanneer jou battery konstant laag is, word dit in jou houding, jou verhoudings, jou optrede en jou gesondheid, weerspieël.

Dis hoekom die Bybel oor die belangrikheid van slaap praat:
1) ‘Tevergeefs werk jy so hard, van vroegoggend tot laatnag, soos jy swoeg om te bestaan, maar vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV).
2) ‘Ek sal in vrede gaan lê en slaap, want U alleen, o Here, laat my veilig woon’ (Psalm 4:9 NLV).

Slaap is ‘n vertrouensdaad: Wanneer jy gaan slaap, erken jy dat die wêreld in God se hande, nie joune nie, is. Wanneer jy môreoggend wakker word, net soos God vir Israel vars manna gegee het, sal Hy vir jou gee wat jy vir die dag nodig het. Jeremia het gesê: ‘Toe het ek wakker geskrik en rondom my begin kyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.’

Het jy al ooit probeer bid as jy nie genoeg geslaap het nie? Dis moeilik. Voor Elia in staat was om langdurige tye in gebed deur te bring, het die engel van die Here hom gedwing om nie net een nie, maar twee lang slapies te vat. Kontrasteer dit met die dissipels in Getsemane wat nie kon bid nie, omdat hulle aanhoudend aan die slaap geraak het. Dis moeilik om soos Jesus te dink, te voel en op te tree wanneer jy slaap kort. Dis hoekom die Bybel sê: ‘…vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV).

Sielskos: Jos 8:30-10:43; Joh 14:15-25; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5

Jy het ‘n ondersteuningstelsel nodig

2022-06-30
Galasiërs 6:2 NLV

God het ons fisiese liggame met interne stelsels wat mekaar ondersteun, geskep. Dis dieselfde met ons verhoudings. Almal het ‘n ondersteuningstelsel nodig. Soms, wanneer ander mense ons teleurstel, sê ons: ‘Van nou af gaan dit net ek en God wees!’ Dis ‘n groot fout! Dis die skaap wat van die trop afdwaal wat deur die wolf geëet word. Satan sal jou isoleer om jou sodoende te vernietig. ‘En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie’ (Prediker 4:12 NLV).

Navorsing bewys dat mense wat sorgsame ondersteuning het langer lewe, vinniger van siekte herstel en die lewe meer betekenisvol vind. Ondersteuning gee ons ‘n sin van verbintenis en aanvaarding, wat kern menslike behoeftes is. Dit voorsien ‘n area waar jy weerloos kan wees; ‘n plek waar jy veilig kan voel om te sê: ‘Ek weet nie,’ of ‘Kan jy my help?’ of ‘Ek het ‘n drukkie nodig.’ Dit is ondersteuning – op God se manier. As jy dit nie in jou eie familie kan vind nie, draai na die familie van God toe.

Nog ‘n gedagte: Moenie vergeet om jou waardering aan diegene wat jou ondersteun, te bewys nie. Onthou om te sê: ‘Ek is dankbaar vir jou hulp.’

Ondersteuning is nie ‘n eenrigting pad nie. ‘Help ander gelowiges wat swaarkry…’ Moenie so verdiep in jou eie probleme raak dat jy vergeet dat ander mense ook probleme het nie. Neem die tyd om ook oor hulle belange uit te vra. Niemand hou van iemand wat net neem nie. Dis in die gee-en-neem van wedersydse ondersteuning wat ons groei en ons Godgegewe potensiaal in die lewe vervul.

Sielskos: Jer 7-9; Matt 22:23-33; Ps 59:9-17; Spr 14:23-24

Jy is aanvaar, geliefd en veilig

2021-02-09
Romeine 8:15 ABA

As jy ‘n aangenome kind is, beteken dit dat jou ouers jou gekies het. Hulle kon ‘n ander geslag, kleur of afkoms gekies het. Hulle het egter vir jou gekies. Jy sê: ‘As hulle egter die res van my lewe kon vooruitsien, mag hulle dalk van gedagte verander het.’ Dis presies die punt! God het ons hele lewe van begin tot einde gesien en tog was Hy steeds oortuig om ‘Deur wat Christus gedoen het… ons as sy kinders aan te neem…’ (Efesiërs 1:5 NLV). Ons kan nou lewe soos God se ‘…kinders, en die Heilige Gees help ons om vir God te sê ‘Vader’… Ons is God se kinders, en daarom sal God ook vir ons gee wat Hy vir ons belowe het. Ja, ons sal saam met Christus alles kry wat God gee…’ (Romeine 8:15, 17 ABA).

