2021-04-18
Psalm 55:23 NLV
Nadat hy gepreek het oor hoe ons ons bekommernisse in gebed na God toe moet neem, het ‘n dame die groot prediker G. Campbell Morgan genader en gesê: ‘Ek pla God nie met die klein goedjies nie; ek neem slegs die groot bekommernisse na Hom toe.’ Morgan het geantwoord: ‘My liewe dame, alles wat ons na God toe neem is klein.’
Die Bybel sê: ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg…’ God weet dat jy nie gebou is om die gewig van bekommernis te dra nie, dus nooi Hy jou vandag uit om dit vir Hom te gee. Enigiets wat groot genoeg is om ‘n bron van bekommernis te wees, moet in ‘n gebed omskep word. Petrus skryf: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV).
Die oomblik wat jy vind dat ‘n bekommernis op jou begin neerdruk, gee dit vir die Here met die wete dat Hy vir jou omgee. As Hy ‘n ver af God was wat nie vir jou omgegee het nie, sou jy rede gehad het om bekommerd te wees. Of as Hy ‘n swak God was wat niks daaraan kon doen nie, sou jy rede gehad het om daaroor bekommerd te wees.
Die waarheid is dat wanneer jy jou sorge aan God oorgee, jy ontdek hoe groot Hy werklik is. Die liedjieskrywer Joseph Scriven het dit so gestel: ‘Oh, what peace we often forfeit, oh, what needless pain we bear, all because we do not carry everything to God in prayer.’
Sielskos: 2 Kon 6:8-23; Matt 5:43-48; Luk 6:27-36
2021-04-08
Johannes 20:25 NLV
Sommige van ons neem die boodskap van Christenskap en plaas dit in ‘n boks gemerk: ‘Moenie vra nie, moenie vertel nie.’ Die verhaal van ongelowige Tomas leer ons dat dit nie net in die haak is om te twyfel nie – dis soms nodig! As jy dit nie doen nie, sal jy nie groei nie. Jy sal met iemand anders se antwoorde opeindig, wat in baie gevalle onvoldoende antwoorde vir jou sal wees – selfs as jy eerlik genoeg is om hulle te vra.
Vraag: Het ‘n godsdienstige siel wat goed bedoel jou al ooit in ‘n hoek gedruk en jou probeer oortuig dat jou vrae ‘n oortreding teenoor Christus is? As dit die geval is, is dit tyd om weer na die sagte woorde van die Een wat jou twyfel en vrese beter as jyself ken, te luister: ‘Vrede vir jou. Kyk na my hande en voete. Kyk met oë van geloof en glo. Jy is geseënd wanneer jy ten spyte van jou vertwyfelinge glo.’
Jy mag bid: ‘Here, soos Tomas sukkel ek soms met vertwyfelinge. Ek het nog nie al die stukke van my lewe heeltemal bymekaar gesit nie. Dit sal ook nie gebeur totdat ek by U is nie. Dankie dat U my in my worsteling aanvaar en dat U nie my vrae ignoreer nie. Tomas het eindelik die plek bereik waar hy kon sê: ‘My Here en my God!’ Dankie dat U geduldig met my is terwyl ek strewe om ook daardie plek te bereik.’
So, hoe kom ons deur ons vertwyfelinge? Soos Tomas! Deur hulle eerlik in die gesig te staar, hulle na Jesus toe te bring en as gevolg van hulle, geestelik te groei.
Sielskos: Lev 13:38-14:57; Mark 1:9-13; Ps 25:1-7; Spr 9:17-18
2020-11-10
Hebreërs 4:15 NLV
Alhoewel die inheemse Indiane in Amerika nie ‘n formele geskrewe alfabet gehad het voor hulle die Europeërs ontmoet het nie, was hulle taal alles behalwe primitief. Die woordeskat van baie inheemse tale was net so groot soos hulle Franse en Engelse oorwinnaars s’n en hulle uitdrukkings was dikwels baie meer welsprekend. In een taal, word die konsep van die woord ‘vriend’ byvoorbeeld gestel as ‘die een wat my sorge op sy of haar rug dra.’
Wat ‘n wonderlike definisie! Wanneer iemand na jou toe kom vir troos of raad, wil hulle dikwels net iemand hê wat gewillig is om te luister en met wie hulle hul sorge kan deel. Wanneer jou antwoord oppervlakkig is, neem hulle soms aan dat jy nie tyd vir hulle het nie. Een van die mooiste dinge wat in die Bybel van Jesus gesê is, is dat Hy ‘ten volle met ons in ons swakhede [kan] saamvoel.’ Partykeer wil ‘n vriend net weet dat jy verstaan waardeur hulle gaan en dat jy omgee. Hier is hoe jy kan help:
1) Luister met ‘n oop hart, eerder as om hulle probleem te probeer wegpraat.
