2022-04-01
Hebreërs 10:38 NLV
Om uit geloof te leef, is iets wat jy leer om te doen deur dit daagliks te beoefen. Voor jy ‘n Christen geword het, het jy op jou eie vermoë en intellek staatgemaak. Nou vertrou jy op God vir die wysheid, leiding, hulpbronne en vermoë om sy wil vir jou lewe te vervul. Die Bybel sê vir ons: ‘Omdat hy geglo het, het Noag… gehoorsaam die ark gebou. Daardeur is sy huisgesin gered…’ (Hebreërs 11:7 NLV).
Om uit geloof te lewe maak nie altyd sin nie. Dit beteken nie dat jou probleme in die niet gaan verdwyn nie. Soms verander geloof jou omstandighede; ander kere verander dit jou perspektief. Hoe? Deur jou die volharding te gee om vas te byt wanneer die tjek nie in die pos kom nie, of wanneer die dokter sê dat die siekte ongeneeslik is, of jou eggenoot jou vra om te skei, of die kinders die pad byster raak.
Geloof gee jou die krag om te volhard, met vertroue dat God dinge namens jou sal laat uitwerk. Paulus sê vir ons: ‘Wat is geloof dan? Dit is ‘n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur…’ (Hebreërs 11:1 NLV).
Om uit geloof te lewe, beteken: 1) Om God te gehoorsaam en te glo dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie; 2) om in die voetspore van gewone mense, wat buitengewone dinge vir God gedoen het, te loop; en 3) om jou geloof te gebruik omdat jy weet dat dit die enigste geldstelsel is wat in die hemel erken word.
Wanneer die Bybel sê: ‘Dié mense wat my wil doen, sal uit die geloof lewe…,’ beteken dit nie klein, sporadiese opwellings van geloof nie; dit beteken dat jy geloof ‘n leefstyl maak.
Sielskos: Fil 1-2; Luk 21:1-11; Ps 31:14-24; Spr 9:1-3
2021-12-09
Psalm 89:16 NLV
Die Psalmdigter skryf: ‘Geseënd is hulle wat U met vreugde dien, wat lewe in die lig van u teenwoordigheid, Here.’ Lofprysing is nie net ‘n reaksie daarop om in God se teenwoordigheid in te gaan nie; dit doen baie meer. Dit maak die deur oop waardeur God jou lewe binnegaan en namens jou aan die werk spring. Met ander woorde, lofprysing bring God se teenwoordigheid, sowel as sy direkte ingryping, mee.
Die naam Juda beteken: ‘Prys die Heer,’ en toe die twaalf stamme van Israel gereis het, het Juda hulle gelei (sien Rigters 20:18). Op een geleentheid, toe Israel se vyande teen hulle opgetrek het, het Josafat ‘n koor na die voorste linies gestuur om met lofprysing eer aan God te bring. Dit mag dalk soos ‘n vreemde strategie klink, maar dit het ‘n bonatuurlike oorwinning meegebring. Die Bybel sê: ‘Die oomblik toe hulle begin sing en die Here prys, het Hy veroorsaak dat die leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge onder mekaar begin veg. Die leërs van Moab en Ammon het teen hulle bondgenote uit die Seïrberge gedraai en elkeen van hulle doodgemaak. Nadat hulle die leër van Seïr vernietig het, het hulle mekaar vernietig’ (2 Kronieke 20:22-23 NLV).
Lofprysing is ‘n uitdrukking van geloof; ‘n bevestiging dat jy glo dat God in beheer van die situasie is. Die Bybel praat van ‘n ‘lofoffer’ (Hebreërs 13:15 NLV). Dit beteken dat jy God moet prys, selfs wanneer jy nie lus is om dit te doen nie. Wanneer dit nie natuurlik kom nie, moet jy kies om dit in elk geval te doen. Nehemia het gesê: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ (Nehemia 8:10 NLV). Lofprysing kan jou emosies genees en die gewig van negatiwiteit wat op jou druk, oplig. Toe, probeer dit!
Sielskos: Neh 1-4; Joh 18:1-11; Ps 148:7-14; Spr 29:16-21
2021-08-15
Markus 2:3 NLV
‘…Jesus was besig om die Goeie Nuus aan hulle te vertel. Daar daag toe vier mans by Hom op wat ‘n verlamde persoon op ‘n mat dra. As gevolg van die baie mense kon hulle hom nie tot by Jesus bring nie. Daarom het hulle ‘n gat deur die dak bokant Jesus se kop gemaak. Toe laat hulle die mat waarop die sieke gelê het, deur die dak sak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde man… ‘Ek beveel jou, staan op, vat jou mat en gaan gesond na jou huis toe!’ (verse 2-5, 11 NLV).
As een van jou geliefdes vandag ‘n wonderwerk nodig het: 1) Gebruik jou geloof. Selfs as jy vir iemand bid wat min of geen geloof van hul eie het nie, sal God jou geloof namens hulle eer.