God aanvaar jou nie op grond van jou stamboom nie. Hy verwerp jou ook nie op grond van jou tekortkominge, skuld of dom keuses nie. Jy is sy verloste kind. Jy kan ‘…met vertroue vrymoedig na God toe gaan’ (Efesiërs 3:12 NLV). Dit raak egter beter. Jou aanneming is horisontaal sowel as vertikaal. Jy is nou ‘n lid van sy verloste familie. Verdelende mure van vyandigheid word afgebreek en ‘n samelewing word op die basis van ‘n gemeenskaplike Vader geskep. Oombliklike familie wêreldwyd!

As God vir jou lief is, is jy waardig om liefde te ontvang. As Hy jou in sy koninkryk wil hê, is jy waardig om geken te word. God se genade nooi jou uit – nee, dit verwag van jou – om jou houding teenoor jouself te verander en saam met God teen jou gevoelens van verwerping en onwaardigheid standpunt in te neem. Jy is aanvaar, geliefd en veilig!

Sielskos: Rom 7:1-9:16; Matt 13:24-35; Ps 134; Spr 4:5-13

‘n Houdingsaanpassing (3)

2020-05-14
Spreuke 3:6 NLV

Bly in kontak met die beheertoring wanneer jy die regte houding moet behou. Lugverkeerkontroleerders ‘sien die groter prentjie’ wanneer dit kom by wat in die lug aangaan. Hulle het die kennis en outoriteit om vir die vlieëniers te sê om spoed te verminder of te vermeerder, om hoër of laer te vlieg, om storms te vermy of te navigeer of om alternatiewe roetes te neem. Lugverkeerkontroleerders in Amerika hanteer ongeveer 87,000 vlugte ‘n dag en 64 miljoen landings en opstygings ‘n jaar. Hulle bestuur kommersiële vlugte, privaat vliegtuie en militêre- en vragvliegtuie. Op enige gegewe tyd sou hulle 460 skerms nodig gehad het om al die lugverkeer op een slag te kon dophou! Met so baie vlugte wat elke sekonde opstyg en land, moet die vlieëniers in kontak met die beheertoring bly. Jy moet soortgelyk ook in kontak met God bly – die Een wat die groter prentjie vir jou lewe sien en alles waarby jy betrokke is, orkestreer. Hy maak seker dat alles wat nodig is om te gebeur, gebeur en dat dit op die regte tyd gebeur en teen die regte spoed beweeg, sodat jy veilig by die bestemming wat Hy vir jou beplan het, kan aankom. Dis hoekom kommunikasie met God aan die toppunt van jou doenlysie moet wees. Hy sal jou help om die op en af van die lewe te navigeer en jou help om jou pad te vind op bewolkte dae wanneer jy nie die volgende tree wat jy moet neem, kan sien nie. Met ander woorde: ‘Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys.’

Sielskos: Num 30:1-32:24; Mark 9:1-13; Ps 49; Spr 11:16-18

Deur God gekies en aangestel (1)

2018-04-05
Johannes 15:16 ABA

Jesus het gesê, ‘Julle het My nie gekies nie, Ek het julle gekies. Ja, Ek het julle gekies en aangestel om vrugte te dra, vrugte wat nie sleg word nie…’ Dis belangrik hoe jy ‘n verhouding begin. Al die partye moet veilig voel, vir die verhouding om suksesvol te wees. Wanneer jy byvoorbeeld na iemand se huis vir aandete genooi word, is dit billik om te verwag dat hulle aan sekere sosiale verpligtinge sal voldoen. Jy behoort nie te wonder of jy welkom is, of daar genoeg kos sal wees en of daar plek vir jou aan tafel sal wees nie. Hierdie soort dinge sal net van belang wees as jy ongenooid daar opgedaag het. Net so gee dit jou selfvertroue wanneer jy weet dat jy deur God gekies en aangestel is. Dit beteken dat jy reeds aanvaar is; jy hoef nie ‘n veldtog te loods om gekies te word nie. God kies jou vir twee redes: om jou te seën en om jou ‘n seën vir ander mense te maak (sien Genesis 12:2). Die Bybel praat van seëninge wat meer as genoeg sal wees (sien Maleagi 3:10). Soms is God se seën so oorweldigend dat wanneer Hy begin om dit uit te stort, jy wonder of jy dit alles sal kan hanteer. Jy is reg om so te dink – as jy die een is wat die verhouding geïnisieer het! Jy het egter nie vir God gekies nie, Hy het jou gekies. Wie Hy ook al roep, rus Hy ook toe. Jy moet net ontvanklik daarvoor wees. ‘…stel julleself voortdurend vir God beskikbaar… Stel al julle liggaamlike vermoëns as wapens van geregtigheid tot God se beskikking’ (Romeine 6:13 NLV).

Sielskos: Jer 25-27; Mark 1:9-15; Ps 31; Spr 8:34-36