2022-05-16
2 Timoteus 3:16 NLV
Een van die maniere hoe God ons verander, is deur sy Woord. ‘Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd is in ons lewe. Dit ruk ons reg en kweek ‘n regte leefstyl. Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen’ (verse 16-17 NLV).
Daar is ‘n verhaal van ‘n bekeerde kannibaal in die Suidsee eilande. Hy het by ‘n groot pot gesit en sy Bybel lees toe ‘n antropoloog hom nader en vra: ‘Wat doen jy?’ Die boorling het geantwoord: ‘Ek lees die Bybel.’ Die antropoloog het gespot en gesê: ‘Weet jy nie dat moderne, beskaafde mense daardie boek verwerp het nie? Dis niks anders as ‘n klomp leuens nie. Jy moenie jou tyd mors om dit te lees nie.’ Die kannibaal het hom op en af gekyk en stadig gesê: ‘Meneer, as dit nie vir hierdie boek was nie – was jy nou in daardie pot!’ Die Woord van God het sy lewe – en sy aptyt – verander.
As jy ernstig daaroor is om jou lewe te verander, moet jy gereeld jou Bybel lees, bestudeer en memoriseer. As jy dit nie doen nie, hoe kan jy verwag om in geloof te groei? Die Bybel sê: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus’ (Romeine 10:17 NLV). Die Gees van God gebruik die Woord van God om ons meer soos die Seun van God te maak.
Sielskos: Num 27-29; Matt 9:27-38; Ps 62; Spr 11:15
2022-05-09
Hebreërs 11:21 NLV
Die Bybel sê: ‘Omdat hy geglo het, het Jakob op sy sterfbed… biddend voor God gebuig terwyl hy op sy kierie geleun het.’ Verbeel jouself: Elke keer wat Jakob ‘n ervaring met God gehad het, het hy ‘n mes geneem en ‘n ring op sy kierie uitgekerf as ‘n herinnering daaraan. Hy sou sekerlik die nag waar hy met God gestoei het en waar sy naam tot ‘…Israel, want jy het met God en mens geworstel en volhard’ (Genesis 32:28 NLV), verander is, wou simboliseer. Nog ‘n ring sou die nag wat God vir hom ‘n leer met engele wat tot by die hemel gestrek het, gewys het, verteenwoordig. Met ander woorde, Jakob se kierie het ‘n leeftyd van ervarings met God verteenwoordig. Dis dus nie verrassend dat hy biddend voor God, terwyl hy op sy kierie geleun het, gesterf het nie!
Oorweeg nou die verhaal van die vrou uit Sunem in 2 Konings 4. Haar seuntjie het siek geword en gesterf, dus het Elisa sy dienaar Gehasi met sy kierie vooruit gestuur. Toe Gehasi egter die profeet se kierie op die kind se gesig sit, het niks gebeur nie. Eers toe Elisa self daar aangekom het, het die seuntjie weer lewendig geword (sien 2 Konings 4:32-35). Jy kan nie op iemand anders se kierie leun nie! Wanneer dit tyd is om die lewe se uitdagings – insluitend die dood – in die gesig te staar, kan jy net op die geloof wat jy gedurende jou persoonlike wandel met God ontwikkel het, leun.
Dis hoekom dit noodsaaklik is om getrou en konsekwent in jou geestelike reis te wees. Deur op sy sterfbed op sy kierie te leun, het Jakob in wese verklaar: ‘Die God wat my tot dusver bewaar, beskerm en voorspoedig gemaak het, sal my die res van die pad neem.’ Wat ‘n geseënde versekering!
Sielskos: Num 11-13; Matt 7:1-14; Ps 37:25-31; Spr 11:5-6
2022-04-20
Spreuke 24:16 NLV
As jy al ooit ‘n kind dopgehou het wat leer loop, sal jy weet dat om te val ‘n belangrike deel van die proses is. Om weer op te staan is noodsaaklik om die kind se balans en spiere te ontwikkel. Soortgelyk word ‘n bokser nie gediskwalifiseer wanneer hy platgeslaan word nie; hy word gediskwalifiseer wanneer hy val en nie weer opstaan nie. Boksers weet dat hulle dikwels sal val, dus fokus hulle op die kuns om veilig te val en vinnig weer op te staan. Kinders en boksers leer dat dit daaroor gaan om weer op te staan.
Die Bybel sê vir ons dat om te val algemeen onder die regverdiges en die goddeloses is. Dis die opstaan wat hulle van mekaar onderskei. ‘Selfs al val ‘n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan. Die goddelose mens sal bly lê na net een ramp’ (vers 16 NLV). Die goddelose bly lê – die regverdige staan weer op!