2) Weier om tou op te gooi. Doen wat hierdie vier vriende gedoen het. Die skare was ‘n probleem – dus het hulle rondom hulle gegaan. Die dak was ‘n probleem – dus het hulle daardeur gebreek. Hulle het geweier om tou op te gooi of moedeloos te word. Dokters kan mense behandel, maar slegs God kan hulle van binne en buite genees; bring dus jou geliefde in gebed na Hom toe.
3) Soek geloofsvennote. Dit het vier mense geneem om hierdie man by Jesus uit te kry, moet dit dus nie alleen doen nie. Kry iemand wat saam met jou in gebed sal saamstem. Jesus het gesê: ‘Boonop verseker Ek julle: As twee van julle hier op aarde sou saamstem oor enigiets wat julle van God behoort te vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen’ (Matteus 18:19 NLV). Hou dus aan om te bid en God vir ‘n wonderwerk te vertrou!
Sielskos: Eseg 47:1-12; Op 21:22-22:5
2021-07-28
Markus 5:40 NLV
Wanneer jy God vir ‘n wonderwerk vertrou, sal niks jou vinniger as ongeloof aftrek nie. Verder is dit onmoontlik om te weet wat God besig is om te doen as jy kyk na hoe dinge op die oppervlak lyk. ‘Wat is geloof dan? Dit is ‘n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur…’ (Hebreërs 11:1 NLV). Dit is dus belangrik om jou gedagtes met die regte dinge te vul, om sodoende sterk te bly: ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is’ (Filippense 4:8 NLV).
Een pastoor skryf: ‘Daar was tye wat Jesus nie ongeloof rondom Hom geduld het nie, soos toe Hy Jaïrus se dogtertjie uit die dood uit opgewek het. Toe Hy hoor dat die dogtertjie gesterf het, het Hy vir haar pa gesê: ‘…Moet jou nie ontstel nie, vertrou net’ (Markus 5:36 NLV). Jy kan vertrou, of jy kan bang wees. Toe Jesus daardie dag na Jaïrus se huis gegaan het, het Hy slegs ‘die kindjie se pa en ma en die drie dissipels na die vertrek waar sy lê,’ geneem. Hy het diegene wat in wonderwerke geglo het, saamgeneem, maar ‘Toe hulle by die huis… aankom, sien Jesus… mense wat huil… Hy sê… vir die mense: ‘Waarom lawaai en huil julle so? Die kind is nie dood nie, sy slaap net.’ Die klomp het Hom uitgelag. Maar Hy het almal buitetoe gestuur. Toe vat Hy die kindjie se ma en pa en die drie dissipels na die vertrek waar sy lê. Terwyl Hy haar hand vat, sê Hy vir die kindjie: ‘Dogtertjie, staan op!’ Onmiddellik het die dogtertjie op haar voete gekom en begin rondstap…’ (verse 38-42 NLV).’
Menslik gesproke mag die situasie onmoontlik lyk, maar wanneer jy die ongelowiges en twyfelaars uitstuur en glo wat God sê, sal jy resultate kry.
Sielskos: Deut 5-7; Luk 9:57-62; Ps 78:1-8; Spr 16:23-24
2021-04-10
Romeine 8:32 NLV
George Müller word as een van die grootste geestelike reuse van die kerk geag. Doen jouself ‘n guns en gaan lees op oor sy lewensverhaal. Hy het keer op keer voor oorweldigende behoeftes te staan gekom, na God toe in gebed gedraai, sy beloftes opgeëis en wonderbaarlike wonderwerke ervaar. Groot geloof word egter nie oornag verkry nie; dit word deur ‘n leeftyd van wandel met God gebou.
Müller het gesê: “My geloof is dieselfde geloof wat in elke gelowige te vinde is. Dit het bietjie-vir-bietjie oor die afgelope ses-en-twintig jaar vermeerder. Baie kere wat ek mal van bekommernis moes geword het, het ek vrede gehad omdat my siel die waarheid van God se beloftes geglo het. God se Woord, tesame met die hele karakter van God soos Hy Homself openbaar, beantwoord alle vrae. Sy onveranderende liefde en sy oneindige wysheid het my kalmeer. Ek het geweet: ‘God is in staat en gewillig om my hierdeur te bring.’ Daar staan geskrywe: ‘As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie.”
Jy vra: ‘Hoe kry ek hierdie tipe geloof?’ Die Bybel sê: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap…’ (Romeine 10:17 NLV). Net soos ‘n daaglikse dieet van goeie kos jou fisies versterk, so versterk lees, mediteer, bestudeer, verbaliseer en staan op God se Woord jou geestelik.
Die ‘geheim’ tot ‘n suksesvolle Christelike lewe is glad nie ‘n geheim nie – bestudeer God se Woord en ontvang God se Woord in jou. Jy kan nie situasies in die lewe wat angs veroorsaak vermy nie, maar wanneer jou geloof sterk is, kan jy hulle oorkom.
Sielskos: Lev 18-20; Mark 1:21-28; Ps 25:16-22; Spr 10:2