2) As hulle huil, deel hulle trane. As hulle stil is, deel hulle stilte.
3) Laat hulle weet dat jy beskikbaar is, gereed is om te help en dat jy altyd vir hulle sal tyd hê.
4) Herinner hulle dat mense net soveel self kan doen, maar dat God die onmoontlike kan doen.
5) As hulle jou toelaat, bid vir hulle en saam met hulle. So kan jy help om die las van hulle skouers af te haal en dit op God se skouers te sit (sien Psalm 55:23).
Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Joh 9:24-41; Ps 99; Spr 25:26-28
2020-10-04
Hebreërs 12:1 NLV
Hier is nog twee dinge wat jy moet weet:
1) Die verkeerde mense sal jou seermaak. Daar is ‘n paar tipes mense waardeur jy nooit beïnvloed moet word nie: mense wat altyd jou hulp en aandag nodig het, negatiewe mense, bitsige mense, dreinerende mense, twyfelende mense en mense wat jou aandag aftrek. Wees lief vir hulle en help hulle op enige manier wat jy kan, maar moet nooit deur hulle beïnvloed of gelei word nie. Moedig hulle aan, maar wanneer hulle begin om jou af te trek eerder as om jou op te hef, moet jy jouself van hulle losmaak en hulle aan God oorgee.
2) Die regte mense sal jou help. Wanneer God ‘n taak het wat gedoen moet word, roep Hy ‘n man of ‘n vrou om dit te doen. Hy roep hulle egter selde alleen. Hy roep ander om hulle by te staan en hulle te ondersteun. Dit beteken dat jou gewilligheid om na hulp uit te reik nie ‘n teken van swakheid is nie, maar van krag. Paulus het ‘n hele hoofstuk in die Nuwe Testament gebruik om erkenning te gee aan die mense wat hom gehelp het om sy visie te vervul. Hy het die volgende vir die mense in Filippi gesê: ‘Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God. Ek bid altyd in al my gebede met blydskap vir julle almal omdat julle, van die eerste dag wat julle die Goeie Nuus gehoor het, tot vandag toe saamgewerk het om dit verder uit te dra’ (Filippense 1:3-5 NLV).
As jy wys is, sal jy die dinge wat God jou nie gegee het nie erken, dit aan gekwalifiseerde mense delegeer en met jou kernsterkpunte werk. Dit verg nederigheid van jou, maar in die langtermyn betaal dit goeie dividende!
Sielskos: Est 4:9-5:3; Heb 4:7-16
2020-07-18
Hebreërs 12:2 NLV
Jakobus skryf: ‘Gelukkig is die mens wat in beproewings volhard! As die toets sy geloof as eg bewys, sal hy die lewe as oorwinningskroon ontvang…’ (Jakobus 1:12 NLV). Dink jy daaraan om tou op te gooi? As jy egter jou huwelik, jou loopbaan of jou droom laat vaar, mag jy dalk vir die res van jou lewe daaroor spyt wees. God kan jou versterk en jou ‘n wenner maak, maar slegs wanneer jy op die pad bly. F.B. Meyer het gesê: ‘Jy kan nie die hulpbronne van God toets, as jy nooit die onmoontlike aanpak nie.’ Om tou op te gooi bou nie karakter nie, maar volharding doen. Dit ontwikkel iets in jou wat niks anders kan nie; dis hoekom God dit as iets goeds sien (sien Jakobus 5:11 NLV). Dit ontwikkel moed en dissipline en verander drome in realiteit. Niemand het meer as Jesus van volharding geweet nie. Hy het al die pad tot by Golgota volhard; waar hulle die hare uit sy gesig gepluk het, waar hulle sy vlees met ‘n sweep verskeur het, waar hulle Hom aan die kruis vasgespyker het, waar sy vriende Hom verlaat het, waar omstanders Hom gespot het, waar God sy gesig weggedraai het en waar die hel opgedoem het en geroep het: ‘Gee op!’ Die Bybel sê: ‘…Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur…’ God beloon diegene wat Hom daadwerklik soek (sien Hebreërs 11:6). Hy beloof dat jy Hom sal vind as jy Hom met jou hele hart soek (sien Jeremia 29:13). Hierdie belofte is op jou van toepassing. Sê dus vir God: ‘Ek is van plan om aan te hou en U te vertrou vir die krag om ‘n deurbraak te maak.’ Wanneer jy so bid, sal jy vind dat dit nie so maklik is om tou op te gooi nie.
Sielskos: Hand 6-7; Luk 8:16-25; Ps 140; Spr 16:3