Sommige van God se grootste dienaars in die Skrif het in persoonlike mislukking geval. Abram het vir die farao oor sy vrou, Sarai, gejok (sien Genesis 12:11-17). Jakob het sy pa om die bos gelei en sy broer se geboortereg gesteel (sien Genesis 27:17-29). Moses was God ongehoorsaam deur uit woede die rots te slaan (sien Numeri 20:7-12). In plaas daarvan dat hulle egter gediskwalifiseer is, is daar ‘…oor hulle almal op grond van hulle geloof met soveel lof getuig…’ (Hebreërs 11:39 NLV).
Hoekom? Omdat hulle hulle sondes bely en God se vergifnis ontvang het. Hulle het met ander woorde geval, maar weer opgestaan. Wanneer jy val, kan jy ook weer opstaan. Dit is die ‘geloof’ gedeelte van jou reis. Wanneer jy bly lê aanvaar jy mislukking – maar wanneer jy weer opstaan word jou geloof geaktiveer!
Sielskos: 1 Kor 7-9; Luk 24:36-44; Ps 127; Spr 10:11
2022-04-09
Esegiël 36:26 ABA
Wanneer jy seerkry, is dit maklik om verskansings op te rig. Wees egter versigtig – ‘n beskermende muur kan in ‘n ‘klip-hart’ verander: wederstrewig, ondeurdringbaar en onontvanklik; selfs vir God.
Een Christenskrywer merk op: ‘Die enigste ding wat pynliker, met ernstiger gevolge, as ‘n gebroke hart is, is ‘n verharde hart. Paulus waarsku ons daarteen om toe te laat dat ons harte verhard: ‘…hulle is ver van God en hulle het nie die ware lewe nie omdat hulle niks van God wil weet nie. Hulle harte is so hard soos klip’ (Efesiërs 4:18 ABA).
‘n Sagte hart is nie swak of naïef nie. Inteendeel, wysheid, ervaring en geloof versterk ‘n hart wat deur deernis verweer en deur barmhartigheid besaai is. Na ‘n week wat soos een pynlike toets op die volgende gevoel het, het ek my beste vriendin in trane gebel. ‘Hoekom eindig dit nie? Hoe sterk wil God hê ek moet wees? Ek kan dit nie langer vat nie!’ Sy het uit haar Godgegewe wysheid geantwoord: ‘Miskien is dit andersom. Jy was nou vir lank sterk genoeg. God wil hê dat jou hart sag en oop moet wees.’
Ek het nie so daaraan gedink nie. Dis maklik om ‘n klip-hart in reaksie op hartseer, verraad of skande te ontwikkel. Ons dink dat dit ons van nog pyn sal beskerm. Die probleem met klip is egter dat dit niks voel nie – nie pyn nie, maar ook nie liefde nie. Dit is ‘n strik wat soos selfbehoud voel, maar inderwaarheid selfvernietigend is. God wil vir jou ‘n hart van vleis gee. Met sy liefde kan jy aan die einde van ‘n pynlike seisoen van verlies met ‘n hart wat toegewyd en gereed is vir die gawes wat Hy vir jou wil gee, na vore kom.’
Sielskos: Lev 15-17; Luk 22:54-62; Ps 25:1-7; Spr 10:1
2022-04-04
Josua 1:9 NLV
Omdat God geweet het watter oorloë hy sou moes veg om die Beloofde Land in te neem, het Hy vir Josua gesê: ‘My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees…’ Jy sal altyd struikelblokke in jou pad hê wanneer jy vorentoe wil beweeg. H.G. Wells het gevra: ‘Wat op aarde sal ‘n man met homself doen, as iets nie in sy pad staan nie?’ Wat het hy daarmee bedoel? Dat teëspoed jou vriend is – selfs wanneer dit soos jou vyand voel. Elke struikelblok waarvoor jy te staan kom, openbaar jou sterkpunte en swakhede.
Die digter Ralph Waldo Emerson het geskryf: ‘Whatever you do, you need courage. Whatever course you decide upon, there is always someone to tell you that you are wrong. There are always difficulties arising that tempt you to believe your critics are right. To map out a course of action and follow it to an end requires some of the same courage that a soldier needs. Peace has its victories, but it takes brave men and women to win them.’
Enige tyd wat jy jou gemaksone verlaat en ‘n tree in geloof neem om God te volg, sal jy getoets word. Jy sal egter hoogtes bereik wat jy gedink het buite jou bereik is en verder gaan as ander mense wat meer talent het, maar met die status quo tevrede is. Paulus sê vir ons: ‘Ons gee nooit moed op nie, ook nie wanneer ons rondgestamp en mishandel word nie. Nee, dan byt ons eers vas, want God is die hele tyd by ons… Ons bietjie swaarkry hier en nou weeg nie op teen al die goeie dinge wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie…’ (2 Korintiërs 4:16-17 DB).
Dapperheid is wanneer jy eenvoudig nie opgee nie.
Sielskos: Lev 1-4; Luk 21:25-38; Ps 18:30-50; Spr 9:7